{ARGIEF}

Enegriepunte in gemeentes

Frederick Marais

Baie mense  wonder of daar enige energie in gemeentes is vandag.  In die afgelope jaar het ek by baie gemeentes gekom en ‘n ander prentjie gekry as wat ek verwag het.  Dit hang natuurlik af van  wat met energie bedoel word?  Is dit energie om te oorleef, is dit om te bly voortbestaan, is dit om die koninkryk te laat kom wat is dit?  Ek gaan dit eenvoudig maak deur te fokus op die toekomsgerigte energie wat ek by gemeentes waarneem.  So ‘n paar jaar gelede het ‘n mens gevind dat baie gemeentes eintlik maar met hulleself besig is en dat hulle in die proses maar net probeer om te oorleef.  In my werk met gemeentes tel ‘n nuwe tendens op.   Daar is ‘n duidliker fokus op die toekoms.  In sommige gevalle kan ‘n mens self praat van ‘n verwagting dat gemeentes deel wil vorm van die toekoms en dan veral die toekoms van hierdie land.  Ek kan natuurlik nie ‘n volledige lys gee nie, daarvoor is die kerkbode te klein en noem daarom ‘n paar wat spontaan by my opkom.

 

Hiermee is ons sommer by die eerste energiepunt:‘n  fokus op die gemeenskap waarin ons leef. 

‘n Mens is verstom watter kreatiewe maniere daar in gemeentes na vore kom waarmee gemeentes betrokke raak by die nood in die gemeenskap waarin hulle leef.  Ek hoor dit byna soos ‘n refrein, ons wil nie meer ‘n kerk wees net ter wille van onsself nie, ons wil ‘n verskil maak in die gemeenskap. Ek is daarom seker dat die Jaar van Hoop inisiatief  vir baie gemeentes goeie nuus gaan wees.  Dit gaan geval wees van ‘n Sinodale- en ‘n grondvlak-inisiatief wat mekaar se hande gaan vat en hopelik meer gaan wees as net ‘n jaar van hoop en miskien eerder ‘n seisoen van hoop of ‘n tydvak van hoop gaan word.

‘n Tweede energiepunt is die diversiteit in gemeentes. 

Ons is nie meer in ‘n kultuur waar mense dieselfde dink, droom en doen nie.  Aanvanklik was dit vir gemeentes ‘n skok dat almal in die gemeente nie wil inval agter elke inisiatief nie.  Vir ons predikante miskien nog swaarder dat een preek nooit meer vir almal iets beteken nie.  Ek kry al hoe meer gemeentes wat divirsiteit nie meer sien as ‘n bedreiging nie maar wat dit sien as ‘n geleentheid.  Waar gemeentes dit begin verstaan ontstaan daar nuwe energie, raak mense meer bewus hoe interafhanklik hulle van mekaar is.  Wanneer gemeentes die diversiteit begin geniet vind ‘n mens byna altyd ‘n feestelikheid en ‘n onspannentheid in die gemeente.

Die derde energiepunt sluit hierby aan.  Daar is ‘n beweging weg van formalisme na meer ontspanne, informele, vriendelike en meer menselik aanpak van sake. 

Dit vind ‘n mens nie net in kerkrade en by eredienste nie, maar ook in die sinodale strukture- selfs wanneer die moderamen bymekaar kom is daar ‘n gemaklikheid wat jou verstom.  Ons is lank nie meer die stywe formalistiese kerk van ‘n dekade of wat gelede nie, en ek dink dit het tyd geraak dat ons die openbare beeld van ons kerk in lyn bring hiermee.  Dit is moeilik om hierdie energiepunt vas te vat omdat dit soveel gesigte het, maar miskien is dit die beste om te se dat ons meer menslik geraak het, meer oop geraak het vir mekaar.  Dit sluit onder andere in dat mense meer bereid raak om hulle gebrokenheid met mekaar te deel en vir mekaar om te gee.  Die duisende kleingroepe in gemeentes moes sekerlik hiertoe bygedra het, maar dit kan ook wees dat die tye waarin ons leef ons noop om net meer eerliker te wees oor onsself.

Die volgende energiepunt is ‘n behoefte aan ‘n verdiepte spitirualiteit.

Dit is verassend en wonderlik om te sien en te hoor hoeveel meer moeite daar met eredienste gedoen word om lidmate te help om ‘n ontmoeting met God te ervaar.  Ek hoor ook al hoe meer van gemeentes en dominees wat nie maar net gaan kamp soos in die verlede nie, maar wat op ‘n retreat gaan waar daar in stilte in rustigheid nagedink kan word oor jouself en oor God en jou verhouding met God.  Byna elke gemeente waar ‘n mens kom het die biduur plek gemaak vir ‘n gebedsaksie en so kan ‘n mens voortgaan.  Daar is ‘n diep soeke na God, mag ons in die gemeentes die geleentheid benut.

‘n Laaste energiepunt is die gesin of die familie.  By baie gemeentes vind ‘n mens nuwe aksies of diensgroepe wat dinge reel vir die families.  Kindereredienste word familiedienste ens.  Dit het te make met die krises waarin families hulle bevind.  Rolle is nie meer so duidelik nie, disipline het moeiliker geraak en ons almal het minder tyd as voorheen.  In gemeentes waar daar hulp gebied word vir families is daar groot dankbaarheid en inisiatief.