{ARGIEF}

’n Fotografiekursus in die Sederberge van 4-8 Mei 2009 help my om weer nuut na God te kyk.

 

Ek het baie uitgesien daarna. My nuwe kamera vra om geleer ken te word en ek het behoefte daaraan dat my nuwe stokperdjie vir my verrykend sal wees. Ek wil graag iets doen wat my wegvoer van alles waarmee ek elke dag gekonfronteer word. Op die oomblik het ek dit baie nodig om weer balans te kry, rustig te word en die lewe te geniet as gawe uit God se hand.

Met die aanvang van die kursus sê een van die aanbieders: Dit is eintlik nie ’n kursus nie, dit is eerder ’n proses van heling. Elke foto wat jy neem, sê eintlik iets van jouself, die manier hoe jy na die lewe kyk, wat vir jou kosbaar is, hoe en wat jy eintlik waarneem. Dit is so waar. Al die kursusgangers is in dieselfde omgewing besig om fotos te neem en die verstommende is om te sien wat ander sien. Ek besef net weer opnuut hoe selektief ons eintlik waarneem en hoe blind ons vir sekere werklikhede rondom ons is. Dit is dáár maar dit is nie vir my daar nie.

Om fyn waar te neem, vra tyd en dat jy sal toelaat dat die omgewing jou as’te ware oorweldig. Een van guru’s in fotografie het ’n gebruik dat waanner hy ’n fotografiekursus aanbied, hy sy kursusgangers verplig om vir 3 uur net op een plek te bly staan en net te begin waarneem en fotos te neem van alles wat jy ontdek. Op die laaste dag het ek vir meer as 2 uur my kamera net op ’n werkershuisie begin fokus. Eers het ek die huisie afgeneem; later die omgewing rondom die huisie; later die vensterdeurtjie en die manier hoe die venster in die huisie ingebou is; later steek ek by die deurhakkie vas wat van draad gemaak is. Skielik kry die huisie vir my lewe. Ek begin daardie mens wat die hakkie in sy eenvoud maak, sien; ek begin wonder oor die mense wat in daardie huisie gebly het; ek begin dink aan al die lief en leed wat in daardie huisie beleef is; ek begin wonder wat van die mense geword het en hoeveel met heimweë aan die huisie terugdink; ek begin dink aan die mense se belewing van God.

Ek begin nadink oor die waarde van geestelike dissiplines en die noodsaaklikheid daarvan om by God stil te word; tyd te maak om deur die Here oorweldig te word en net waar te neem hoe God werk, ons/my aanraak, God se teenwoordigheid te “sien”. Ek is altyd so in beheer van my tyd, ook my stiltetyd. Ek sal nooit weer op dieselfde manier kan stil word nie. My Bybel word nou ook “’n kamera” waardeur ek God, myself en ander rondom my ontdek/raaksien.

My stokperdjie, fotografie, word ’n geloofsreis wat my telkens daaraan herinner dat ek moet stil word om waar te neem en toe te laat dat God my oorweldig.