Wat sal dit vir jou moontlik maak om terug te keer NG Kerk toe?

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Dit is nou twintig jaar later. Die lewendige, ondeunde gelaat van die dinamiese man aan die oorkant van die ontbyttafel het sigbaar ouer geword, die plooie meer sigbaar. Maar die gesig wat pret en vreugde uitstraal, die spontane glimlag, het dieselfde gebly.

    Twintig jaar later. Vandag sit ons in ‘n plattelandse hotel en nuttig saam ontbyt. Twee dekades gelede was hy ‘n jeugdige ouderling, ongetroud, in die gemeente waar ek destyds gedien het. Sedertdien het hy verhuis na ‘n ander Oos-Kaapse dorpie, en woon nou al meer as 15 jaar hier.  Intussen is hy getroud, het die pa van vier kinders geword, en is lid, nee, ‘n senior leier, van ‘n groeiende charismatiese gemeente op hierdie plattelandse dorpie.

    Ons paaie het gisteraand onverwags weer gekruis. Gelukkig realiseer die impromptu ontbyt-uitnodiging.  Ek is nuuskierig en wil sommer vroeg in die gesprek weet waarom hy charismaties “gedraai het”?

    “Tien jaar gelede het ek en my vrou besondere dinge van die Here begin beleef”, kom die antwoord – sy gesig nou ernstig. “Die Here het ons diep bewus gemaak dat Hy beslag lê op ons lewens, dat ons nooit ware geluk sal smaak as ons onsself nie voeg in sy roeping vir ons lewens nie, dat ons Jesus radikaal moet navolg. Die honger om Hom te dien, het meer en meer intens geword.  Ons het as egpaar ‘n duidelike roeping ontvang: ons moes uitreik na kinders en hulle begelei in ‘n verhouding met die Here”.

    Is dit nuut?, vra ek.  Julle was tog destyds ook betrokke by die jeugbediening van ons gemeente?

    “Ja, maar nou het dit ‘n passie vir kinders van alle kleure en geure geword. Ons het bewus geword van die nood in die township, van jongmense en kinders wat prakties gesproke haweloos is, die slagoffers van bendegeweld, van verbrokkelde huise, kinders vir wie weinig mense werklik omgee, en na wie niemand uitreik nie. Kinders wat nooit spesiaal voel omdat hulle die onverdeelde aandag van belangstellende volwassenes beleef nie.  Kinders wat nie liefde ervaar nie.”

    In hierdie tyd het die Here ons sy liefde vir ons op ‘n werklik intense manier laat beleef. Ons kon bars daarvan: dat die grote God vir ons omgee. Ons liefhet!  Aanspraak maak op ons lewe. Vir ons liefde en seën gee sodat ons dit kan deel met ander.  Ons het spesiale ervarings met die Here gehad.”

    Ek is nou direk in my vrae – ons het mekaar immers goed geken, en vind steeds aanklank by mekaar: “Hoe vervreem so iets jou van die NG Kerk?”.

    “Eenvoudig”, sê hy. “Ek was naïef genoeg om hieroor te praat tydens kerkraadsvergaderings en by ander byeenkomste met gemeentelede. Ons het getuig, ons was opgewonde, ons het gebid dat ander ook hierdie soort ervarings met die Here sal hê.  Ons het vriende genooi om saam met ons uit te reik – om skole te besoek, met kinders te praat, geleenthede vir kinders uit ander dele van die dorp te reël….”

    “Toe kry ons die trekpas.  Tydens ‘n kerkraadsvergadering het een van die senior ouderlinge, ‘n boere-oom, vir my gesê ons hoort nie langer in dié kerk nie.  Ons skep onrus, ons moet gaan.”

    Ek kan my ore nie glo nie. “Moenie vir my sê julle het vir die omie geluister nie?”, sê-vra ek.

    “Jy weet dalk nie hoe dinge werk op ‘n konserwatiewe dorpie nie”, sê my vriend.  “Ons het geweet ons doppie was geklink. Dalk het ons oorreageer, maar ons het dadelik bedank.  Vir geruime tyd was ons prakties kerkloos, maar mettertyd het ons deel geword van ‘n nuwe, charismatiese kerkplanting op die dorp.”

    Nou loop ons gesprek baie draaie en hy vertel uitvoerig oor die groei van hul nuwe gemeente.  Interessant genoeg het hulle deur al die jare ‘n goeie verhouding met hul voormalige NG dominee behou. “Eintlik was dié dominee die afgelope tien jaar steeds my mentor, totdat hy ‘n ander beroep aanvaar het, ofskoon hy magteloos was om my as lidmaat te beskerm”.

    Aan die einde van ‘n lang gesprek, vra ek: “Wat sal dit vir jou moontlik maak om terug te kom NG Kerk toe?”

    Hy betrap my onkant:  “Dié dag dat die NG Kerk op hierdie dorp besef sy bestaan nie slegs vir haar lidmate op hierdie dorp nie, maar dat sy geroep is om die gemeenskap te dien.  Dié dag wanneer die kerk die Here se liefde ongekwalifiseerd met die mense rondom hulle begin deel, oop arms het vir diegene wat anders as hulle is, maar die kerk nodig het, en verstaan dat hulle geseën is om tot seën te wees.”

    “Ek dag jy sou verwys na ‘n leerstelling of twee, of na ‘n dramatiese geestelike ervaring?”, stamel ek.

    Die lagplooitjies trek saam en verlewendig die ondeunde gelaat. “Liefde, diens, en die seën van ons naaste IS mos die belangrikste leerstelling én die hoogste ervaring van ons geloof”, glimlag die man wat soveel vreugde uitstraal.

 

Trackback from your site.

Leave a comment