As jy ‘n kaartjie wen …!

Written by webmeester on . Posted in Wêreldbeker Sokker 2010

Dié week, Dinsdag, is daar ‘n kompetisie op Jacaranda 94.2. Stuur ‘n sms met ‘n sleutelwoord en jou naam na die nommer toe en jy kan kaartjies wen vir wedstryd 17 tussen Suid-Afrika en Uruguay; dis vir Woensdag op Loftus. Na ek die sms gestuur het besef ek eers wat ek gedoen het en dink ek skielik aan dit – wen ek dié kaartjies beteken dit ek moet saam met oor die veertigduisend sokker geesdriftiges vir 90 minute gaan kyk na ‘n sport wat ek weinig van weet, en om dit af te rond sal daar die oorverdowende getrompetters van vuvuzelas wees en ek kry epos na epos met foto’s van sneeu in die Kaap en die weerburo voorspel dat dit die koudste aand nog gaan wees. “Hoe doen mens dit aan jouself..” wonder ek. Te laat. Jacaranda bel en laat my weet dat ek die kaartjies gewen het. O weë, wat nou, nou moet ek gaan.

Woensdagoggend is ons in die strate en koop al die moontlike parafernalia, SA vlag, Bafana Bafana hempie, die “real deal” nogal, ‘n lekker warm serp, ook in ons landskleure, handskoene vir die koue en ‘n vleeskombers wat ook lyk soos ons landsvlag. O ja, en moenie die vlaggie ding vergeet wat op die wang geplak word nie.

Ons parkeer die motor, klap ‘n toon die straat af oppad Loftus toe, stap verby verskeie ondersteuners van nie net Suid-Afrika nie maar Uruguay en verskeie ander lande. In die verte druis die vuvuzelas en elke nou en dan word ek tot die hier en nou terug geruk wanneer iemand sy vuvu hier benewens my blaas. “Ek beter daai oorpluisies byderhand hou…” dink ek. Tot my verbasing is als goed georganiseer, die sekuriteit is streng maar die mense is vriendelik. Ons is deur sekuriteitspunt een, “so far so good” en by die hekke word ons weer deursoek, maar dit pla my nie. Die beamptes help ons een na die ander tot ons ons sitplekke vind, blok P, ry K sitpleknommers 24 en 25; tussen hordes geesdriftige “fans”. Kort voor lank is ons in gesprek met Andy, ‘n swartman wat sy vrou by die huis gekos het om die wedstryd te kom kyk. ‘n Gawe man. Hy word ons persoonlike wedstryd interpreteerder. Die fluitjie blaas en die skare gaan mal en die wedstryd is aan die gang. Ons almal weet wat die verloop van sake was, ons het verloor, 3-0.

Nou, die ironie. Ek dink terug. Ek was op Loftus om ‘n Fifa Sokker Wêreldbeker  wedstryd “live” te gaan kyk saam met meer as 42 000 mense en ek kyk terug en kan in alle eerlikheid sê, ek is bly ek was daar, ek is bly ek het die ervaring gehad, ek is bly ek kon een wees met soveel sokker geesdriftiges. Ek het hoendervleis gekry toe ons die volkslied gesing het en die duisende Suid-Afrikaanse vlae wat orals rondgeswaai het, het my met ‘n warm gevoel in die hart gelos op een van die koudste aande van ons winter sovêr. Vreemd? Ja beslis. Want sien, dit was iets wat ek nie deel aan wou hê nie en kyk nou, die Here besluit anders, maak die deure oop dat dit wel moontlik word en my laat met ‘n belewenis wat ek sekerlik nooit in my lewe sal kan en of wil vergeet nie. Ek is trots Suid-Afrikaans en dink vanaand dat Suid-Afrika trots kan wees op wat in die wêreldbeker vermag is.

Die laaste gedagte wat ek hieroor het. As ons oor grense wil gaan en oor grense wil uitreik en wil verskil maak, het ons soos wanneer ons oor landsgrense reis ‘n “paspoort” nodig, soms ook ‘n visum,  as’t ware toestemming nodig om daarheen te reis. My “paspoort” in die geval is sekerlik dat ek ‘n Suid-Afrikaner is, maar “die aansoek vir die visum” was die sms wat ek ewe braaf gestuur het en het dit toe maar aan die hemelse ambassade oorgelaat om te besluit of ek kan of nie kan gaan nie. Nou is ek dankbaar dat ek daarheen kon reis, dat ek dit kon meemaak en terug kon kom, soos na enige ander vakansiereis, met hordes foto’s om te wys, “Ek was daar.”

Ek soek verder vir geleenthede om uit te reik, ‘n verskil te maak, verteenwoordiger te wees van Sy Koninkryk en die grense wat ek self daar gestel het verder en verder te skuif en hopelik eendag te sien verdwyn.

– Douw Prinsloo, Doornpoort, Pretoria

Trackback from your site.

Leave a comment