Charismatiese invloed ‘n Trojaanse Perd?

Written by Frederick on . Posted in Artikels

Charismatiese invloed – ’n Trojaanse Perd?


Prof Kees van der Kooi


Lesing in Port Elizabeth Augustus 2008


Opsomming deur Danie Mouton


Die Charismatiese beweging, vertel hy, is sterk deur Pentakostalisme beïnvloed en staan vir:



  • Maksimale deelname van soveel as moontlik mense aan die gemeentelike bediening;

  • Die vertroue dat God in die hede kan handel;

  • Alle menslike fakulteite word by God se werk ingeskakel, bv die vermoë tot visioene, drome, intuïsie;

  • Inskakeling van die liggaam by bv die erediens – vandaar die grootskaalse liggaamlike betrokkenheid (beweging, dans) in charismatiese eredienste;

  • ’n Holistiese visie op die heil – liggaamlike genesing bv is belangrik.

Volgens Van der Kooi is daar kritiese punte van diskussie met die Charismatiese Beweging nodig rondom aspekte soos:



  • Die doop met die Gees – is dit ’n afsonderlike moment na die bekering?

  • Profesie: verskil profesie, as aktuele spreke van (namens) God in die hede van die Woordbediening?

  • Wat is ons visie op kultuur? Red Christus ons van ’n sinkende skip, die wêreld, wat boos is en aan Satan behoort, of stuur Hy ons na die kultuur met die oog op die heiliging daarvan?

  • Visie op die kerk. Pentakostalisme is kongregasionalisties.

 


Waar is integrasie moontlik?


1.  Verborgenheid van God: Van der Kooi wys op die modernistiese (wetenskaplike wêreldbeeld) opvatting dat God verborge is, en dalk net af en toe sy vinger iewers in die klokwerk van die skepping indruk om iets “bo-natuurliks” te doen. Kerklik-teologies lei dit tot groot skroom – ook by Gereformeerdes – om oor die onmiddellike aanwesigheid van God te praat.


Hierdie skroom is vreemd aan Calvyn, wat veel maak van die teenwoordigheid van God in die wêreld. Abraham Kuyper werk ook met hierdie konsep in bv sy leer oor die Heilige Gees. Ons kan leer by die Charismatiese aksent op die teenwoordigheid van God en God se aktiewe werk in die wêreld.


2.  Die Gees as Lewegewer:  Fisiese lewe en genesing, die Gees as Lewegewer, gryp direk terug op die Belydenis van Nicea. Ons kan meer maak oor die beliggaming van lewe ook in ons kultuur.


3.  Die Gees bemagtig: “Power” is ’n baie belangrike term in die Charismatiese Beweging, (Dink maar aan John Wimber se boeke oor power evangelism en power healing). Die wyse waarop mense in die charismatiese beweging bemagtig word tot aksie, is merkwaardig. Daar is ’n direkte kulturele beïnvloeding en vorming deur die bevrydende en bemagtigende werk van die Gees. Figure soos Martin Luther King, Alan Boesak en Desmond Tutu verteenwoordig o.a. die politieke dimensie van die bevrydende werk van die Gees.


4.  Trinitariese raamwerk van die werk van die Gees: Hierdie was vir my verreweg die mees interessante gedeelte van Van der Kooi se uitstekende voordrag. Hy het verwys na die wyse waarop die Gees die Triniteit verbind en onderskei – spesifiek ook in die missie na en gerigtheid van die gemeenskap tussen Vader, Seun en Gees op die wêreld. Hier kan Gereformeerdes ’n belangrike inset in die gesprek met die charismatiese beweging maak. Die onderwaardering van die Vader by charismate lei tot ’n onderwaardering van geskapenheid en kultuur.


5.  Lyding:  die charismatiese beweging het nie voldoende oog vir die voortduur van lyding nie – is eintlik verleë daarmee – omdat die betrokkenheid van die Gees by die liggaamlike offer van Christus en die voortdurende lyding van sy liggaam nie verreken word nie.  Die skepping sug na vernuwing.


Van der Kooi het gewys op ’n onverantwoordelike teologie wat die voortduur van lyding toeskryf aan ongeloof. Hy was ook krities oor die hantering van die gawes van die Gees wat in charismatiese kringe nie voldoende rekening hou met die feit dat die Gees dit gee soos Hy wil en aan wie Hy wil nie. Verder moet ons onthou dat die gawes gegee word vir die opbou van die liggaam, en nie maar net vir die bemagtiging van die indiwidu nie.


 


Die Gees gebruik al ons vermoëns – implikasies vir die erediens


Binne die raamwerk van dialoog tussen die charismatiese beweging en Gereformeerdes het prof Van der Kooi (sien ook vorige paragraaf) heelwat oor die erediens en die vernuwing daarvan gepraat.


Dit word algemeen aanvaar dat die menslike oor / gehoor-sintuig vir Gereformeerdes die ontmoetingspunt tussen God en mens is. Ons hoor die Woord. Dit het ’n beslissende invloed op ons verstaan van die erediens. Die gesproke uitleg van die Woord stempel die wese van die erediens.


Luister is ’n passiewe aksie.


Van der Kooi het heelwat insette gelewer hieroor. Die Gees skakel al ons vermoëns en sintuie in: gehoor, sig, voel, smaak, reuk. Dit moet in die erediens weerspieël word.


Teologies gesproke beteken dit die sakramente, en die wyse waarop dit bedien word, word in so ’n benadering belangriker. Die geluid van water by die doop, die hoeveelheid water, die sien hoedat water spat. Hy was baie krities op die verskraling van die doopbediening deur slegs ’n paar druppels op die dopeling se voorkop te drup. Onderdompeling, ook van kleingoed, is sterk aanbeveel.


Van der Kooi het die rol van musiek en beweging ook beklemtoon. Hy is krities teenoor die soort gospelliedjies wat in die charismatiese tradisie gesing word, en wat hy in Gereformeerde eredienste met bands waarneem. Die band is goed, maar sing dan die breë spektrum van geloofsliedere – wat ook klaagpsalms insluit – met die band – nie net soetsappige, indiwidualistiese opwekkingsliedjies nie.


Die Gees gebruik musiek inderdaad. Goeie musiek met ’n verskeidenheid instrumente is wat die Bybel (psalmboek) ken.


Die daadwerklike gebed vir siekes in die erediens verdien ook aandag. Voorbidding deur die gemeente vir die wêreld. Ook ’n geleentheid vir die getuienis van mense om te vertel hoe die Gees in hul wêreld werk, is belangrik. Laat pyn en vreugde in die erediens tot sy reg kom, sê Van der Kooi. Getuig daaroor – oor mislukking, oor die worsteling om te glo, en oor die vreugde van God se sorg en die oorwinning wat die Gees gee.


Van der Kooi glo ons kan gerus ook siekes in die diens salf – met geurige olie. Die salwing verteenwoordig ons versugting in lyding, en ook ons hoop op die Drie-enige God.


 


 


 

Trackback from your site.

Leave a comment