Uitdaging van ‘n bekende uit die Vreemde!

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Donderdag, 26 Februarie 2009 04:00 
Om in ‘n bitter koue, sneeu bedekte Minnesota deur Vusi Mahlasela met eg Suid-Afrikaanse township folk, blues en soul musiek getrakteer te word is al klaar genoeg om jou siek van verlange huis toe te maak.  Maar as iemand jou nog boonop tydens die agterna ontmoeting met die orkes met ‘n verontwaardigende “Het ek reg gehoor dat julle ook Suid-Afrikaners is?” in Afrikaans groet, dan kry jou hart ‘n ekstra stuiptrekking.

Sy het aan die anderkant van die apartheidskleurgrens grootgeword as ek, en is nou ‘n Humphrey fellow by die Universiteit van Minnesota a.g.v. haar werk in homeless shelters en met domestic violence slagoffers (vroue en kinders) in die Kaap.  Terwyl ons mekaar in Afrikaans leer ken, hoor ek my dogter in Zoeloe gesprek voer met Vusi, en skielik is ek buitengewoon sentimenteel oor die uniekheid van Tutu se reenboognasie.

En nou, ‘n paar weke later, op ‘n Woensdagaand in my tuisgemeente hier in Minnesota (‘n Episcopal gemeente), sit ek en my nuwe vriend uit die Kaap langs mekaar in ‘n Aswoensdag erediens.  Sy met haar nuwe wortels in die Anglikaanse gemeenskap in die Kaap vanuit ‘n Baptiste agtergrond, en ek as ‘n NG predikant in ‘n liturgiese moment in die kerkjaar wat vreemd is aan my gereformeerde tradisie.  En skielik ervaar ek en my nuwe vriend uit Woodstock in die Kaap ‘n dieper identiteit wat veel meer kosbaar is as ons Suid-Afrikaanse konneksie.  Ons kan langs mekaar staan om die as-kruis op ons voorkoppe te ontvang, mekaar omhels eerder as met die hand groet tydens die “sharing of the peace”, en na mekaar uit dieselfde beker drink tydens die eucharist bediening.

Ons vind ons eenheid in die begin van Lydenstyd met ‘n klem op verootmoediging, berou, en bekering.  Ons vind ons gesamentlike identiteit in die kruis van die doop.  En ons vind ons toekoms in die pynlike oorkoming van die 1857 oomblik van swakheid langs die nagmaalstafel.

Is ons gesukkel aan gemeentelike identiteitsvorming te wyte aan ‘n liturgiese verarming, wat ons nou probeer red met ‘n narcissistiese klem op self-ervaring en vermaak in ‘n pragmatiese kultuur van wat werk?
 

Trackback from your site.

Leave a comment