Multi-kulturele ervarings uit Lusaka

Written by Frederick on . Posted in Multikulturaliteit

  • Die Here se multikulturele gemeente hier in Lusaka is ontstellend broos. Net God hou ons bymekaar vas. Om dit te sien en te glo is partykeer meer ontwrigtend as wat mens sou wou hê.
  • – ‘n taamlike deel van die gemeente se samestelling is Afrikaanse ‘ex-pats’. Ek is een van hulle.

    – Verreweg die meeste van hulle is hier of om geld te maak of omdat hulle nie elders ‘n lewe kan maak nie. En geld is mag, beheer en veral onafhanklikheid.
    – Hulle moet aanpas om in ‘n ander land te woon en te werk. Sonder om daarop in te gaan: dis glad nie maklik nie — vir hulle persoonlik in hulle werk en vir hulle families hier en in die RSA.

    – Om dus net in hulle eie taal te mag aanbid, is vir hulle ‘n hemelse hawe. En om mede-volksgenote rondom hulle te sien; te hoor Afrikaans praat [onthou in die werk is dit net Engels] en naweke saam die pragtige Afrika bosse en vol riviere met vis te mag verken, is nog meer hemels in hierdie vreemde land. Hulle is dus entlik ‘n kliek!

    – Verreweg die meeste van Afrika se oorspronklike inwoners vertrou doodeenvoudig nie witmense nie; veral nie as hulle nog ook uit die RSA kom nie. Hulle ken ons geskiedenis beter as wat ons mag glo hier in Zambië. Onthou Zambië het menige ANC vlugtelinge uit die RSA, nie baie lank gelede nie, moes huisves.

    • Die volgende faktore ‘overide’ dus eenvoudig vir ons as God Drie-enig se geredde/vrygemaakte en gedoopte ‘Trinitarians’. Daarom is ons so verskriklik broos en sê ek ‘multikultureel’ gewoonlik baie sag.

    – Die vloek van die ‘volkskerk’ wat in die murg en gebeente van Afrikaanse mense veral deur boere-Calvinisme, soos Ferdinand Deist dit duidelik raakgesê het, ingebrand is. Ek het persoonlik terugvoer van die oorsese verteenwoordigers van die Gestuurde-Gemeentes-projek gehad, wat sê: nêrens in die wêreld waar hulle werk, is die volkskerk so erg as in die RSA nie.

    – Wat hiermee saamhang dat Afrikaanse mense glo mens kan net in jou moedertaal aanbid. “Ek sal liewer sonder kerk en erediens bly as ek dalk gevra moet word om die Here saam met ander in Engels te aanbid.

    – Lidmate met geldmag en beheer, want hulle het nie regtig ander mense nodig nie; hulle hoef hulle nie op te soek en te ken nie; hulle kom self goed reg en het veral die middele om hulleself lekker te vermaak en naweke op te bou saam met hulle Afrikaanse maters.

    – Die ekstra stres wat die werk en lewe in ‘n ander land meebring, laat ‘ex-pats’ sonder die energie om ook nog moeite met ander te doen; jouself te kruisig om na vreemdes — nie volksgenote — uit te reik nie.

    – Wantroue/vrees vir swartmense en koloniale onderdrukkers wat gesien word as uitbuiters. Europeërs wat Afrika sommer net kom vat het; Afrika baie vroeër eenvoudig net uit ‘greed’ opgedeel het by ‘n konvensie in Europa. Ter illustrasie die volgende verhaaltjie: Susan Sakala is die gemeente se ‘Office Coordinator’. Ek het haar hier kom kry as ‘n jongmens; haar ouers en hulle familie is toegewyde lidmate en voorgangers. Sy het, omdat sy bietjie ouer is as die ander jongmense, persoonlik, dws een tot een katkisasie vir twee jaar by my gehad. Ons ken mekaar goed! Ons is lief vir mekaar. Sy is later as Office Coordinator aangestel en ‘n jaar gelede vra ek haar: “Susan op ‘n tien-punt-skaal, hoeveel vertrou jy my?” Sonder om vir een oomblik te aarsel, antwoord sy: “5 out of 10, Abusa” Vir haar openhartigheid en eerlikheid, só het ek haar geantwoord, gee ek haar 10 uit 10. Ek het hierdie wantroue net so bevestig gekry by Barbara, ‘n ander swart dame en een van my stapmaats oggende vroeg.

    • Ek het ook die volgende begin ontdek:

    – God het oor baie jare heen, byna lewenslange Europeërs wat hier leef en werk oortuig, in die woorde van een van hierdie lidmate: “Martin, iemand wat in Afrika ryk word, doen dit altyd ten koste van die oorspronklike inwoners”. Hierdie lidmate is hoopgewers vir die Here se “Trinitarian-gemeente”.

    – Hier is ou ingesetenes in die groter Lusaka gebied wat regtig verskriklik armoedig en eenvoudig is. Hulle is vir my Kuyper se “kleine luyden”. Hulle is totaal gemarginaliseer. Geen Afrikaanse kerkraadslid het my ooit van hulle vertel nie. Daar was nie eers so ‘n wyk nie. Hoe kan hulle nou deel wees van ons ‘smart’ ouens? Ek moes hulle self in hulle wegkruipplekke stuk-stuk gaan ontdek. Hulle voel in elke geval glad nie welkom in die gemeente nie. Maar hierdie “magtelose” mense het nie probleme met swartmense nie en hulle het geen probleem daarmee dat ons in Engels aanbid nie — daar ver in die bos een keer per maand. En hulle nooi self enige een wat in die omgewing is om tog asseblief saam te kom! Hulle is elke maand die hoogtepunt in my bediening.

    – Ons bly op die kerk-werf reg langs die ‘Caretaker’, Adam en sy vrou, Donna Lungu en hulle twee klein kindertjies, Lize en Chisomo. Donna werk in ons huis, maar hulle is eintlik ons enigste werklike bure. Ons bly hier slegs die afgelope jaar en ‘n half. Ek ken hulle eintlik al 5 jaar, maar nou eers baie beter omdat hulle ons enigste bure is. Dit is slegs in hierdie nou buurskap dat ons mekaar regtig leer ken het; dat ons moes uitvind Donna is die slagoffer van ‘n Pa wat haar sedert haar elfde jaar gereeld verkrag het; sy op veertien uit die huis gevlug het en met Adam getroue het, net om uit die ellende weg te vlug. Onnodig om te sê, sy is op 24 ‘n alkoholis wat haar seer probeer wegdrink. Hulle het enorme huweliksprobleme. Ons het die geweld in die huis eers agtergekom toe ons nagstiltes wreed met vrees-gille onderbreek is. God is goed. Donna is nou al vier maande sonder drank en die huisgeweld het totaal opgehou. Hulle is albei besig met katkisasie. “Trinitarians’ kan eintlik net multikultureel in die gemeente in eenheid leef as hulle naby mekaar leef en werk. Die ander vloek in die RSA, is dus groepsgebiede. Eintlik bestaan dit nog net soos altyd voort. Geld en mag bepaal mos waar ek lekker apart kan bly. En dit staan vierkant in die pad van ‘n multikulturele gemeente. Dis so goed om dit nie hier in Lusaka te hê nie.

    ‘n Multikulturele gemeente leef baie broos en dis glad nie eenvoudig nie, maar nog nooit het ek in die 40 jaar van my werk soveel van God se goedheid en [wonder]werke met groot dankbaarheid en blydskap raakgesien nie. Wat kan mens ooit meer vra! Ek weet nie hoe ek ooit hier kan ophou werk nie.

    Trackback from your site.

    Leave a comment