Jesus wys die onreg uit

Written by webmeester on . Posted in Multikulturaliteit

Dit was normaal dat handelaars offerdiere aan tempel gangers verkoop. Daar was ook geldwisselaars. Hulle het die buitelandse munte vir Joodse munte geruil. Net dié Joodse geld mag in die offerkiste gegooi word. Daarmee is ook duiwe en soms ander en groter diere soos lammers gekoop. Die handelaars het net Joodse geld aanvaar. ‘n Deel van die winste uit die verkope het vir die instandhouding van die tempeldiens gegaan. Dinge het tog soos gewoonlik sy gang gegaan. Waarom het Jesus so reageer?

Oor mense uitgesluit word

Die verklaring lê in Jesus se woorde. Hy haal uit Jesaja 56:7 aan. In Jesaja 56:7 verwag God toegang vir alle mense, nie net Jode wat in die tempel aanbid nie, maar almal wat met Hom identifiseer. Hy sê in my huis van gebed sal ek vreugde aan alle volke gee, hulle offers sal vir my aanneemlik wees.

Die area tussen die buitemure en die eintlike tempel was bekend as die binnehof. Dis waar die vreemdelinge en verstote mense, geringstes en gebrekkiges, siekes en slawe, die bywoners en buitelanders toegelaat was. Hulle mag God daar aanbid. Maar die area was met die handelaars se stalletjies en geldwisselaars se tafels gevul. Daar was nie plek vir die mense van elders of wat anders was nie. Dié aanbidders was dus heeltemal van die plek van aanbidding uitgesluit.

In die Apartheidsjare was garage dienste vir swart mense in wit woon buurtes bekend gewees. Later met ‘n groot gespook het sommige wit gemeentes hul kerksale vir dienste beskikbaar gestel. Die binnehof van die tempel sou mens vandag met die kerksale vergelyk. Indien ‘n kerksaal gebruik sou word om fondse vir die instandhouding van die gemeente te gebruik en nie meer vir swart gelowiges toeganklik is nie, sou mens dit met die omstandighede wat Jesus in die tempel ontstel het, kan vergelyk.

Die godsdienstige aktiwiteite het meer eksklusief en na-binne gerig geraak. Die instandhouding van die Joodse godsdiens het die ander mense van hul aanbiddings ruimte beroof.

Oor mense uitgebuit word

Waarskynlik was Jesus verder die josie in vir die geldwisselaars wat die wisselkoers tot hul eie voordeel gemanipuleer het. Die buitelanders was uitgebuit. Hulle moes baie van hul geld vir min Joodse geld wissel. Vandag vind mens ook dat buitelandse toeriste duurder vir produkte moet betaal. Vreemdelinge word daagliks uitgebuit. Jesus neem soortgelyke onreg, maar in die tempel waar. G’n wonder Jesus noem die huis van gebed ‘n rowersnes nie. Hy verwys na Jeremia 7:11. Jeremia het by die ingang van die tempel die mense van Juda en Jerusalem gewaarsku dat God nie daar is waar die tempel staan nie. God is daar waar daar reg geskied. Hulle geloof word deur hul lewe en dade getoon. Hulle moet die onreg teenoor vreemdelinge, weeskinders, weduwees en onskuldiges stop. Dit en ander gruwelike dinge soos moord, steel, egbreuk het die huis wat die Here se Naam dra ‘n rowerspelonk gemaak.

Die Here spreek hom nie teen die besigheid by die tempel uit nie, maar hy is uiters ontsteld oor die gesindheid, onsensitiwiteit, selfsug en selfs die onreg wat met die besigheid gepaard gaan.

Hoe oop is ons gemeente regtig vir ander?

Waarmee hou ons as gemeente onsself besig? Hoe oop is ons rêrig vir ander mense. Is ons besig om tradisies in stand te hou en ons aan gebruike blind te staar wat verhinder dat ons God se wil onderskei en raaksien? Of is ons ‘n gestuurde gemeente, op weg na die buitestaanders en oop vir alle mense wat na God soek of na wie God ons stuur.

Ek is moeg vir al die politiek in die kerk. Terwyl ons tereg pres. Zuma se hemel betwyfel, wonder ek oor ons aardse geloofwaardigheid. Ons vertoon God se genade gebrekkig, die hoop wat in Christus se opstanding lê, halfhartig. God is daar waar mense hom die nodigste het, dit roep gelowiges en gemeentes uit hul gemaksones na die gekwestes en gestrandes. God se genade is vir almal bedoel.

Hierdie gemeente is nie die kerkgebou, die kerkraad, nie eers ons as lidmate sin nie, maar dit behoort aan die Here. Omdat dit aan Hom behoort stel ons dit tot beskikking van ander. “Kerkwees” is besig om weg van die gebou te beweeg op weg na die gemeenskap rondom ons en anderkant die mensgemaakte skeidslyne soos kultuur- en klasgrense. Ons word deur Jesus gestuur die wêreld in.

Dit help nogal wanneer ek skaam oor ons kerkgebou en geriewe is, in vergelyking met die ander kerkgeboue waar ek al besoek het, want dit is nie waaroor kerkwees gaan nie. Hierdie gemeente bestaan ter wille van die Here se koninkryk. En Hy stuur ons nie na mekaar nie, maar na mense en plekke waarheen die Here van plan is om self te gaan of waar Hy reeds aan die werk is.

Jesus wat die tempel reinig, het nie ‘n af dag gehad nie. Hy was op en wakker. Hy het ‘n fyn aanvoeling vir geregtigheid en is ontstel wanneer Hy onreg waarneem. Dit gaan oor sy alles insluitende genade wat alles oortref. Dis deur Hom wat almal, swart en wit, man en vrou, vrye toegang tot God kry. Die muur van skeiding wat mense van mekaar skei is finaal afgebreek. Dit het Sy lewe gekos, die skeiding in die tempel is afgebreek. Sy bloed reinig ons van die sonde van verdeeldheid onder gelowiges. Dít skep ‘n nuwe mensheid waar gelowiges saam mekaar se laste ken en dra, mekaar nodig het en mekaar opbou, saam diensbaar is aan al God se mense, ook of veral diegene wat Hom nie ken nie. En dit is baie belangrik dat ons gelowiges nie ander mense verhinder om saam te kom bid nie.

Trackback from your site.

Leave a comment