{ARGIEF}

Beskrywing
Die profeet Jesaja tree in ‘n baie moeilike tyd op. Die wêreldmag van die Assiriërs het Israel en Juda bedreig.  Geen wonder dat Agas koalisies probeer vorm het met ander wêreldmoondhede om die volk te probeer beskerm nie.  Jesaja verkondig egter dat God vir hulle sal sorg … as hulle Hom vertrou en nie hulle toevlug neem tot die ander volke nie. Hy waarsku: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.”
Dit bly vandag nog die kern van die boodskap van God aan elkeen wat in Hom glo.  Die boek Jesaja verkondig daarom God as die Lewende, die God van beide die Skepping en die Geskiedenis.  Dit onderstreep dat God die Onderhouer is van alles wat bestaan.  Dit brei uit oor sy funksie as Regter en Verlosser van almal wat leef, ook van die nasies.  Alles gemik daarop om geloof in Hom by sy mense te bevestig.
Die boodskap troos daarom alle gelowiges wat soos die volk van Jesaja se tyd bedreigings van watter aard ook al ervaar, maak nie saak waar en onder watter omstandighede hulle hul mag bevind nie.  Die boek Jesaja konfronteer egter ook diegene wat nie bereid is om te vertrou op die uitkoms wat God vir sy mense belowe nie.  “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.”
Die verlossing wat God vir sy volk bring, sien ons in die boek Jesaja die helderste in die bediening van die Dienaar van die Here wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde.  Hierdie belofte van die Here het in Jesus Christus waar geword.  Hy het God se belofte as Lydende Messias vervul en die visie van ’n volkome nuwe begin gestalte gegee wat nie net histories sal wees nie, maar ook kosmies van aard.  Daarop kan ons ons hoop vestig.  In Hom sal ons in geloof kan standhou.
Lees, luister, leef
Die Lees, luister, leef reeks is gebaseer op die materiaal van Bybelskool.com, en geskryf vir Bybelskole, Bybelstudiegroepe, en persoonlike stiltetyd.  Elke boek in die reeks behandel ’n ander Bybelboek.  Aan die hand van die Lectio Divina metodiek leer jy om die Bybel te leef, terwyl jy dit lees. Daardeur hoor jy die lewende stem van God in die Bybel, leer jy hoe om die Here Jesus prakties te volg, en skryf die Gees jou in God se verhaal met die wêreld in. Die Woord word só vir jou ‘n huis om in te woon.

Support independent publishing: Buy this e-book on Lulu.