• savgg_logo06VENNOOTSKAP VIR GESTUURDE GEMEENTES

    SUIDER-AFRIKA

Woordelys

Written by webmeester on . Posted in SAVGG Artikels

Ná CHRISTENDOM:

’n Beskrywing van die huidige tydgleuf in die westerse kultuur waarin die omgewing waarin gemeentes lewe, nie meer die primêre hulpbronne en ondersteuning vir die maak van dissipels van Jesus bied nie. In die plek daarvan ondersteun families, skole en ander openbare instellings die basiese take van die Christelike lewe – dieselfde instellings wat vyandig of ten beste onpartydig is ten opsigte van die lewe van Christelike dissipelskap. Dit is die tyd waarin die kerk vir ’n nuwe era van sending voorberei.

GEMEENTELIKE NAVORSING:

Dit is ’n kenmerkende en relatief unieke aspek van die Vennootskap vir Gemeentelike Vernuwing. Die lede van die Vennootskap word vennote daarin om navorsing oor hulself te doen. Hulle word uitgenooi om nie net dinge goed te doen nie, maar om te verstaan wat hulle geleer het, sodat hulle dit met ander kan deel.

DIE TOEKOMS WAT GOD VIR ONS VERKIES:

Terwyl niemand daarop aanspraak kan maak dat hulle ’n uitgekoopte plekkie het in die toekoms wat God vir ons verkies nie, waag die Vennootskap vir Gemeentelike Vernuwing dit om op grond van Jesus se belofte (om die Heilige Gees te stuur), die kerk in die waarheid te onderhou. Ons glo dat dié belofte nie slegs geld vir massiewe organisatoriese en institusionele strukture van die Kerk nie. Ons glo dit geld ook  spesifiek vir ons gemeentes waar mense rondom die Woord en Sakrament vergader. Die Vennootskap vir Gemeentelike Vernuwing nooi die gemeentes om hulself oop te stel vir ’n proses van geestelike onderskeiding en om van die Heilige Gees te verwag om hulle in die Waarheid te onderhou terwyl hulle soek na dit waarvoor God hulle roep in sending in hulle wêreld. Die Vennootskap nooi hulle uit om nie net globaal te dink nie, maar Teosentries, d.w.s. ’n Godgesentreerde visie vir sending, as hulle plaaslik optree.

LANGTERMYN PLAN:

’n Enkel-blad-per-jaar dokument wat drie tot vyf fokusareas beskryf wat die bestaande sending van die gemeente laat uitbrei. Die dokument versprei die aktiwiteite wat ontwerp is om die Visie vir Sending oor ’n drie tot vyf jaar tydperk te behaal. So ’n plan begin deur te vra wat moet ons oor vier, drie, twee, een jaar van nou doen, en wat moet ons ses maande en ses weke van nou af doen as ons die Visie vir Sending oor vyf jaar gerealiseer wil sien?

MENTORSKAP:

Die gemeentes van die Vennootskap vir Gemeentelike Vernuwing word gevra om dit wat hulle uit die Vennootskap geleer het, te deel. Hulle word bygestaan deur ’n proses van navorsing en oordenking om dit duidelik te maak wat hulle geleer het; asook hoe hulle dit op die beste manier met ander gemeentes kan deel.

GEFOKUS DAAROP “OM GESTUUR TE WEES”:

Gedurende die tyd van Christendom was dit vir gemeentes moontlik om die instandhouding en bevordering van die Europese kultuur as hulle primêre doel te neem, aangesien dit so nou aan Christenskap verwant was. Gemeentes probeer steeds om die hele Westerse agenda te behou en bevorder, eerder as om te fokus op die unieke sending van die Christelike kerk: ’n uitdruklike getuie van die sending van God in Jesus Christus namens die wêreld. Die Vennootskap vir Gemeentelike Vernuwing help gemeentes om hulself te distansieer van hulle afhanklikheid van ’n versplinterde poging om alle aspekte van die westerse agenda te behou, en om hulle eerder te fokus op die toekoms wat God vir hulle verkies.

MISSIE STELLING:

Een of twee kort sinne wat in duidelike terme vir die gemeente stel wat hulle glo is hulle kern identiteit en doel vir hulle bestaan as geloofsgemeenskap.

VENNOOTSKAP VIR GEMEENTELIKE VERNUWING:

’n Vennootskap van gemeentes, aangewese leiers, die Church Innovations Institute en Buvton wat gemeentes ná Christendom wil help vernuwe. Die hoofdoel is om gemeentes by te staan om die toekoms wat God vir hulle verkies, te onderskei en om ’n stap-vir-stap proses te skep om dit te kan bereik.

TELEFOONKRING

’n Telefoon ondersteuningsnetwerk wat tweemaandeliks met elke gemeente se koördineerder konsulteer om probleme aan te spreek, vordering te bespreek en om aandag te skenk aan die geestelike reis van die leiers en gemeente as geheel.

SMART PLAN VAN AKSIE:

’n Dokument wat min of meer een bladsy vir elke fokus area in die 3-5 jaar Langtermyn plan beslaan. Elke SMART Plan van Aksie bladsy bevat die volgende:

  1. Spesifieke, konkrete doelwitte (wat sal gedoen word en wat sal bereik word)
  2. Sending, uitreik fokus (wie sal bedien word, werklike getalle en mense)
  3. Gesag, toestemming en aanspreeklikheid (wie het die gesag om toe te sien dat die werk gedoen word?)
  4. Beskikbare hulpbronne en hulpbronne wat benodig word
  5. Tydlyn vir implementering

VISIONERING VIR OPTREDE EN OPLEIDING:

Fase 2 van die Vennootskap vir Gemeentelike Vernuwing waarin gemeenteleiers deur ’n aksie/refleksie model sal leer hoe om die proses van geestelike onderskeiding te fasiliteer. Daar is twee sessies in die Opleiding vir Visionering vir Optrede: een om die proses bekend te stel en te loods en een om leiers by te staan met die voltooiing van die proses.

VISIE VIR (MISSIE) SENDING:

’n Visie vir sending is een of twee paragrawe wat die prentjie in ons koppe beskryf van die toekoms wat God vir ons verkies, gebaseer op ’n akkurate begrip van God, onsself en ons omstandighede. Aangesien dit op sending gefokus is, beskryf dit aktiwiteite van lidmate oor die volgende drie tot vyf jaar, en word dit oorgedra aan mense wat nie nou lidmate van enige Christelike gemeente is nie. Dié aktiwiteite moet groei uit die kernwaardes van die gemeente en moet die waargenome en in-diepte behoeftes dien van lede van die gemeentes wat nie aan die gemeente behoort nie. Die persone wat bedien word, moet ervaar dat dié aktiwiteite waarde tot hulle lewens toevoeg. Bondig saamgevat, dis ’n beskrywing van lidmate van die gemeente wat na sentraliseer en omgee: Sentraliseer na die kern van hulle eie geloof, en omgee vanuit daardie kern vir die mense rondom hulle wat kerklos leef.

Missionêre kerk – van sturend na gestuur

Written by webmeester on . Posted in SAVGG Artikels

Cas Wepener is ’n projekbestuurder en navorser by Buvton en bespreek hier die Partnership for Missional Churches-projek wat in 2003 in Suider-Afrika geloods word.  Dit is voorheen in Kruisgewys gepubliseer.

 Regoor die wêreld bevind die kerk haar tans in ’n nuwe era. Veral binne samelewings wat as modern of postmodern getipeer kan word, het die kerk haar vroeëre vanselfsprekend belangrike posisie verloor. Die kerk bevind haarself al meer op die periferie van die samelewing waarbinne sy opereer of funksioneer as die liggaam van Christus. ’n Samelewing waarna dikwels as Na-Christendom verwys word.

Teenoor Na-Christendom verwys die term Christendom na dié tydperk in die geskiedenis van die kerk wat begin het in die vierde eeu by Konstantyn (wat die Christelike godsdiens as ’n wettige godsdiens verklaar het) en Theodosius (wat dit die staatsgodsdiens gemaak het). Sodoende het die Christelike godsdiens vanaf ’n gemarginaliseerde minderheidsposisie van onderdrukking en vervolging beweeg na ’n sentrale meerderheid met ’n posisie van mag en rykdom. So het die kerk een van die ‘magte’ in die ryk geword. Sedertdien het verskeie ander magte egter saamgewerk om die posisie van die kerk in die samelewing te laat kwyn, en in sekere wêrelddele (veral Europa en die VSA) na die periferie van die samelewing te skuif.

Hierdie nuwe posisie van die kerk het teoloë genoop om hulle ekklesiologiese voorveronderstelling in heroorweging te neem. Om opnuut na te dink en te vra “hoe die kerk van Jesus Christus moet kerk wees in hierdie nuwe veranderde konteks?” Watter tipe kerk word benodig om getroue en relevante getuienis van die Evangelie in ’n (post)moderne kultuur te lewer? Hier is voorwaar ook ’n groot uitdaging vir die kerk in Suid-Afrika waar radikale samelewingsveranderinge die afgelope dekade plaasgevind het, te same met bepaalde skuiwe ten opsigte van die reeds gesketste Na-Christendom situasie.

Een van die belangrikste antwoorde op hierdie vrae wat intussen na vore gekom het kan beskryf word as die “missionêre kerk” (Engels: “missional church”). Dit behels dat ’n missionêre ekklesiologie ontwikkel is (vergelyk hier veral die resente werk Missional Church onder redaksie van Darrell Guder, asook die belangrike werk van die Gospel and Our Culture Network, GOCN), wat enkele van die fundamentele voorveronderstellings wat Westerse kerke jeens sending huldig uitdaag. Die oortuiging het gegroei dat veranderinge in die strukture, patrone en vorme van plaaslike gemeentes se bedieninge benodig word voordat die kerk getrou kan wees aan haar sendingroeping. Dit is uiters noodsaaklik aangesien hierdie skuiwe in die samelewing plaasvind, maar vele gemeentes en kerke steeds binne ’n Christendom-paradigma opereer en nie altyd meer seker is oor hoe om ’n alternatiewe gemeenskap te wees nie. Verder het Christendom behels dat die kerk die omringende kultuur (dikwels) onkrities akkommodeer en ook dat sending as die aktiwiteit van enkele individue gesien is. Missionêre kerk-wees beteken dat gemeentes ’n meer kritiese ingesteldheid onwikkel jeens hul omringende konteks, om sodoende as alternatiewe gemeenskap ’n uiters noodsaaklik profetiese roeping daarbinne te beoefen. Terselfdertyd word sending nie net gesien as die taak van enkelinge wat van tyd tot tyd in sendingaksies uitreik na ander plekke om siele te wen vir die koninkryk van God nie, maar as die taak en roeping van die hele gemeente wat op ’n deurlopende grondslag hulle missionêre roeping in die wêreld (ook in hul onmiddellike konteks) uitleef. Sendingwerk behels nie meer net uitreikaksies van sendingorganisasies in die Eerste wêreld na ongekerstende volkere in die Derde wêreld nie, maar die taak van kerke en gemeentes (ook) in hul onmiddellike konteks. Kortom: ’n skuif vanaf ’n sturende na ’n gestuurde kerk.

Hierdie fundamentele skuiwe in die nadenke oor sending en kerk-wees, het die Church Innovations Institute (CII) in St. Paul Minneapolis gestimuleer om ’n program genaamd Partnership for Missional Churches te ontwikkel. Die program is opgestel en staan onder leiding van wêreldleiers en deskundiges op die gebied van teologie, missiologie en ekklesiologie, soos Pat Keifert, Lois Barrett en Pat Ellison, en is alreeds etlike jare gelede in die VSA van stapel gestuur in ’n verkeidenheid van gemeentes. Oor die “Missional” deel van die naam is alreeds die een en ander gesê. Hier kan bygevoeg word dat hierdie projek beoog om gemeentes te help om ’n skuif te maak vanaf ’n kultuurkerk na ’n kerk wat die omringende gemeenskap reflekteer met in agneming van, en ’n kritiese posisie teenoor, die omringende kultuur. (Nie dat die positief opbouende taak van die kerk ten opsigte van haar omringende kultuur hiermee genegeer word nie.) Die “Partnership” gedeelte behels dat ‘n sisteembenadering gevolg sal word waarin netwerke van gemeentes gevorm word om saam te werk aan hul missionêre opdrag. Dat gemeentes hande sal vat op hierdie pad deur van mekaar te leer, van oorwinnings en van foute.

’n Missionêre gemeente sou ook as ’n gemeente met bepaalde styl getipeer kon word. ’n Gemeente wat die Woord van God kan waarmaak en die konteks waarbinne ’n gemeente hulleself bevind kan lees. Met ander woorde, ’n Skrifgetroue kerk wat aantreklik is vir die mens van vandag. Maar hierdie styl vra om ’n bewuste keuse van ’n gemeente om te beweeg van selfonderhoudend na missionêr. Dit vra van ’n gemeente om nie haar eie doel in sigself te wees nie, maar ’n middel tot ’n doel, om haar eie sisteem prys te gee ten einde dit te behou. Die presiese implikasie hiervan sal uiteraard verskil van gemeente tot gemeente.

Buvton het besluit om in te koop op hierdie projek en in samewerking met die CII was die Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes (Partnership for Missional Congregations) in Suider-Afrika in 2003 geloods. Op hierdie stadium is die projek in vyf areas (Namibië, Gauteng, Wes-Kaap, Oos-Kaap en Suid-Kaap) geloods en sal inisieël oor ’n periode van vyf jaar strek. Prof. Pat Keifert het spesiaal hiervoor in Augustus 2003 al vyf die streke besoek ten einde hierdie loods-sessies persoonlik te behartig. In 2004 is nog ’n aantal “Partnership-clusters” gevorm, en die droom bestaan dat hierdie proses vir ’n geruime tyd sal voortduur totdat ’n groot netwerk van missionêre kerke gevestig is in Suider-Afrika. As proses val dit in vier oorkoepelende fases uiteen:

Fase 1: Bewusmaking. In hierdie fase sal gemeentes hulleself (hede en verlede) deur middel van aktiewe navorsing en met behulp van onderhoudvoering en die bestudering van bestaande dokumente analiseer en interpreteer. Sodoende kan gemeentes ontdek wie hulleself is, asook wie hulle vennote is. Hierdie fase duur tussen 3 tot 5 maande en betrek 10% van die gemeente.
Fase 2: Visionering. Dit is die fase waarin ’n missiestelling geformuleer word, asook ’n visie vir die taak van die gemeente en ’n plan van aksie op die tafel geplaas word. Gemeentes vra in hierdie fase bewustelik die vraag: “Wat is God se roeping vir ons gemeente?” In hierdie fase sal ’n reeks dokumente geproduseer word waarin die gemeente se visie vervat is. Hier word 25% van die lidmate betrek.
Fase 3: Leer en groei. Hierdie is die langste fase ten einde te verseker dat ’n gemeente ten volle besef en verstaan wat hulle doen en wil doen in hierdie proses, en om lidmate sodoende die geleentheid te bied om die proses bewustelik toe te eien. Hierdie fase kan etlike jare omvat, afhangende van hoeveel ’n gemeente moet/wil leer en betrek 50% van die gemeente.
Fase 4: Uitreik en mentor. Die basiese voorveronderstelling van hierdie fase is dat God se sending verder strek as net een plaaslike gemeente en dat getroue rentmeesterskap van die spesifieke gawes en ervarings wat God aan ’n gemeente gegee het, beteken dat ’n gemeente dit ook sal deel met ander gemeentes wat hulle vennote is in die doen van God se wil in die wêreld. Hierdie fase beoog om 70% van die gemeente te betrek.

Oor die algemeen beskou, beoog hierdie proses om die ekklesiologie van missionêre gemeentes te implementeer deur netwerke van gemeentes in verskillende streke in Suider-Afrika te vestig en meer lidmate betrokke te maak by die sending van die gemeente (vergelyk die toename in deelname van lidmate vanaf fase 1 tot 4). Die presiese wyse waarop die fases geïmplementeer word en verloop help lidmate om groter eienaarskap van die proses en gevolglik ook die sending te neem, en hulleself sodoende te verbind tot dissipelmaking. Die sterkpunte van die tradisie word gebruik te same met vaardighede om verandering te bestuur sodat ’n gemeente uiteindelik binne haar eie konteks ’n gasvrye uitnodigende gemeente kan wees as instrument van die missio Dei. Die sending van die gemeente is uiteindelik altyd God se sending wat hy deur Christus en die Heilige Gees in hierdie wêreld volvoer. En die Partnership-projek wil in diens hiervan staan op ’n wyse wat pas by die situasie waarin die gemeente haarself vandag bevind.

Bronne

Bosch, D.J. 1991. Transforming Mission. Paradigm shifts in theology of mission. Maryknoll, NY: Orbis Books.

Church Innovations Institute. 1997. Partnership for Congregational Renewal Notebook.

Goheen, M.W. 2000. “As the Father Has Sent Me, I Am Sending You”: J.E. Lesslie Newbigin’s Missionary Ecclesiology. Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum.

Goheen, M.W. 2002. “The Missional Church: Ecclesiological Discussion in the Gospel and Our Culture Network in North America”. Missiology Vol. XXX Nr. 4, 479 – 490.

Guder, D.L. (red.). 1998. Missional Church. A Vision for the Sending of the Church in North America. Grand Rapids, Michigan/ Cambridge, U.K.: W.B. Eerdmans Publishing Company.