{ARGIEF}

Nietemin, die keerpunt het in 1986 gekom. By die Algemene Sinode in Kaapstad het ons die teologie van apartheid finaal bely en afgelê. Daardie teologie was mooi verwoord in Ras, volk en nasie, ’n studiestuk oor volkere­verhoudings wat ons in 1974 aanvaar het. Maar toe kom Kerk en Samelewing (KS) – ’n studiestuk met ’n vars insig in die Bybel en ons gereformeerde tradisie en met belangrike implikasies vir die situasie in Suid-Afrika soos dit in daardie stadium was.

Ja, laat ons nie so gou vergeet nie. Dit was die moeilike dae van onluste, manne op die grens, PW Botha, sanksies, en die Wêreldraad van Kerke se teen-rassisme-program. Ons was as kerk al hoe meer in ’n ekumeniese woestyn. Vier jaar tevore – in 1982 – is ons lidmaatskap van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke opgesệ omdat daar geoordeel is ons ondersteun ’n valse evangelie waar eenheid, versoening en geregtigheid só verdraai is ten gunste van onsself, dat dit nie meer met die Bybel en ons tradisie te rym was nie.

God was egter getrou en het ons nie aan onsself en ons eie geloofsinsigte oorgelaat nie.
In hierdie moedige beleidstuk het ons onomwonde verklaar dat die kerke van die NG Kerkfamilie (en die susterkerke) nie net geestelik een moet wees nie. Nee, ons Reformasie-tradisie het altyd geglo daardie eenheid moet – ter wille van Christus – sigbare gestalte kry. God Drie-Enig is een; en daarom is sy kerk ook een. (Ons sou net duidelikheid moes kry oor die model van hierdie sigbare eenheid – ’n vraag wat tot vandag toe nog nie opgeklaar is nie.)

Dit klink nou ongelooflik, maar in daardie stadium was daar groot debat oor wie nou eintlik ’n lidmaat van die NG Kerk kon word. In KS skryf ons onomwonde ’n ware geloof in Jesus Christus is die enigste merkteken van lidmaatskap. Enigiemand wat hierdie geloof en die vertolking daarvan met ons deel, is welkom om by ons geloofsgemeenskappe aan te sluit.
Dit was vir baie lidmate en predikante net een te veel. Duisende lidmate en predikante het gereken dit is ’n nuwe dwaling. Hulle het hulleself eenkant georganiseer in die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). Hier sou die evangelie van apartheid nog heers – die kerk is daar vir elke volksgroep op sy eie. In plaas van groter eenheid, het die waarheid ons verder verdeel. Dit was en is steeds tragies en sondig en verkeerd.   

Ons het net so helder oor versoening gepraat: Die liefde vra dat ons aan ander doen soos ons wil hê hulle aan ons moet doen. Ons het toe geoordeel dat rassisme nie met versoening te rym is nie. Gedwonge skeiding van volke kon ons nie meer soos voorheen in die Bybel sien nie. “Die poging om so ’n voorskrif uit die Bybel te regverdig, moet as fout erken en afgewys word.” Ons het besef ons het verkeerd geglo en het groot lyding onder ons mede-landsburgers uit die Bybel gesteun. Die NG Kerk bely sy aandeel “met ootmoed en berou”, en verklaar hom bereid om met ander Christene saam te werk in die soeke na oplossings vir die Suid-Afrikaanse samelewing.

Lees hier verder