{ARGIEF}

 

1. Gemeente-pakket

Ons wil jou vertel van ’n pakket produkte wat jou as gemeente-leier kan help met jou werk in die gemeente. Van Advent 2012 af kan jy 10 produkte weekliks aflaai:

1. Kontak Kategese: Laerskool Kategese Gespreksblaaie (belyn met leesrooster) volgens die Kontak metodiek.

2. Kontak Kategese: Hoërskool Kategese Gespreksblaaie (belyn met leesrooster) volgens die Kontak metodiek.

3. Kontak-kring: 1 Bladsy Kleingroep-riglyn vir Bybelstudie/kleingroep/selgroep.

4. Gespreksblad vir huisgodsdiens: ’n Familie-tuisblad wat families help om geloof by die huis te leef.

5. Kinder-oomblik: Interaktiewe-voorstel en/of ’n Sakkie-kortfilm.

6. Teksuitleg: Eksegese van fokusteks.

7. Retoriese voorstelle: Verskillende stories, illustrasies, rituele en visuele metafore.

8. Dissipelskap: Drie-is-genoeg gespreksblad vir dieper gesprekke met geloofs-vriende oor die fokusteks van die week met spesifieke klem op inoefening van geloofs-gewoontes. Sommige gemeentes publiseer dit in hul afkondigingsblad Sondae.

9. Kleuterkerk materiaal: Bybelles vir voorskoolse kinders met vasleggings-aktiwiteite en stories.

10. PowerPoint agtergronde: Metafore wat die boodskap ondersteun.

Hierdie produkte is almal belyn met die leesrooster fokusteks van die week.

Ons hoop die produkte sal waarde toevoeg tot ’n geïntegreerde bedienings-model waar die hele gemeente ’n week lank saam delf en wandel uit een teks. Ons droom is dat mense beleef hoe ’n saam-geleesde teksgedeelte ons as gelowiges laat groei.

Hierdie pakket sal werk met ’n jaar inskrywing teen ’n koste van R2000 per gemeente. Dis minder as R50 per week. Al die produkte sal elektronies beskikbaar wees. Jou gemeente kry toegang tot ’n webtuiste by Communitas waar alles maklik aflaaibaar is.

Kliek hier om die gemeente-pakket te sien en volg die skakel na die gratis voorbeelde.

Sommige gemeentes het vanjaar reeds begin om geïntegreerd te werk en getuig van baie seën en die bevordering van ’n familie karakter van die gemeente.

2. Publikasie van eBoeke

Communitas fokus op hulpverlening aan leraars en leiers in gemeentes. Met Communitase word dit nou ‘n stappie verder geneem. Ons wil produkte saam met rolspelers ontwikkel wat nie noodwendig kommersiële waarde inhou nie, en hoofsaaklik elektronies bemark word. Dit sluit onder andere hulpmiddels, bedieningsmateriaal, hulpbronne, en prosesse vir gemeenteleiers en –groepe in.

Ons gaan op twee maniere te werk gaan.

  1. Communitase publikasies: Sommige publikasies sal aan die hand van ons eie interne prosesse voorberei word en sal ‘n ISBN nommer ontvang. Ons dink hier aan nuwe produkte, maar ook ouer publikasies wat uit druk is.
  2. Selfpublisering: Ander publikasies sal sonder enige verandering geplaas word, om leraars en leiers geleentheid te gee om hulle materiaal vir ‘n wyer gehoor beskikbaar te stel.

Die hulpmiddels kan in enige elektroniese formaat beskikbaar gestel word. Vir leeswerk sal ons aanvanklik met Epub werk, omdat Amazon nog nie Mobi formaat publikasies wat in Afrikaans geskryf is vir Kindle toepassings toelaat nie. Vir Dataprojektors kan PowerPoint, videos en oudio gebruik word. Ander produkte kan in Word en Pdf beskikbaar gestel word vir redigering en/of duplisering. Uiteraard sal daar ook altyd die moontlikheid wees van bydraes op ons Blogs en Forums.

Ons nooi al ons leraars en leiers uit om dié geleentheid aan te gryp en óf publikasies aan ons voor te lê vir insluiting in ons Communitase prosesse óf die kans tot selfpublisering te benut.

Kontak die webmeester.

3. Prediker in Epub formaat

PredikerDie Prediker dink na oor die sin van die lewe. Hy sluit aan by die diep soeke in ons na meer, na beter, na die buitengewone. Ons soek daarna in besit, plesier, mag, avontuur, wysheid, kennis, selfs in dwaasheid. Die probleem hiermee sê die Prediker, is dat dit uiteindelik vrugteloos is. Dit kom tot niks. Dit is hebel – niks, nietigheid, ’n rookwalmpie, ’n miswolkie, ’n wasempie – ’n metafoor vir die wese van die menslike toestand.

Die Prediker wil ons daarom herinner aan die werklikheid van God, die enigste Een wat regtig sin kan bring aan ons lewens “onder die son”. Sy slotsom is dat wanneer die lewe as ‘n gawe uit Sy hand geniet word, die lewe begin sin maak. Dan vind die begeerte na meer in God sy vervulling. Die vreugde van die reis self, en die genot van die oomblik as sodanig, is reeds die gawe van God, nie eers die blywende waarde of uiteindelike betekenis daarvan nie.

Hierdie is die eerste boek in die reeks Lees, Luister, Leef gemik op Bybelstudiegroepe, Bybelskole en persoonlike stiltetyd.

Vir reekse oor ander Bybelboeke (reeds 27 beskikbaar) kan jy Bybelskool.com besoek en daar inskryf. Dit is gratis.

Epub kan onder andere deur die volgende toepassings gelees word:

Support independent publishing: Buy this e-book on Lulu.

4. Om oor na te dink

Wat laat mense in verandering vassteek by die bekende? – Frederick Marais in Padlangs

In ‘n gesprek vra ‘n kollega – ietwat moedeloos – hoekom mense in prosesse geneig is om terug te val na die bekende eerder as om die onbekende van die nuwe te omhels. Ek stel dit so ‘n bietjie anders as hy! Ek dink baie gemeenteleiers ken hierdie gevoel.

Ek neem die vraag ernstig op, want die kollega is een van die mees bekwame en kreatiewe prosesbegeleiers wat ek ken. Sy vraag het nie te doen met ‘n gebrek aan vaardigheid van die begeleier of die kwaliteit van die proses nie. Dit kan van ander waar wees maar beslis nie van hom nie. Hy sit my aan die dink oor myself, en die vrese waarmee ek sit wanneer ek saam met mense ‘n pad begin stap na ‘n onbekende plek. Hier is ‘n paar goed wat ek van myself ontdek het:

Lees meer …

5. Wanneer hoop deurbreek

Wanneer hoop deurbreek – Frederick Marais in Padlangs

Hy was in ‘n ongemaklike situasie vanoggend, vertel ‘n vriend terwyl ons stap vir koffie. Hy word gevra om ‘n egpaar in ‘n dissiplinêre verhoor te woord te staan. Alles dui daarop dat hulle die skuldige party is. Hulle kom in met aggressie en dreigemente om hulleself te verdedig. My vriend stuur die amptenaar van die instansie uit, maak die deur toe, gaan sit by hulle en begin luister… Stadig bedaar die aggressie en raak die egpaar vrymoedig om hulle bekommernis oor die saak te deel.

Lees meer …

6. VBO

Stellenbosch Winterskool 2013: 4–6 Junie 2013

Tema:

Gebore vir ‘n tyd soos hierdie

Born for such a time as this

7. Om te doen

Vraelys om jou spiritualiteitstyl te evalueer (Jannie Hougaard in Quintus Heine se Gebedsblog)

Jou eie geloofsbelewing het ‘n groot impak op hoe jy jou roeping uitleef. Jannie Hougaard het Corine Ware se vraelys oor jou styl van geloofsbelewing in Afrikaans verwerk en aangepas (Discovering your Spiritual Type. Bethesda: Alban Institute, 1995). Neem ‘n halfuur om hierdeur te werk en beplan jou bediening aan die hand van jou eie spiritualiteit.

Lees meer …

Lees ook meer oor hoe jou spiritualiteitstyl jou gebedslewe beïnvloed.