{ARGIEF}

Hulde aan Freddie Schoeman

Nelis Janse van Rensburg bring treffend hulde aan Freddie Schoeman van die Oostelike Sinode, wat gister skielik oorlede is.
“Freddie Schoeman se skielike heengaan vandag, is vir die NG Kerk ‘n reuse-verlies. Hy was ‘n toegewyde leraar, pastor, priester, begeleier van mense, wonderlike liturg, uitnemende teoloog, dosent, leier, denker, innoveerder, profeet. Met sy skerp intellek, wydbelesenheid en heelhartige verbintenis om God in sy beweging in die wêreld te volg, het hy ons gehelp met diep insigte in Godskennis en menswees.
Freddie was onder baie meer onder-voorsitter van die Oostelike Sinode se Diensraad, voorsitter van die Algemene Sinode se Taakspan Vir Missionale Transformasie, NG Kerk verteenwoordiger in die bestuur van die Seisoen van Menswaardigheid, leier in die Taakspan vir Liturgie en betrokke by die ontwikkeling van preekprogramme en liturgieë. (André Bartlett skryf: ‘Freddie het ‘n fyn aanvoeling vir liturgie en ook ‘n uitgebreide kennis van die geskiedenis van die erediens en die ontwikkeling van die kerklike jaar gehad. Hy het ‘n waardevolle bydrae gelewer as lid van die eindredaksie van die “Handleiding  vir die Erediens” en het ook gereelde liturgiese bydraes gelewer vir die eredienspublikasies “Woordwyser” en “Woord en Fees “.’)
Hy het ook in die Seisoen van Luister ‘n leidende en deurslaggewende rol gespeel. Hy het ook in talle sinodale werksaamhede leiding geneem en ‘n rol gespeel. Intussen het hy sy gemeente getrou bedien en begelei.
Sy deeglikheid en hardwerkenheid het menige hardwerkende kollegas telkens beskaam.
Maar dit was sy menswees, sterk en sag, gefokus en ruimhartig, taak- en mensgerig, wat my sal laat verlang na Freddie. Sy kalmte onder druk, lojaliteit en hulp, omgee en vriendskap het oor die afgelope jare vir my en talle ander oneindig baie beteken. Ons gaan swaar die leemte vul wat sy heengaan laat.
Ons bid vir Alma en sy kinders. Ons kan maar net raai hoe hulle voel. Mag ons almal in hierdie dae, ingeneem in die verhouding tussen Vader, Seun en Gees, ervaar hoe God ons troos en saamneem in die koms van sy koninkryk.
Ons opregte simpatie gaan ook aan sy gemeente, Lyttelton-Oos, sowel as die Oostelike Sinode.”  *
Frederick Marias, PSD vir Kerklike Opleiding by Communitas op Stellenbosch, voeg by:
“Freddie was ʼn medewerker by Communitas en het o.a. help ontwerp aan die Sertifikaatkursus en van die modules aangebied. Hy was sedert 2016 ook voorsitter van die VBO-Forum.
Ons eer sy nagedagtenis en bid vir sy vrou Alma, hul kinders en kleinkind.