Sien Vroue raak vir die Leiers wat hulle is

Written by Frederick on . Posted in Vrouelidmate

Sien vroue raak vir die leiers wat hulle is.


Frederick Marais


(Geplaas in Kruisgewys 2007)


Ek het nog nooit aan myself gedink as iemand wat diskrimineer teenoor vroue in die algemeen en beslis nie in die kerk nie. Ek was nog altyd ’n voorstaander daarvan dat daar geen diskriminasie teenoor vroue behoort te wees in die kerk nie en dat hulle toegang moet hê tot alle vlakke van leierskap in die kerk. Ek het myself getroos dat so ’n akkomoderende houding outomaties tot gevolg sal hê dat vroue se potensiaal ontsluit sal word in die kerk.  Nadat ek die voorreg gehad het om saam met die ADGO-taakspan navorsing te doen oor die behoeftes van vroue en die ontsluiting van hulle potensiaal in die kerk, is ek ontnugter tov my eie naiviteit en onbetorkkenheid tov die skep van ’n kultuur waar vroue en mans mekaar se potensiaal in die kerk help ontsluit. Elders in hierdie uitgawe sal julle die syfers raakloop, so ek gaan in hierdie artikel fokus op wat met my gebeur het.



  • My oë het oopgegaan daarvoor dat ons as mans onsself troos met die feit dat ons vroue verkies op komitees sonder om die kultuur en die agendas van die komitees te verander. Ons laat vroue-verteenwoordigers op kommissies (reeds hier hang ons onderrok uit)  en taakspanne toe, maar die mans gaan dikwels voort asof hulle nie daar is nie, en as hulle wil deelneem is dit aan die agenda wat deur die mans opgestel is.  Hoeveel keer het ek nie al in taakspanne gesit met een of twee vroueverteenwoordigers wat maar gedweë sit en toekyk hoe mans voortgaan om die ding te doen, met so nou en dan ’n paternalistiese opmerking soos: “… nou hoe  sal julle as vroue nou hieroor dink?”  Ek moet sê as ek die skoen moet aantrek sal ek nie ’n clue hê as ek gevra word hoe mans nou oor die saak sal dink nie!

  • Vroue is al so lank gewoond dat die kerk beheer word deur mans dat hulle dikwels nie eers die verwagting het dat dit anders kan wees nie, en speel dan maar saam op die veld waarvan die mans die lyne getrek het.  Ek het baie hieroor gewonder, hoekom kom hulle nie sterker uit vir hulle perspektief nie.  Is dit dalk omdat ons mans eintlik maar steeds dink dit is ons kerk, en dat ons hulle net so nou en dan raadpleeg om ons gewetens te sus.  Wie is nou lus om dan ’n mening te gee? Die onttrekking van vroue uit die leierskap terrein van die kerk selfs al word dit hulle aangebied, sal nie verander indien daar nie ’n kultuurverandering kom waar vroue kan aanvoel dat hulle meer as net verdra gaan word nie, maar werklik toegelaat gaan word om hulle stempel as vroueleiers af te druk nie.  Soos in alle tranformasie sal dit afhang van hulle in die magsposisie- in die geval die mans, om daardie ruimte te skep.

  • My grootste ontnugtering is dat mans vroue ignoreer as dit kom by leierskap.  Wanneer taakspanne leiers moet kies is dit 9 uit die 10 kere mans, of kerkraads voorsitters, of Sinodes moderators.  Wat eintlik gebeur is dat ons die span klaar saamstel en dan vra maar moet ons nie ook ’n vrou in die span kry nie.  Of as studente uitreikspanne dames en mans leiers het word dit as vanselfsprekend gesien dat die man sal lei en die vrou ondersteun, ongeag hulle gawes. Is dit omdat ons dink dat dit polities korrek is om ’n vroue op die span te hê, of omdat ons werklik die bydrae van ’n vrou wil hê?  Dit terwyl hierdie navorsing getoon het dat dubbeld soveel vroue bereid bereid is om as leiers op te tree as wat in leiersposisies is. Hoe jonger die vroue hoe meer gereed en geroepe voel hulle om as leiers op te tree.  Ek weet baie mense dink dat ons gemeentes se kerklike sisteme nog nie gereed is om vroue te aanvaar as leiers nie, ons moet hulle kans gee.  Ek dink dit is gewoon non-sens wat grens aan ’n sondige dikriminasie van mense wat dit moeilik vind om hulle gemaksone te verlaat.

  • Ek het  ontdek, ja ek moes dit geweet het, dat vroue meestal gebruik word om geld in te samel en om ondersteunings dienste te lewer.  Hulle sorg vir die te ete en die mans neem die besluite.  By hoeveel kerkrade is dit nog die geval dat die vroue tydens die Kerkraadsvergadering die hele tyd in die kombuis sit om die tee en broodjies voor te berei terwyl ’n oorwegend manlike vergadering die besluite neem! Ja ek weet daar is vroue wat graag so ’n diensfunksie vervul en regtig dit as ’n roeping beskou, maar soos ek dinge verstaan behoort daar dan ook mans te wees wat die gawes het om dit te doen, en aan die ander kant vroue wat baie graag in die vergadering sal wil wees om te help om leiding te neem.

  • Nadat ek met vroue oor hierdie resultate begin praat het, het ek bewus geword van ’n pynlike wêreld van vroue in die kerk wat diskriminasie ervaar het.  Baie min praat daaroor, want dan word hulle gebrandmerk as feministies en onsensitief teenoor mans.  Dit is eenvoudig nie veilig vir vroue in ons kerk om eerlik te wees daaroor dat daar teen hulle gediskrimineer word nie, en dit is ons as mans se verantwoordelikheid om dit veilig te maak. As die eerste gesprekke hieroor rou en eerlik is tot op die punt van onsensitiwiteit, moet ons as mans nou ook nie so kleinserig wees nie.  Wat het ons anders verwag om na jare van diskriminasie geprys te word dat ons die amp oopgemaak het! Mans behoort hulleself vir ’n oomblik in die skoene van vroue te plaas, hoe sou ons gemaak het as die deure toebly en as dit oopgemaak word, ons steeds in ’n kamer instap waar ons eintlik maar verdra word en nie gewaardeer word nie?

  • Mans weet nie hoe om hulle te gedra as vroue in die leierskap is nie. Hulle kapituleer of hulle kompeteer en daarom gebeur dit min dat ons by ’n punt kom waar beide geslagte bemagtig voel.  Meermale ontmagtig ons mekaar. Hier het ek meer simpatie met myself as man.  Ek dink ons het dit onderskat hoe onseker mans voel in ’n wereld waarin vroue bemagtig word en ons dan ontmagtig voel. Ek is seker dit kan anders wees, maar daarvoor sal ons moet verby die eerste politiek korrekte gesprekke en houdingkies moet kom, en eerlik as mans en vroue mekaar help om die beste in mekaar te ontsluit.  Ek dink dit eintlik waaroor dit gaan, hoe die gawes wat aan vroue en mans gegee is in die kerk in mekaar se teenwoordigheid ontsluit kan word. Deur stil te bly gaan ons niks vorder hiermee nie.

  • ’n Laaste opmerking.  Die navorsing en opvolg gesprekke het my gehelp om te verstaan hoe belangrik konteks is. Dat dit meer bepalend is as enige ander faktor in die bemagtiging van vroue.  Daar is steeds kontekste wat waar mans die samelewing so totaal beheer dat dit byna onmoontlik is vir vroue om hulleself as leiers uit te leef in die teenwoordigheid van mans. Kontekste waar vroue so afhanklik is van hulle mans, dat hulle eintlik geen ander ruimte gegun word as om ondersteunende diens te lewer nie.  My hart gaan uit na daardie vroue en ek weet ten minste dat dit ons as mans se taak is om dit raak te sien en aan te spreek. Dit sal vir daardie vroue min of meer selfmoord wees om dit op hulle eie te doen. Ek kan ten minste begin om ’n bewussyn hieroor te probeer skep.

 

Vrouelidmate

Written by webmeester on . Posted in Vrouelidmate

Vrouelidmate is ‘n sinodale kommissie wat saamgestel is uit ‘n verteenwoordiger uit elke ring van die Wes-en Suid-Kaap wat die belange van vrouelidmate en vrouebedieninge op die hart dra.

WAT GLO ONS?

Ons glo dat vroue ‘n spesiale geskenk aan gemeentes is, met ‘n ryke verskeidenheid genadegawes, uniek geskep met ‘n fyn aanvoeling vir die behoeftes van mense en die gemeenskap. Ons glo dat vroue met die Here se hulp daarin slaag om geloof prakties uit te leef. Die sinodale kommissie wil ‘n instrument wees wat vroue se potensiaal ontsluit om hul roeping en gawes tot eer van God uit te leef.

WAT DOEN ONS?

  1. ‘n Verskeidenheid dienste word aan alle gemeentes gebied tov die spesifieke behoeftes van vroue en bystand aan gemeentes met ‘n georganiseerde vrouebediening.
  2. Ons bied ‘n wye verskeidenheid toerustingsgeleenthede om vroue te bemagtig vir hulle verskillende rolle en die ontsluiting van hulle gawes. Dit sluit in: opleiding, werkswinkels, konferensies, vrouekampe en leierskapsoriëntering. Kundigheid van buite en binne gemeentes word gebruik.
  3. ‘n Begeleidingsdiens vir gemeentes en vrouebedieninge word voorsien deur fasilitering.
  4. Produkte relevant vir vroue en vrouebedieninge word identifiseer, ontwikkel waar nodig(in samewerking met kundiges) en bekend gestel (bv. Bybelstudiemateriaal wat die behoeftes van vroue aanspreek).
  5. ‘n Tydskrif (Interaksie) word kwartaalliks uitgegee. Dit fokus op aktuele sake vir christenvroue, inligting oor werksaamhede van die kerk waarby vroue belang het en gee ook vir vrouebedieninge ruimte om hulle bedieninge aan mekaar bekend te stel.
  6. Daar word gepoog om vrouebedieninge ingelig te hou oor wat op die diensterreine van die kerk plaasvind – inligting en behoeftes word gekommunikeer.

Personeel

Madelein Gerber

Madelein Gerber

Koördineerder

(t) 021-9577191

(f)0866683871

(Sel) 082 558 3871

(e-pos) mgerber@kaapkerk.co.za

 

Esther Blackaller

Administratiewe beampte

(t)021-9577190

(f)0865247155

(e-pos)ngkvroue@kaapkerk.co.za

 

 

 

 

Vrouelidmate

Written by webmeester on . Posted in Vrouelidmate