COMMUNITAS: ʼn Terugblik met die oog op die toekoms

Written by Wilma le Roux on . Posted in Ekklesia, Nuus, Oor ons, Personeel, Personeel-funksies

Communitas se 10-jarige

verjaarsdag vieringe

 

 

Op Vrydag 15 September het die personeel van Communitas, Ekklesia, die Kerkargief en personeellede van die Bellville-Sinodale kantoor saam gekuier om die 10de verjaarsdag van Communitas te vier. Hierna het die personeel as spanbou gaan aarbeie pluk op die polkadraai-aarbeiplaas – kliek hier om die foto’s te sien.

Frederick Marais skryf as volg:

Communitas is tien jaar oud vandag, ons is dankbaar is meer as ooit gemotiveer om die geleentheid wat ons gegun word te benut om, soos Pat Keifert dit uitdruk, in, saam, langs, onder en soms teen gemeentes ʼn reis te onderneem waarin ons oop is om gevorm te word deur die Woord en Gees tot gemeenskappe waarin die Koninkryk van God sigbaar word.

Lees onder die fotobeeld van die saamkuier verder aan Frederick se terugblik- en ‘n vorentoe kyk na ‘n innoverende toekoms …

Wat ʼn voorreg is dit nie om deel te kan wees van hierdie span mense nie. Communitas was nog altyd bevoorreg om as span saam te werk. Ons krag is dat ons ʼn span is waarin PSD’s en ondersteuningspersoneel mekaar ondersteun en ter wille van die gemeentes wat ons bedien, bereid is om waagstukke aan te gaan.

Eers ʼn vinnige terugblik:

Michiel van der Merwe was die eerste Direkteur van BUVTON (Buro vir Voortgesette Teologiese Onderrig en Navorsing). BUVTON is gevestig vanuit die droom van Prof David de Villiers: dat daar ʼn plek moet wees waar predikante versorg en ontwikkel kan word. Vir hierdie droom het hy geld ingesamel en so is BUVTON gevestig as ʼn buro van die Fakulteit Teologie. Sedert die middeltagtigs het Michiel die fondament gelê vir wat ons vandag as Communitas ken. Michiel het van die begin af spanne mense ingetrek en bemagtig om te help met bediening aan gemeentes en predikante.

In die neëntigs is Coenie Burger gekontrakteer om die navorsingsbeen te behartig. Reeds in die laat tagtigs is ʼn navorsingsgroep van NG- en VGK predikante bymekaar gebring – omdat ons in Hermanus vergader het, het dit as die Hermanusgroep bekend gestaan. Deel van hierdie groep was oa, Coenie Burger; Michiel van der Merwe; Nico Koopmans; Dirkie Smit; Johan Botha; Fanie Heroldt; David Botha; Arnold Smit; Jurgens Hendriks; Russell Bothma; oom Daan Cloete; Stefan Spies; Nico Simpson; Piet Naude; Breda Ludick en Ian Nell. Ek is self genooi en ek onthou nou nog hoeveel dit vir my as jong predikant beteken het om in daardie ruimte van gesprek te wees. Dit was in kontras met byna alle ander gesprekke wat ek in die kerk op daardie stadium beleef het. Daar was ʼn duidelike verbintenis tot vernuwing wat nie oppervlakkige quick fixes is nie.

Uit die vriendskappe wat hier gebore en uitgebou is, is oa die KGA gebore as die eerste eenheidskommissie tussen die VG- en NG Kerke. Dit is ook uit hierdie groep wat die kern leierskap sou kom vir die oorkoms van die VGK se teologiese opleiding na Stellenbosch. Dirkie, Russel en Coenie sou sleutel-rolspelers hierin wees.

In hierdie tyd het Coenie, na ʼn besoek aan die VSA, ʼn baanbrekersboek: Dinamika van ʼn Christelike Geloofsgemeenskap, geskryf. Die boek het grootliks gebruik gemaak van insigte wat in die VSA tov gemeentestudies ontwikkel het en dit het baie lesers in die kerk in SA blootgestel aan ʼn veel meer dinamiese kerkbegrip. Die Hermanusgroep het ʼn boekie uitgebring: Gemeentes Vertel, waarin daar verhale van gemeentevernuwing vertel is. Daar was ook ʼn publikasie oor Leierskap – as ek reg onthou was die titel: Begeleiding. Arnold Smit was die redakteur.

Die Hermanusgroep het einde 1994 ʼn uitgebreide toer na die VSA onderneem om gemeentes en teologiese fakulteite te besoek en ook deel te neem aan konferensies. Vir myself was dit die eerste keer wat ek in die VSA gekom het, en was dit ʼn groot uitdaging om deel te neem aan konferensies waarvan bekendes in gemeentestudies soos Carl Dudley en Loren Mead teenwoordig was.

Na die toer het die navorsingsgroepe gegroei. Ek onthou groepe soos Jeug; Famile; Litrugie; Armoedeverligting en Ekklesiologie. Die gesprekke was ondersoekend en ontwerpend en BUVTON was nie bang om met nuwe eksperimente te waag nie. So het ʼn klein groepie van ons, Nico Simpson; Jannie Swart; Robert Vosloo en ekself begin om te eksperimenteer met die RCL en deelname van gemeentes. Toe dit blyk dat daar groter belangstelling hiervoor was, het ons Michiel genader en hy het dadelik aangebied dat BUVTON as platform hiervoor sal dien. Die eerste leesroosters het ons self gekopieer en gekram oor ʼn naweek in Joanie se kantoor. Ons het kort daarna Sinodesitting gehad en ek het die geleentheid gebruik om medewerkers te werf vir die verskillende publikasies wat hieruit sou voortvloei. Daar was oor die jare mense soos Ian Nel; Pieter vd Walt; Marius Nel; Jampie Nel wat as redakteurs opgetree het, voordat Eddie Orsmond stabiliteit in die projek gebring het. Veel later sou die Word and Worship hieruit ontwikkel. Ander waagstukke was die familie-programme – 7 Familiegewoontes en Positiewe ouerskap. Uit die besoek van John en Adrienne Carr het ʼn reeks geloofsvormende programme soos Projek Eksodus en ander ontwikkel.

Dit was ook in die laat tagtigs en neëntigs wat Michiel en Jurgens TSB: Teologies strategiese beplanning ontwikkel het. Talle gemeentes sou met behulp hiervan vir die eerste keer begin om wat ons later sou noem, geloofsonderskeidende beplanning doen.

Hierdie innoverende werk het tot gevolg gehad dat die Wes-Kaap Sinode in 1999 twee nuwe poste vir BUVTON goedgekeur het, naamlik navorsing en fasilitering. Coenie is deur die Kuratorium beroep vir Navorsing en VTO en ek is beroep vir die gemeentefasiliterings-pos. Met meer kapasiteit kon ons die dienste aan gemeentes uitbrei. Ons span was toe Michiel, Coenie en ekself as PSD’s en Joanie; Chrisna en Divine as ondersteuningspersoneel. Cas Wepener en later Stefan van der Watt was navorsingsassistente, terwyl hulle aan hulle PHd’s gewerk het.  Pieter Grove het ook vir vier jaar deel gevorm van die span met ʼn fokus op armoedeverligting – of later uitwissing.

Dit was in hierdie jare wat ons begin het met Verantwoordelike Vernuwing-konferensies wat vir baie jare ʼn jaarlikse instelling was en waarheen jaarliks honderde predikante en gemeenteleiers gestroom het.  Ons het ook begin met ʼn boekklub vir predikante asook ʼn tydskrif, Kruisgewys, in samewerking met Lux Verbi. Coenie het voortgegaan met talle publikasies waarvan Gemeentes binne die Kragveld van die Gees; en Gemeentes in Transito voorbeelde was. Michiel het publikasies oor kleingroepe en talle programme vir retraites ontwikkel. So het ons begin met ons eie klein boekwinkel.

Omdat die navraag vir fasilitering so gegroei het, het ons ʼn netwerk ontwikkel vir fasiliteerders: CFN – Church and Community Facilitation Network.  Dit is uitgebou as ʼn sterk ekumeniese netwerk wat fasiliteerders oor die land sou oplei vir die begeleiding van transformasie in kerke en gemeenskappe.

Dit is ook in hierdie tyd dat Michiel raakgesien het dat daar ʼn gebrek aan geloofvorming onder predikante is en het hy met ʼn uitgebreide program van retraites begin.  Menige predikant sou sweet met dae van stilte en afsondering, maar dit sou die grondslag lê vir ons fokus op geloofsvorming vandag. Michiel het ook in hierdie tyd die regte bekom om die Taize-liedere te vertaal in Afrikaans. As ek vandag terugdink is dit weer ʼn voorbeeld waar ons kon eksperimenteer sodat dit later deel kon word van die lewe van die kerk.

Ons het oor die jare gereeld internasionale besoekers gehad. Don Browing oor familie-bediening; John en Adrienne Carr oor programontwikkeling en in 2003 Pat Keifert nadat hy en Coenie in die VSA ontmoet het. In dieselfde jaar sou ʼn groep van 10 gemeentes predikante stuur om die moontlikheid te ondersoek om ʼn Partnership for Missional Churches (PMC) in Suid-Afrika te begin. In wat dalk die grootste waagstuk van BUVTON was, is die Vennootskap vir Gestuurde gemeentes in 2004 met 50 gemeentes lanswyd-gestig. Ons het gewaag met iets wat ons nie regtig geweet het waarheen dit sou vloei nie. Dit is waar die saad van missionale teologie in die kerk begin het. Nege jaar later het die Algemene Sinode die raamwerk dokument vir Missionale Ekklesiologie goedgekeur! Nico Simpson het die programontwerp hanteer en Pieter van der Walt die etnografiese navorsing.

In 2006 het Pierre Goosen, na die aftrede van Michiel, bygekom op die span. Hy sou die predikanteversorging onder sy leierskap uitbou sodat dit ook ontwikkeling sou insluit. Dit is ook in hierdie tyd wat dit duidelik geword het dat ons deur ʼn strukturele vernuwing moes gaan. BUVTON was ʼn sentrum van die Fakulteit teologie, maar is befonds deur die Weskaap Sinode. Met die Fakulteit wat al hoe meer ekumenies geword het, het die sinodale sisteem al hoe meer begin vra dat BUVTON meer deel van die Sinodale sisteem moet word.

BUVTON gee geboorte aan twee nuwe sentrums: Ekklesia en Communitas

Ons het die taak aangepak deur al die taakspanne te nooi wat direk met gemeentes werk om ʼn netwerk te vorm: Dit sou insluit Gemeentebegeleiding; predikantebegeleiding; jeug; NGGO; vroue en VBO. By ʼn byeenkoms op Volmoed is daar besluit om die netwerk Communitas te noem. Die begrip was aan ons bekend uit die werk van Victor Turner. Hy verduidelik in sy werk dat gemeenskappe in tye van transformasie na ʼn fase van liminaliteit, afbreek van ou sisteme, in ʼn “communitas” fase beweeg waar hiërargie afplat tot plat strukture van deelnemende besluitneming en visie-vorming.

Intussen het daar ook ʼn reeks gesprekke plaasgevind olv Coenie tov die ontwikkeling van ʼn Ekumeniese sentrum vir leierskapsontwikkeling en navorsing by die Fakulteit Teologie. BUVTON het toe verdeel in twee instansies, nl Ekklesia – die Ekumeniese sentrum vir leierskapontwikkeling en navorsing by die Fakulteit, en Communitas –  ʼn netwerk van dienste aan gemeentes van die VG- en NG kerke. Sedertdien het die verhouding tussen Ekklesia en Communitas gesond gebly en verstewig. Hoewel ons rapporteer aan verskillende sisteme voel ons diep verbind aan mekaar en kan ons ʼn hele aantal projekte saam inisieer en ontwikkel tot voordeel van die breë kerk. Ekklesia het intussen van krag tot krag gegaan deurdat ʼn groeiende groep kerke deel geword het van dié instansie. Verbeeldingryke projekte word aangepak soos die Word en Worship-; Fresh Expressions SA- en die Gevorderde Sertifikaat-kursus. Tans is Ekklesia besig om met die Fakulteit te onderhandel oor die moontlikheid van ʼn Gemengde graad-program om kerke wie se leraars nie voltyds kan kom studeer nie, te help met ʼn deeltydse opsie vir teologiese studies.

Aangesien die fokus van Communitas as netwerk baie goed saamgeval het met die VGK se geïntegreerde bediening aan gemeentes, is daar besluit om Communitas te stig as ʼn eenheidbediening tussen die twee kerke. Die twee moderators, Hannes Koornhof en Allen Boesak het van die gesprekke gelei en opgetree as die gassprekers by die stigtingsgeleentheid op 17 September 2007. Dit sou telkens blyk dat nie almal in die VGK gereed was vir ʼn eenheidsbediening op hierdie terrein nie, oa omdat die bediening op gemeentevlak soveel sou verskil tussen NG en VG gemeentes. Tog het die gedeelde leierskap van Communitas volhard dat dit ter wille van die eenheid van die kerk belangrik is dat Communitas ʼn eenheidsbediening bly. Daar is voortdurend planne gemaak om VGK kapasiteit in te koop en so het Pieter Grove; Gordon Dames; Ronnie Noemdoe; Peter Adams en Andrew Esterhuizen deurlopend deeltydse dienste gelewer. VGK leiers soos Mario Ferries; Johan Botha en Moses Baartman, het as raadslede of moderatuurslede onvermoeid bly werk om die dienste in die VGK bekend te stel aan uit te bou.

Die netwerk het stelselmatig al hoe hegter geword en uiteindelik het van die taakspanne wat in Bellville was na Stellenbosch getrek: Jeug; Vroue en NGGO. Om die sinergie te verstewig is Protokol ontwikkel om maandeliks dienste aan gemeentes te bespreek en ʼn gesamentlike strategie vas te maak. Ons het ook al hoe meer vanuit ʼn geïntegreerde begroting begin funksioneer. Hierdie integrasie en sinergie het tot gevolg gehad dat gemeentes nou ʼn veel meer holistiese en geïntegreerde diens ontvang het. VBO, Predikantebegeleiding, Jeug en Familie, Vroue en NGGO  het nou ʼn uitgesproke missionale agenda begin vestig in gemeentes. Ons het letterlik dienste gelewer met dieselfde teologiese en ekklesiologiese vertrekpunte. Ons het dus nou nie net meer gemeentes kom help nie, maar kon baie meer intensioneel leiding gee dmv ons onderskeie dienste.

In 2011 het die Weskaap Sinode die diensgroep struktuur goedgekeur, wat basies op die templaat van wat toe reeds by Communitas gevestig is, gebou is. Weer ʼn voorbeeld van eksperimentering in een deel van die sisteem wat nou uitgebrei het na die hele sisteem. Soos wat die integrasie tussen die dienste verhoog het, het Communitas se vermoë tot innovering ook verbeter. Vanuit protokol kon ons dieper patrone begin raaksien en saam strategie ontwikkel om die uitdagings aan te spreek.

As ek terugdink aan die tien jaar van Communitas se geskiedenis en ook die voorafgaande jare van BUVTON is dit die innoverende vermoë van die span wat vir my uitstaan. Met innovering word bedoel dat ons vernuwing sien as iets wat diep in die sisteem of kultuur van die gemeente plaasvind wanneer daar vanuit die diepste teologiese oortuigings nuwe ontwerpe gemaak word om die bediening te laat grondvat in die veranderende konteks van ons gemeenskap. Ons sal in al ons innoverings-pogings lank en diep nadink oor die teologie en ekklesiologie – in die proses dikwels tyd maak om weer die Bybel oor die saak te bestudeer – en dan saam met gemeentes wat reeds innoveer, bedieningsontwerpe te maak wat ons oortuigings oor God se bedoeling vir die kerk vergestalt. So kon ons deelneem aan ʼn diep liturgiese hervorming mbv die RCL en die leesrooster. En so het ons leiding kon gee deur middel van die Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes om die nuwe verstaan van die missie van die kerk en die missio Dei te laat grondvat in gemeentes.

Toe VTO van ʼn vrywillige na ʼn verpligte VBO verander het, het ons die konsep van kursusse begin transformeer as “containers” vir transformasie deur ook te fokus op vaardigheidsontwikkeling en formasie. So in #Imagine gebore uit ons verleentheid met ʼn tienerbediening wat nie meer werk nie, en kon ons op versoek van die kuratorium help met die ontwikkeling van die Seminarium. En ook op uitnodiging van die Fakulteit die MTh in Bedieningsvorming herontwerp as ʼn kursus in missionale leierskap. Hieruit is die Sertifikaat-kursus gebore.

Ons innoverende ingesteldheid het die versorging van predikante omvorm tot ʼn holistiese begeleidingsproses rondom die Predikantebegeleiding-sentrum en die daaropvolgende fase van begeleiding olv ʼn mentor. So is die program vir vroue: Vroue met Vlerke ontwikkel wat die bediening aan vroue kon transformeer. Dit was Communitas wat Fresh Expressions besoek het en so kon help om FE SA te vestig.

Hoekom is innovering vir ons so belangrik by Communitas?

Ons sou ook net dienste aan gemeentes kon lewer op aanvraag en waar daar nood is, help met verligting. Met die tienjarige viering het ek baie hieroor gewonder. Ek dink die antwoord lê daarin dat ons glo dat die kerk in diens staan van die Koninkryk, dat Christus se heerskappy deurbreek en dat die Drie-enige God ons nooi om deel te neem aan die ontwikkeling van ʼn wêreld waarin almal die geleentheid behoort te kry om te ontwikkel en te floreer. Dat ons nie geroep is om instand te hou en te bewaar nie, maar om grense te deurbreek en nuwe geloofsgemeenskappe te help skep wat die verdelingslyne van ons samelewing oorbrug met opofferende liefde en die geduldige bou van vertroue.

  • Ons is saam met Newbigin oortuig dat die gemeente werklik die eerste hermeneut van die Evangelie van Jesus Christus is en dat gemeentes daarom God se geskenk aan die wêreld is.
  • Ons glo dat elke gemeente geroep is om in hulle konteks gehoorsaam te wees aan hulle roeping en dat God aan gemeentes al die bronne en gawes sal gee om hulle roeping te kan waar maak.
  • Nee, ons glo nie gemeentes moet ten alle koste en in alle omstandighede groei nie, maar wel dat ons in alle omstandighede gehoorsaam moet wees. Ons is immers draers van dié waarheid wat ons as geskenk van die Gees ontvang het.

In die lig hiervan is die uitdagings wat gemeentes nou in die gesig staar, geleenthede tot innovering om ons lewe in ooreenstemming te bring met die Evangelie van Jesus Christus (Fil 1:27)

Communitas is tien jaar oud vandag, ons is dankbaar is meer as ooit gemotiveer om die geleentheid wat ons gegun word te benut om, soos Pat Keifert dit uitdruk, in, saam, langs, onder en soms teen gemeentes ʼn reis te onderneem waarin ons oop is om gevorm te word deur die Woord en Gees tot gemeenskappe waarin die Koninkryk van God sigbaar word.

By ʼn ander geleentheid moet daar ook gekyk word na die verhouding met die akademie; die boeke en programme wat ons gepubliseer het en die talle konferensies wat ons oor die jare gehou het.

Maar nou eers:  dankie aan hulle wat die pionierswerk gedoen het en vir die nuwe span, Theunis, Andriette, Pieter, Eddie, Andrew olv Gielie saam met al die ondersteuningspersoneel en die talle medewerkers, mag daar nog vele innoverende werk vanuit Communitas gebore word wat in diens staan van die Koninkryk.

Frederick Marais

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment