Dit gaan goed met die NG Kerk

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

DIT GAAN GOED MET DIE NG KERK!
(Die vier leraars van NGK Jeffreysbaai besoek gemeentes oor die land – Feb 2007)
Dit het alles om die ontbyttafel begin. Ons vier
Jeffreysbaai priesters saam met ons aide de camps.
Elkeen van ons het ‘n “pastorale hulpleraar” om ons te
help met huisbesoek, bejaardebesoek, siekebesoek en
watter ander besoek ook al van ons gevra kan word. Een
maal per kwartaal ontbyt ons saam, en dan skinder ons ‘n
hond uit ‘n bos uit. So het dit gekom dat een van die
hulpe pas uit Pretoria terug is, waar hy en sy vrou die
nuutste sensasie in Gauteng gaan ervaar het.
“Man, julle moet gaan kyk – dis te wonderlik om te glo!
So professioneel!” Een woord op die ander, en soos dit
met ‘n klomp dominees gaan, besluit ons daar en dan:
Jeffreysbaai se dominees moet noorde toe, om te gaan
afkyk, om te gaan leer, om Jeffreysbaai met nuwe
entoesiasme te kan lei.
Die kerkraad was ingenome met die plan. Sonder enige
vrae het hulle die geld voorsien, en voor ons ons oë
uitvee is ons op die lang pad boontoe.
Ons eerste stop was Bloemfontein, daarna Johannesburg,
tot bo in Pretoria, waar ons sommer ook met ‘n dominee
uit Waterberg kon kuier, weer terug Bloemfontein toe, en
na besoeke aan die leiers van 14 gemeentes, eredienste in
5 gemeentes, en op die koop toe ‘n kursus in Powerpoint
Presentations, was ons terug by die huis.
Vuur en vlam, amper soos Petrus en sy pêlle. Sit jy nou
nog die g(G)ees van Jeffreysbaai se wind daarby, en dit
word al hoe moeiliker om rasioneel en rustig te vertel wat
ons alles geleer het!
Kom ons begin by die ding van die visie. Ons het van
voor af geleer dat ‘n gemeente in elk geval ‘n visie het.
Formuleer jy hom nie, weet jy nie mooi waarheen jy op
pad is nie. Formuleer jy hom wel, gee God vir jou ‘n
kragtige tool, nie soseer om al die eendjies van jou
doelwitte en jou beplanning en jou struktuur in ‘n ry te
kry nie, maar veel meer om jou gemeente se mense saam
te bind en te motiveer en te energeer. Nog belangriker
egter, die visie sê wie ons is, waar ons vandaan kom, en
waarheen ons op pad is. Lidmate wat die visie uitleef,
leef ons gemeente se kultuur en identiteit. Hierdie kultuur
en identiteit word natuurlik bepaal deur die gemeente se
verhaal en mense en leiers en omgewing, maar dit word
ten diepste bepaal deur God self. God het die gemeente
met ‘n doel juis op hierdie plek geplaas, Hy wil hierdie
gemeente stuur om deel te word van dit waarmee Hy
reeds besig is. Ons visie help ons om ons missionêre
identiteit te ontdek en daarnatoe te leef. Dat ons dit kon
leer en prakties kon sien werk is seker die grootste
winspunt van ons besoek.
Dit is dus verskriklik belangrik om niks aan te pak as dit
nie uit die visie uit gegroei het nie. Die visie vertel die
gemeente se storie, en jy kan nie goed doen wat nie die
storie verder neem nie. ‘n Ander woord hiervoor is
“konteks”. Ons het van vooraf besef ons maak in die NG
Kerk te veel van eenvormigheid tussen gemeentes en te
min van die konteks waarbinne gemeentes deur die Here
gebruik word om sy koninkryk te laat kom. Dit sny na
twee kante toe. Die volgende storietjie vertel van die een
kant: Pas na ons terug is hoor ons hoe ‘n groepie
bejaardes in ons gemeente onder mekaar gehoop het dat
die dominees tog net nie met te veel nuwe goed
teruggekom het nie! (Moral of the story: Nie alles wat in
ander gemeentes werk, gaan hier by ons werk nie!) Die
ander kant is egter ook geldig: Dit is krities belangrik om
in ag te neem dat ons konteks voortdurend verander. Ons
kan nie aanhoudend dieselfde dinge doen net omdat dit in
die verlede gewerk het nie. Om hierdie eierdans te kan
loop sal God ons met baie wysheid moet seën!
‘n Gemeentevisie maak ook die lidmate se oë oop vir die
konteks waarin hulle leef. Dit help hulle om met Jesus se
oë daarna te kyk. As lidmate hulle roeping ontdek sien
hulle skielik mense se nood in ‘n ander lig. Die verhale
van gemeentes se gemeenskapsbetrokkenheid was
oorweldigend. Een gemeente het ‘n speelpark op hulle
kerkterrein waar kinders enige dag van die week veilig
kan kom speel, ‘n ander gemeente het ‘n gastehuis wat
huisvesting bied vir hospitaalpasiënte se familie,
speelgroepe en kleuterskole en selfs junior laerskole is
algemeen, ‘n ander gemeente bou ‘n groot lapa waar
enige mens uit die gemeenskap kan kom braai en agter
veilige heinings kan ontspan, en dan praat ons nie eers
van die werkskeppingsprojekte en HIV/Vigs programme
en voedsel- en klere voorsiening en pastorale sentrums
waar enige iets van huweliksvoorligting tot mediese
bystand tot traumaberaad tot geestelike begeleiding deur
professionele hulpverleners uit die gemeenskap gedoen
word nie. As God eers lidmate aan die droom sit is daar
geen keer aan hulle nie.
Die visie gee dus betekenis aan elke enkele gemeente
aktiwiteit. Dit bepaal die eredienste, dit bepaal die
begroting, dit bepaal die manier en die inhoud van die
kategese, dit bepaal die samestelling en funksionering
van die leierspan, dit bepaal die manier hoe die gemeente
se administrasie werk, selfs die pastoraat kry nuwe
betekenis uit die visie. Een gemeente vertel hoe hulle
pastorale sentrum nie sukkel om vrywilligers te kry nie,
want elke persoon wat ondersteun word word gehelp om
te verstaan dat God hulle swaarkry gebruik om weer
ander se swaarkry te help verlig. “By ons”, sê die
dominee, “is pastoraat nie net om mense te troos nie, dit
doen ons ook, maar ons troos hulle deur van hulle
dissipels te maak”.
Die visie bepaal ook die geboue. Net soos wat baie
gesinne na ‘n groter huis moes trek toe die kinders begin
kom, of ten minste aan die huis moes bybou, net so moet
elke gemeente ook maar van tyd tot tyd weer kyk of hulle
“woonhuis” (en ook God sin!) nog voldoen aan die
behoeftes van hulle roeping en hulle konteks en hulle
visie. Ons is getref deur die toeganklikheid vir die
eiesoortige behoeftes van die jeug, die ruimte vir gebed in
2
‘n kapel of ander stil ruimte, en die manier waarop
erediensruimtes ingerig word om mense te help om tuis
en ontspanne te voel. Kerke se geboue word ‘n nuwe
lewensruimte, ‘n familiehuis, by party gemeentes selfs ‘n
geestelike mall met koffiemasjiene, tafeltjies onder bome,
boekwinkels, gedenkmure en inligtingstoonbanke.
Hoe groter die gemeente, hoe belangriker word dit om
doelgerig en bepland te kommunikeer. Kommunikasie
het baie te doen met wat die leiers aan die gemeente sê.
Die gemeentes wat ons besoek het, doen dit omtrent
sonder uitsondering uitmuntend. Die skriftelike
kommunikasie (aankondigings, kalenders,
inligtingsbrosjures, ens) is strykdeur van ‘n hoë gehalte,
professioneel, in kleur, met grafiese voorstellings, prente
en foto’s, interressante en pakkende skryfstyl, uitstekende
drukwerk, ens. Die leiers kommunikeer hulle boodskap
ook op innoverende maniere in die erediens en deur
middel van omgeegroepe en die hele leierskapstruktuur
van die gemeente. Aan die ander kant luister die
gemeenteleiers baie doelgerig en intensief na wat
konkreet in die lewens van hulle gemeenskappe aangaan.
Hulle probeer verstaan wat hulle lidmate se behoeftes is,
maar hulle luister ook na die nood en die vrae van die
omgewing waar God hulle gemeentes geplaas het.
Dit was vir ons lekker om te sien hoe elke gemeente waar
ons was moeite doen om na God se Woord te luister.
Baie volg die luisterseisoen, ander volg die Wandel in die
Woord patroon van die Gestuurde Gemeentes
Vennootskap, van die gemeentes stuur gereeld hulle
leiers op ‘n wegbreek om te gaan stil word en God se wil
vir die gemeente te ontdek. Die geheim is uiteindelik om
die hele gemeente op ‘n reis deur die Woord te neem.
Eredienste, omgeegroepe, kategese en jeuggroepe, almal
luister doelgerig saam na dieselfde tekste en temas.
Hoe groter die gemeente, hoe belangriker is dit om die
diversiteit van die gemeente nie net te erken en daarvoor
ruimte te maak nie, maar om dit te vier as ‘n gawe van
God en om dit in te span om die diverse gemeenskappe
waarbinne die gemeente leef met sy liefde te bedien.
Eredienste word ingespan om die behoeftes van
verskillende ouderdoms- en spiritualiteitsgroepe aan te
spreek, lidmate het ‘n keuse om in wyke of omgeegroepe
bedien te word (alhoewel omgeegroepe by omtrent al die
gemeentes die primêre vorm van bediening aan lidmate
is), en dan is daar natuurlik ritse en ritse verskillende
bedieningsaktiwiteite waar lidmate hulle roeping en
gawes kan uitleef. Lidmate se lewenstyle verskil ook al
hoe meer. Baie is net op Sondae beskikbaar, en daarom is
daar gemeentes wat geen jeugaktiwiteite gedurende die
week reël nie. Alles vind net op Sondae plaas. Aan die
ander kant het party van die stadsgemeentes ontdek ‘n
betekenisvolle groep van hulle lidmate vlug oor naweke
weg van die stad af – hulle is nooit op Sondae in die
gemeente nie. Vir hulle word daar op Woensdagaande ‘n
erediens gereël wat amper ‘n duplikaat is van die
gewonde Sondag oggenddiens.
Groter gemeentes het gewoonlik groter groepe
jongmense, wat dit moontlik maak om meer direk aan te
sluit by verskillende ouderdomsgroepe se spesifieke
behoeftes. Dit het ons veral getref hoe ouers en gesinne
bereid is om lojaal in te skakel by gemeentes wat moeite
doen met ‘n betekenisvolle baba- en kinderbediening.
Van die gemeentes wat ons besoek het spandeer geweldig
baie geld en energie aan hulle kinderbediening – spesiale
lokale, projektors, klankstelsels en voltydse personeel.
Ons was ook by tiener eredienste wat deur omtrent geen
volwassenes bygewoon word nie, gewoon omdat dit so
tienergerig is dat volwassenes daar glad nie tuis voel nie.
Dit was egter ook mooi om te sien hoe hierdie selfde
gemeentes moeite doen om rondom die eredienste ‘n egte
intergenerasionele bediening tot stand te bring, waar
jonges en oues saamkom om mekaar betekenisvol te leer
en te bedien. Die NG Kerk het oor jare ‘n ryk tradisie van
jeugbediening opgebou, en dit word stewig in stand
gehou.
Ons moet ook iets sê oor leierskap. Gemeentes wat
dinamies en vernuwend wil groei kan dit nie doen as die
leiers van die gemeente nie dinamies en innoverend is
nie. Wat ons die meeste beïndruk het is dat die leiers op
datum is met die nuutste teologiese kennis, en goed
geskool is in leierskap en bestuurswetenskap. Ons was
voortdurend getref deur die leiers se entoesiasme en hulle
roepingsbewustheid, asook deur die trots wat uit hulle
straal as hulle oor hulle gemeentes begin praat. Die
leierskapstrukture maak ruimte vir direkte inspraak deur
lidmate, deur seker te maak die demografiese groepe (in
terme van geslag en ouderdom) in die gemeente is goed
verteenwoordig. Dit is selfs een gemeente se beleid om
altyd iemand op die kerkraad en in alle kommissies aan te
stel wat minder as ‘n jaar in die gemeente woon.
Bestuurspiramides word so plat as moontlik gehou. Die
dae is verby dat die dominees êrens eenkant gaan sit en
besluite neem oor die gemeente se bediening. Alhoewel
die dominees baie tyd saam met mekaar spandeer om
saam met mekaar teologies te groei, word die lidmate van
die gemeente altyd ingetrek as die gemeente se bediening
beplan word. Lidmate word ook ongelooflik bemagtig vir
en vertrou met die bediening van die gemeente. In groot
gemeentes kan die dominees (en ook die kerkraad!) nie
by alles wees nie, en dit maak die deur oop vir lidmate
om ten volle verantwoordelikheid te aanvaar vir die
gemeentelewe.
Was ons toer die moeite werd? Miskien het ons te min
uitgevind oor wat nie in gemeentes werk nie, miskien het
ons te veel met die dominees gepraat en te min met die
lidmate self, ons het ook gewonder of ons nie meer by
groot plattelandse gemeentes moes uitkom en minder by
die gemeentes in die stad nie, en ons dink dit sou goed
gewees het om ‘n paar lidmate uit ons leierskap saam te
neem. Nogtans is ons oorweldig deur al die positiewe
goed wat met ons vier predikante gebeur het. Ons eie
identiteit het gegroei, ons roepingsbewustheid, ons
entoesiasme, ons liefde vir mekaar, ons begrip vir wie
ons gemeente is, en ons kennis. Daarby het ons ontdek
dat dit met die NG Kerk baie goed gaan. As soveel
gemeentes soveel moeite doen om God se stem te hoor en
dit te gehoorsaam, kan dit mos nie sleg gaan met ons kerk
nie!

Trackback from your site.

Leave a comment