Uitverkoop – In gesprek oor die verbruikerskultuur

Written by Frederick on . Posted in Artikels

Lux Verbi 2009

Resensent: Marius Nel

Dié boek van Ernst Conradie, wat deel is van die in gesprek-reeks van Lux Verbi, is ‘n uitstekende kritiese analise van die heersende verbruikerskultuur van die moderne wêreld.  In die studie beskou Conradie die verbruikerskultuur (die ideologie van ons tyd) vanuit verskeie perspektiewe ten einde ‘n gebalanseerde en genuanseerde kritiek daarop te lewer.  In kort is ons as verbruikers volgens Conradie in ‘n dubbele sin uitverkoop: enersyds is ons verraai deur ons eie geloof en waardes, en andersyds is dit wat die verbruikerskultuur bied byna opgebruik.

Vanuit ‘n ekologiese perspektief is die verbruikerskultuur volgens Conradie nie volhoubaar nie aangesien die aarde doodgewoon nie aan alle mense die lewensstandaard van die ontwikkelde wêreld kan gee nie.  Daarom moet daar gesoek word na ‘n meer omgewingsvriendelike leefstyl wat aan alle mense ‘n goeie volhoubare lewe bied.  Daar moet om die rede op ‘n nuwe manier met sowel hernubare as niehernubare hulpbronne omgegaan word. 

‘n Ekonomiese analise van die verbruikerskultuur maak dit duidelik dat dit wel welvaart skep, maar dat dit minder suksesvol is met die verdeling daarvan.  Die vergroting van die ekonomiese koek deur die globale ekonomie lei tans nie altyd tot die regverdige verdeling daarvan nie.  Vir miljoene mense bestaan daar dan ook doodgewoon geen manier waarop hulle toegang tot die voordele van die verbruikerskultuur sal kan kry nie.  Diegene in die sentrum van die verbruikerskultuur (wat oor vaardighede en kapitaal beskik) word dikwels ten koste van die aan die periferie daarvan bevoordeel (wat oor geen “nuttige” vaardighede of bates beskik nie). 

Wanneer die sosiale en sielkundige aspekte van die welvaartskultuur beskou word, is dit egter duidelik dat welvarendes ook slagoffers van hulle eie begeertes geraak het.  Hulle word dikwels opgeneem in die gejaag na meer besittings en ervarings wat hulle lewens paradoksaal eerder armer maak!  Só lei die bevoorregte klas aan beroepsdruk, besittingslas, verbruikersgriep, chroniese onvergenoegdheid (waar dit eerder oor smaak as noodsaak gaan), ‘n gejaagde lewenstempo, verkeersdruk en angs. 

In die lig van die deugde-etiek ondermyn die heersende verbruikerskultuur die belangrikste Christelike deugde.  Dit ondermyn byvoorbeeld wysheid (ons koop wat ons nie nodig het nie met geld wat ons nie het nie), geregtigheid (ons leef net vir onsself – lae pryse op ons rakke beteken lae lone iewers anders), moed (ons kan niks weerstaan nie) en matigheid (ons soek altyd na meer).  Só soek mense nie net na die vrugte van die welvaartkultuur nie.  Hulle soek na die onmiddellike bevrediging van hulle begeertes en behoeftes.  Daarom is die oordadige en onverskillige gebruik van krediet kenmerkend van die kultuur.  Dikwels gaan dit ook eerder oor die ervaring van die koop-handeling as oor dit nut en noodsaak van wat gekoop word. 

Die verbruikerskultuur bevorder verder die kommersialisering en vervlakking van sowel kultuur as godsdiens.  Daar kan selfs geargumenteer word vanuit ‘n godsdienstige perspektief dat die verbruikerskultuur op afgodery en kettery neerkom.  In die woorde van CS Lewis – “we are far too easily pleased” (ons word te vrede gestel met seks, geld en goed inplaas van ‘n outentieke verhouding met God).  Die verbruikerskultuur kan verder enigiets kommodifiseer – selfs kritiek daarop!  Talle kerke verpak dan ook die Evangelie op ‘n wyse wat hulle klante (lidmate) te vrede stel en verloën sodoende die bevrydende krag van die Evangelie teenstaan.  Sommiges verkondig selfs ‘n bepaalde welvaartsteologie op ‘n aktiewe wyse.

Conradie wys telkens op die subtiele wyses waarop die verbruikerskultuur mense van alle ekonomiese klasse se lewens beïnvloed.  Dikwels op wyses wat hulle nie eens vermoed nie.  Só wys hy hoedat selfs die lees van advertensieblaaie ons lees en verstaanprosesse ingrypend bepaal. 

Die belangrikste bydrae van Conradie se werk is sy beklemtoning daarvan dat ‘n eensydige en simplistiese kritiek op die verbruikerskultuur (wat baie maklik gedoen kan word) nie werklik help om die probleem onderliggend daaraan aan te spreek nie.  Die verbruikerskultuur het immers ook positiewe aspekte.  Vir miljoene mense bied dit ‘n sinvolle en vol lewe deurdat dit kreatiwiteit, hardwerkendheid, entrepreneurskap en doeltreffendheid bevorder.  Alle aspekte daarvan is ook nie opsigself boos nie.  Om ‘n sinvolle alternatief daarop te bied is dan ook uiters moeilik.  Baie alternatiewe – soos om so veel as moontlik te herwin – het eerder simbolies waarde as wat dit ‘n realisties antwoord bied.  Die mag van die verbruikerskultuur word ook dikwels deur kritici daarvan totaal en al onderskat.  Dis uiters moeilik om die mag daarvan te ontsnap.  Daarmee saam ook die inherente leegheid daarvan.  Die werklikheid van om iets te besit kan immers nooit opweeg teen die perfeksie van iets waaroor ons kan droom nie.  Die werklikheid is altyd ‘n floue afskaduwing van ons verbeelding. 

Dit is ook duidelik uit sy analise dat die kerk geensins die invloed van die verbruikerskultuur ontsnap het nie.  Inteendeel.  Die kerk versterk dikwels dié kultuur.  Andersyds kan die kerk weer in haar kritiek op die verbruikerskultuur opgaan in ‘n gevaarlike dualisme wat nie die daarmee rekening hou dat alles wat geskape is deur God “goed” verklaar is nie.  En dat dit nie net geskape is om te gebruik nie, maar ook om dit verantwoordelik te geniet nie.  Christene moet dus materialisties wees in die sin dat hulle die vergeesteliking van alles teenstaan.  Die aarde en alles daarop is naamlik vir God belangrik.

Conradie gee nie maklike antwoorde in die boek nie.  Ten diepste bepleit hy ‘n kollektiewe internasionale beleidsverandering wat die onvolhoubaarheid van die verbruikerskultuur oor ‘n lang tydperk aanspreek.  Op ‘n persoonlike vlak moet dankbaarheid, tevredenheid, matigheid, offervaardigheid en vrygewigheid ons alledaagse lewens kenmerk.  Tog is daar plek vir feestelikheid en genot. 

Die boek is ‘n stimulerende en uitdagende bydrae tot die gesprek oor finansiële, ekologiese, politiese en geestelike uitdagings van die samelewing van ons tyd en kan dus hartlik aanbeveel word.

Trackback from your site.

Leave a comment