Wanneer hoop deurbreek

Written by webmeester on . Posted in Enuus

Hy was in ‘n ongemaklike situasie vanoggend, vertel ‘n vriend terwyl ons stap vir koffie.

Hy word gevra om ‘n egpaar in ‘n dissiplinêre verhoor te woord te staan. Alles dui daarop dat hulle die skuldige party is. Hulle kom in met aggressie en dreigemente om hulleself te verdedig. My vriend stuur die amptenaar van die instansie uit, maak die deur toe, gaan sit by hulle en begin luister… Stadig bedaar die agressie en raak die egpaar vrymoedig om hulle bekommernis oor die saak te deel.

Ons weet ook eintlik nie, begin hulle huiwerig te deel. Hy veroordeel nie, eggo hulle emosie, bly rustig teenwoordig in die angs wat na vore kom. En toe maak hulle heeltemal oop en raak eerlik. Daar word gehuil, planne gemaak, troos word uitgedeel. Wat ‘n tugverhoor moes gewees het, word ‘n ruimte waarin mense oor ‘n onwaarskynlike kloof na mekaar uitreik, en ‘n kind se lewe word “gered”!

Met die storie neem hy my gedagtes terug na hoe my eie dag begin het. ‘n Moeilike vergadering, wat my vannag laat rond rol het, het skielik onverwags ‘n baie goeie wending geneem. Ou klowe is skielik oorbrug en welwillendheid is gebore. Dit was nie my vernuf of enige ander leierskapstegniek nie.  HOOP het soos ‘n geskenk na my gekom.

Later vanmiddag kry ek berig van nog meer deurbrake oor die saak wat my laat wakker lê het. Die woorde van Sheila Cussons, die sendelingdogter van Piketberg, kom by my op: “Wat roer in die wortel, stoot in die sap, besige Christus …” en dan later in die gedig, “en hoe kon ek so afwesig staar na my?”

Mag ek, ons, haar woorde én die verhale onthou môre as ons ons vasloop in die vasgelooptheid van oënskynlike hopeloosheid.

Trackback from your site.

Leave a comment