{ARGIEF}

Die vraag of langverlof vir predikante nie beter benut kan word in
die vorm van ‘n sabbatsrus nie, het reeds tydens die Algemene Sinode in
2007 ter sprake gekom. Die SKP in Wes-Kaapland het ‘n klein
studiegroepie gevorm om oor die saak te begin nadink. Dr. Jannie le
Roux het die volgende stuk op die tafel gesit as ‘n
besprekingsdokument. Ons sal graag kommentaar en voorstelle ontvang
sodat die gesprek oor ‘n moontlike sabbatsrus vir predikante aan die
gang kan kom. Dankie vir julle deelname!

Wilhelm Burger (namens SKP)

SABBATSRUS

INHOUD:

1. Agtergrond
2. Doel
3. Beleid
4. Proses
5. Aansoek

1. AGTERGROND

Gesonde, entoesiastiese gemeentes word gelei deur gesonde, vreugdevolle predikante.

Hierdie dokument is geïnspireer deur die volgende:

a. die versorging van predikante om hulle te help tot ’n vreugdevolle bediening
b. die herhaaldelike stemme wat opgaan teen die praktyk van die huidige langverlof
c. die praktyk van sabbatstyd wat al vir verskeie jare in ander geloofsgemeenskappe effektief werk.

Ons is bekend met die Bybelse ritme van “sabbat” (Latyn sabbaticus,
Grieks sabbatikos, Hebreeus shabbathon). In die Bybel word op plekke
soos Levitikus 25 deur die Here aangedui dat die Sabbatsrus selfs vir
’n jaar gehou moet word na ses jaar van bewerking. Jesus self het
gereeld weggebreek vir tye van innerlike vernuwing. Of dit in ’n boot
of teen ’n berg is, Hy het die kontakgeleenthede met sy Vader as uiters
noodsaaklik vir sy bediening beskou.

In die moderne tyd het hierdie “sabbatical” in akademiese en ander
kringe die betekenis gekry van ’n tyd weg vir navorsing of om ’n
bepaalde doel te bereik. Bekend in Suid-Afrika is die Sabbatsjaar van
Koos Bekker, CEO van die Naspers groep. Bekende atlete en persone in
ander beroepe het reeds van so ’n tyd gebruik gemaak om met nuwe passie
terug te keer.

In verskeie geloofsgemeenskappe is dit reeds ’n algemene gebruik. In
die VSA het persone selfs die luukse van die sogenaamde Lilly Endowment
wat aan hulle ’n bepaalde finansiële bedrag toeken om vir die tydperk
se kostes in te staan. ’n Vinnige internet soektog dui aan dat die
periodes wissel van een tot drie maande vir predikante na ses of meer
jare diens. Almal is dit eens dat dit ten minste vir vier weke
ononderbroke moet wees.

’n Bekommernis is dikwels hoe dit betaal gaan word, want die gebruik
raak nie net die predikant wat met rus vertrek nie, maar ook die
gemeente wat vir daardie diens moet instaan by wyse van ’n aflos of
ander hulp. Dit blyk uit die navorsing dat dit nie onoorkomelik is nie,
maar wel beplan moet word. Sabbatstyd is dikwels ’n tydperk waarin die
passie en gawes van gemeentelede tot hulle reg kom in die aanvaarding
van verantwoordelikhede en geestelike gawes. Dis ons hoop dat dit kan
lei tot ’n nuwe dimensie in beide die predikant én die gemeente se lewe.

2. DOEL

‘n Sabbatsrus het ten doel om ons weer in pas te bring met die ritme
van genade. Hoewel ons bely dat ons deur genade alleen gered word,
verval ons met die verloop van jare en as gevolg van al die
verskillende verwagtings in ’n soort werksgeregtigheid. Ons voel ons
het net betekenis as ons oorbeskikbaar, oorwerk en oormoeg is. ’n
Sabbatsrus moet ons help verstaan dat ons uit die genade van God alleen
kan leef.

Dis die tyd vir die re-kreatiewe (her)ontdekking van ons roeping en
visie, die vernuwing van ons passie, die herrangskikking van
prioriteite en waardes, en die versorging van noodsaaklike verhoudings.
Dis om met intensionele ontdekking en refleksie Gód te ontmoet en weer
die kreatiwiteit en entoesiasme vir ons besondere roeping en lewe te
herwin. Hierin ontdek ons dat God ons kom ontmoet op sy tyd, omdat ek
’n slag net ÍS. ’n Sabbatstyd bring die being-funksies weer in pas met
die doing-funksies wat neig om ons menswees oor te neem in die mantra
van produktiwiteit. Na so ’n tydperk weg, begin gewoonlik ’n nuwe
hoofstuk in die gemeente se storie.

Sabbatstyd vervang nie die noodsaak van gereelde selfsorg en
geestelike groei nie. Tog is dit ’n noodsaaklike bousteen in die
handhawing van ’n volhoubare langtermyn bediening in die bepaalde
gemeente en gemeenskap.

Hoewel ons nie weer wetties hieroor moet raak nie, sal ons dit móét
struktureer om dit in te bou in die heilsame versorging van die
predikant. Strukture bepaal gedrag. Om roepingsgedrewe te lewe as
predikant, moet ons die strukture daarvoor skep. Ons moet tyd daarvoor
struktureer (kronos), sodat ons die volheid van die oorvloed van Jesus
en sy opgestande Teenwoordigheid kan beleef as vervulde tyd (kairos).
Daarom is dit belangrik om hierdie Sabbatsrus te onderskei van gewone
vakansie of ’n blote wegbreek.

Hierdie strukturering help ons om weer perspektief te kry deur
a. afstand te kry van ons daaglikse werk
b. tyd te gee vir noodsaaklike refleksie oor ons roeping en lewe
c. nuwe inligting om nuwe denkpatrone te vestig
d. nuwe gewoontes aan te leer om ’n vreugdevolle bediening mee te bring.

Dis nie net die predikant wat hierdie sabbatstyd nodig het nie. Die
gemeente en personeel het ook hierdie tyd nodig. Die sabbatstyd is nie
‘n “beloning vir goeie werk” of net iets om die predikant gelukkig te
hou nie. Dis ook nie gewone verlof nie. Dit is ’n belangrike komponent
van die versorging en groei van die geestelike leier.

Roy M. Oswald (Why You Should Give Your Pastor a Sabbatical, Alban
Institute), ‘n Lutheraanse pastor wat as senior konsultant by die Alban
Institute werk, bied verskeie motiverings aan. Opsommend kan die
volgende aangedui word:

‘n Pastorale Sabbatsrus:
•    Moedig langer bedieningstermyne aan. Gemeentes slaag nie met
langtermyn doelstellings sonder langtermyn bedienings nie. Wanneer ‘n
verandering in predikantspos is, kan meer as vyf jaar verloor word voor
ontwikkeling en groei gebeur (insluitend ‘n paar jaar van uitbranding
voor die predikant bedank, ‘n interim of oorgangspastoraat plaasvind,
en ‘n paar jaar vir die nuwe predikant om die gemeente te leer ken en
hulle te lei in ‘n strategiese rigting).
•    Dra by tot geestelike groei. Geestelike groei gebeur nie toevallig
nie, maar deur doelbewuste opsysit van tyd vir lees, gebed, afsondering
en refleksie. Vir sommige mag die groei ‘n studieprogram of ‘n retraite
wees of om saam met ‘n mentor te werk of te reis na toepaslike plekke.
Om doelbewus geestelik te groei is moeilik as daar meer as 45 uur per
week gewerk word.
•    Herfokus bedieningsbenadering. Die pastor is nie net ‘n geestelike
leier nie, maar is ‘n korporatiewe leier ook. Daarom het die predikant
‘n hele arsenaal van vaardighede nodig om effektief te wees. Bowendien
verander die bediening deesdae vinnig, en nuwe maniere moet ontdek word
om nuwe en jonger mense met die evangelie te bereik. ‘n Sabbatsrus bied
dei geleentheid om van ander te leer, om vaardighede aan te leer, en
terug te keer na die gemeente met nuwe idees en ‘n nuwe
lewenskragtigheid vir leierskap.
•    Verhoed uitbranding. Mense in die helpende professies is geneig om
die gouste aan uitbranding te lei, veral vanweë die konstante en
intieme betrokkenheid by die emosionele lewe van ander.
•    Versterk gemeentelike leierskap. Hoewel sommige bedieningstake
spesifieke opleiding en bemagtiging vereis, kan baie take deur die
leierskap van gelowiges bedien word. ‘n Sabbatsrus gee die gemeente
kans om rolle in die gemeente te ontwikkel wat die gawes uitoefen
waarmee die lede deur God geseën word.

3. BELEID

Die Algemene Sinode sou kon besluit:
Om predikante te begelei tot ’n vreugdevolle bediening, moet predikante
na elke ses jaar in dieselfde werkkring die daaropvolgende jaar vir
sestig (60) dae ’n sabbatstyd neem.
a. Sabbatstyd word bereken teen tien (10) dae per jaar.
b. Met toestemming van die kerkraad kan sabbatstyd tot negentig (90)
dae opgeloop word, met die verstandhouding dat dit geneem móét word na
die negende jaar in dieselfde werkkring.
c. Sabbatstyd vervang die sisteem van langverlof.
d. Sabbatstyd is nie uitbetaalbaar nie.
e. Sabbatstyd geskied met volle behoud van traktement, toelaes en ander voordele.
f. Sabbatstyd moet ten minste een jaar voor die tyd met die kerkraad uitgeklaar word.
g. Gedurende Sabbatstyd mag die predikant geen van die gewone
gemeenteverpligtinge geassosieer met predikantswerk (dus ook nie
sendingwerk ens.) doen nie.
i. Hy/sy moet verkieslik nie in hierdie tyd in die gemeente bly nie.
j. Hy/sy mag nie ander werk doen waarvoor hy/sy vergoeding ontvang nie,
tensy hierdie vergoeding aan die kerkraad van sy gemeente uitbetaal
word.
k. Sabbatstyd is aaneenlopend.
l. Indien ’n predikant van standplaas verwissel of na ’n ander
werkkring gaan en die sabbatstyd is nie geneem nie, verbeur hy/sy dit
sonder enige kompensasie van geld of tyd.
m. ’n Afskrif van die aansoek asook die terugvoer moet binne ses weke
na terugkeer aan die SKP asook VBO-kommissie voorsien word vir VBO
akkreditering.

4. PROSES

Die predikant moet ’n sabbatstyd beplan wat pas by sy of haar unieke
persoonlike behoeftes. ’n Geskrewe Sabbatsrus plan gee fokus, asook ’n
ooreengekome doel vir die tydperk weg.
Geen spesifieke modelplan word voorgeskryf nie. ’n Moontlike program
kan ’n ononderbroke tydperk vir lees, skryf, navorsing, studietoer na
religieuse plekke, reis in die algemeen, stil tye vir rus en gebed,
spesiale besoeke aan familie en vriende en nog baie meer insluit.
Gewoonlik word verskeie van hierdie aspekte gekombineer vir ’n
gebalanseerde program. Die SKP kan met die beplanning help. Daar moet
gewaak word teen te veel items in te sluit op die agenda, en die
noodsaaklike doel van rus en innerlike vernuwing verby te jaag.

Vyf fases is van belang:
1.    Vooraf nadenke en beplanning vir aansoek
2.    die aansoekproses
3.    die goedkeuring
4.    die sabbatsperiode self
5.    die terugkeerproses en opvolg

1. Vooraf nadenke en beplanning

Hoe beter die vooraf nadenke en beplanning gedoen word, des te
makliker volg die res. Die hulp van SKP is beskikbaar in die beplanning
van die Sabbatsrus.
In hierdie fase moet antwoorde op die volgende verkry word:

Gemeente:
Wanneer gaan die verlof geneem word?
Watter voorsiening vir eredienste gaan gemaak word?
Watter voorsiening word gemaak vir ander werksaamhede normaalweg deur predikant verrig?
Watter persone moet bemagtig word vir al die bedieninge/aksies wat moet
plaasvind waarvoor die predikant altyd verantwoordelik is?
Watter finansiële reëlings moet die gemeente tref?
Wie gaan optree as koördineerder van die proses?
Wie gaan reël dat die predikant voortdurend in gebed opgedra word in hierdie tyd?
Hoe gaan aan die gemeente gekommunikeer word indien die predikant vir hierdie periode steeds binne die gemeente woonagtig is?

Predikant:
Watter inhoud sal ek graag aan die Sabbatsrus wil gee? (onthou om ook tyd om te rus in te bou!)
Idees:
•    Neem deel aan ’n pelgrimstog of retraite
•    Besoek ander gemeentes wat ‘n effektiewe bedieningstyl het
•    Reis na heilige plekke of plekke van kerkhistoriese belang
•    Woon konferensies vir geestelike sowel as leierskapsontwikkeling by
•    Besoek gereeld ’n mentor vir geestelike leiding
•    Volg ’n leesplan
•    Begin ’n studierigting
•    Hou daaglikse joernaal van jou geestelike reis

Bullock (Richard Bullock & Richard J. Bruesehoff, Clergy
Renewal: The Alban Guide To Sabbatical Planning Alban, 2000)  suggereer
dat jy jou sabbatstyd inrig volgens drie blokke:

o    Resting—sleeping late, exercise, recreational reading, visiting friends and family, hiking, engaging a counselor
o    Renewal—Focused study, retreats
o    Rebirth—Travel, focused reading, engaging a spiritual director

Moontlike vrae aan jouself vir hierdie tyd:
•    In watter areas van my lewe het ek weer inspirasie en hoop nodig?
•    Hoe kan ek my roeping en visie verdiep tydens hierdie tyd?
•    Wat sou ek graag wou ervaar en leer in my sabbatstyd?
•    Watter areas van my lewe en werk het tans die grootste stres?
•    Watter sterkpunte, vaardighede en gawes kan ek uitbou in hierdie tyd?
•    Waarop hoop ek op God in my gebede?
•    Wat sal ek eerste doen?
•    Hoe sal my huislike lewe anders uitsien in hierdie tyd?
Met wie sal ek wil gesels om meer uit te vind oor moontlikhede vir hierdie proses?
Wanneer gaan ek die verlof neem?
Hoe gaan die tydslyn binne die Sabbatsrus verloop?
Watter reëlings gaan ons as gesin tref om mekaar se belange in ag te neem?
Watter finansiële begroting het ek nodig vir die doel?
Koste van studie/boeke/reis/verblyf
Onthou: beplan meer “wees” as doen!

2. Die aansoekproses

Gemeente:
Is die predikant se voorstel vir die tydperk realisties?
Watter belangrike terugvoer sal ons aan ons predikant wil gee vir wat
ons dink belangrik is vir hom/haar om te sien gebeur in hierdie tyd?

Predikant
Vul die nodige vorms vroegtydig in en besorg ’n jaar voor die tyd aan die kerkraad.

3. Die goedkeuring

Gemeente:
Is al die vorms deeglik ingevul?
Is goedkeuring by ’n kerkraadsvergadering verleen?
Indien daar leemtes is, wie word aangewys om dit te bespreek en af te handel met predikant?
Keur ten minste ses maande voor die tyd goed.

Predikant:
Is die nodige goedkeuring by die kerkraad verkry?

4. Die Sabbatsperiode self

Gemeente:
Is die interim-hulp in plek?
Is daar iemand geïdentifiseer wat in uitsonderlike krisisse navraag kan doen by die predikant?
Is die persone verantwoordelik vir die bedieninge/aksies in afwesigheid van die predikant in plek?

Predikant:
Hou ek by die plan?
Vrae aan jouself:
•    As ek terugkyk na aftrede, wat sou ek graag wou beleef het in die volgende paar jaar?
•    Wat moet ek laat los?
•    Wat is my roeping en kernwaardes, en hoe moet ek my bediening daar rondom struktureer?
•    Watter veranderinge sal ek graag wil maak in my lewe en werk?
•    Met wie gaan ek oor die veranderinge praat om my te help om dit deur te voer?
•    Watter aspekte van my Sabbatsrus sal ek graag mee wil volhou, en hoe gaan ek dit doen?

5. Die terugkeerproses en opvolg

Om terug te keer van ’n sabbatstyd moet daar rekening gehou word met
’n tyd van heroriëntasie en aanpassing. Moenie te veel dinge dadelik
wil aanpak nie. Beplan ook die terugkeer.

Gemeente:
Reël vir terugvoer aan Kerkraad en gemeente van die hele proses.
Watter gesprek moet plaasvind rondom die rol van die predikant en die
rolle van gemeentelede aan die hand van elkeen se gawes en passie?

Predikant:
Skryf ’n kort verslag vir terugvoer aan die Kerkraad en gemeente.
Vertel die Kerkraad en gemeente van die innerlike vernuwing wat plaasgevind het.
Stuur ’n afskrif van die aansoek asook terugvoer aan die SKP en VBO-kommissie vir VBO-akkreditasie.

5. AANSOEK

Naam en van:
Datum:
a. Skryf ‘n opsommende stelling wat die oorwegende doel en aard van die
vernuwingsprogram is wat jy beoog. Aktiwiteite wat jy beoog, moet
hieruit voortvloei.

b. Dui aan waarom jy dit essensieel in beide jou eie én die gemeente
se verhaal beskou om juis hierdie tyd as toepaslik te beskou om die
sabbatstyd aan te pak.

c. Beskryf watter voordele en uitkomste jy sien vir beide jouself en
die gemeente deur die Sabbatsrus en die spesifieke aard daarvan.

d. Verduidelik jou plan vir die tydperk met ‘n tydslyn/indeling wat
alle tyd en aktiwiteite vir vernuwing aandui. (Bv. Datum; Gebeure of
aktiwiteite; Mense; Plekke)

e. Gee kontaknommers waar jy in die geval van ‘n uitsonderlike krisis gekontak kan word.