Gespreksraamwerk oor Gemeentewees

Written by Frederick on . Posted in Kerkraadskoling

Gespreksraamwerk vir Gemeentewees


Ringskonferensie  Ring van Riversdal
Assegaaibosch Ranch
9 September 2006



Praktiese gemeente-wees vandag



(Hierdie is die raamwerk waarbinne ons met NG gemeentes werk- indien ons met gemeentes van ander denominasies werk sal die proses uitgangspunte dieselfde wees, maar die denominasie se belydenisgrondslag en ekklesiologie verreken word.)



Basiese vertrekpunte



Die Algemene Sinode het 20 stellings (vgl opsomming in eerste bylae van dié dokument) aanvaar as uitdrukking van wat ons glo van die kerk.  Die stellings is opgebou uit insigte uit die ekumene, die Reformasie en nuwere insigte uit die kerklike nadenke in die 20ste eeu.  Dié stellings geniet nie die status van ons belydenisskrifte nie, maar is bedoel as gesprekspunte aan die hand waarvan ons as kerk duideliker rigting aan gemeentes en lidmate kan gee. 


Daaruit is 20 konkretiserende riglyne (vgl opsomming in eerste bylae van dié dokument) gemaak wat gemeentes kan begelei in die vernuwing van hulle bediening.  Dié stellings funksioneer as riglyne wat in enige beplanning van leraars, kerkrade, kommissies en bedieninge asook ringe gebruik kan word.


Wat nou nodig is, is om ‘n praktiese te dink oor die proses van gemeente-ontwikkeling, aan die hand waarvan alles wat in gemeentes gebeur op ‘n verantwoorde manier deurdink en beplan kan word.  Dit sal voorkom dat gemeentes óf vasval en verstrik raak in ‘n bepaalde manier van doen óf vervorm en verbandvreemd begin ontwikkel. 


Dié voorstelle sal egter ook nie direk prakties-voorskriftelik kan wees nie.  Die wydste moontlike variasies vir gemeentes se funksionering moet moontlik gemaak word, sodat hulle kerk van die Here Jesus Christus kan wees binne hulle eie konteks en verstaan van God se opdrag en roeping.



Praktiese raamwerk



Die gemeenskaplike kern van kerk-wees soos die velerlei stemme in die Nuwe Testament dit uitspel, lê in die kerk se verhouding met die drie-enige God.  Dit kom in vier sake tot uitdrukking: ons belydenis oor God self, ons unieke identiteit, ons unieke roeping en ons unieke bediening.


Ons kan die vier sake ook uitdruk met die volgende vier vrae:



  • Wie is God? (belydenis – Vader, Seun, Gees)

  • Wie is ons? (identiteit – waardes, karakter)

  • Wat is ons roeping? (visie & missie– taak binne ons konteks)

  • Hoe is ons veronderstel om die roeping uit te voer? (bediening – dissiplines)

Hierdie vier vrae vorm die basis van die diagrammatiese model wat hierbo weergegee word.  Gemeentes, kerkrade, kommissies en ringe kan die model gebruik om indringend te besin oor die wyse waarop hulle die bedieninge in hulle eie kontekse struktureer.  Die volgende opmerkings kan as riglyn dien:



Wie is God?



Die eerste vraag koppel ons kerkbegrip aan ons Godsbegrip.  Niks kan meer basies wees nie as om dié vraag deurlopend te vra en God te aanbid en te dien vir wie Hy is.  As ons mense opgewonde wil maak oor die kerk, moet ons met hulle oor God praat.


 


 



Vir dié gesprek is die belydenis van die Drie-eenheid belangrik, omdat dit verhoed dat ons te simplisties oor God praat.  Dit verseker dat as ons byvoorbeeld oor onderlinge gemeenskap tussen gelowiges praat, ons dit doen vanuit die gesprek oor die gemeenskap tussen Vader, Seun en Heilige Gees.  Dit help ons om ruimte te maak vir diversiteit sonder om die onderlinge verbondenheid te misken.


 


 


Wie is ons?


Die eerste vraag is telkens ook ‘n basiese vraag as ons oor die res van die vrae gesels.  “Wie ons is?” (die tweede vraag) kan ook gevra word as “Wie s’n is ons?”.  Ons roeping (derde vraag) kan ook as die Missio Dei (God se sending) vertolk word.  Ons dissiplines, bedieninge en ampte (vierde vraag) word vanuit die gemeente se verhouding met God beredeneer.


 


Wat is ons roeping?



Die tweede en derde vraag het met die kern van ons kerkbegrip te make.  Die antwoorde op die twee vrae is nie altyd so duidelik sigbaar in die spesifieke bedieninge van ‘n gemeente nie.  Dit bepaal egter ons waardes en ons visie en daarom in afgeleide sin ook ons bedieninge.  Die antwoorde op dié twee vrae dien dus as teologiese meetinstrumente waaruit ons die sigbare dissiplines van ons bedieninge kan beoordeel.  As ons byvoorbeeld iets verstaan van ons identiteit as een (heilige, algemene, Christelike) kerk, kan ons moeilik verdeeldheid in die kerk in terme van strukture verdedig op enige ander grondslag as ons belydenis. As ons iets verstaan van ons identiteit as algemene kerk, kan ons met groot entoesiasme ekumeniese strukture ontwikkel om ons roeping in die wêreld na te kom.


Die derde vraag is die beste invalshoek om ‘n gesprek in ‘n gemeente te begin.  Die vraag het te make met ons roeping as kerk in die werklikheid van ons eie omgewing (konteks).  Dit word gevorm uit God se Missio Dei – en Sy droom vir die wêreld, waaraan ons ons in konkrete doelwitte verbind.  Ten diepste gaan dit oor die vraag, wat God van ons as kerk verwag om te doen.  Dit moet altyd gekoppel word aan ‘n gereëlde demografiese analise van die samelewing wat ons bedien (byvoorbeeld deur die Eenheid vir Godsdiens-Demografiese Navorsing – EGON).


Die drie-voudige verlossingswerk van Christus as profeet, priester en koning dien as omvattende indeling van wat God ook van sy kerk verwag.  As medewerkers en getuies roep God ons om ook profete, priesters en konings vir mekaar en ander te wees.  Dit beteken dat Hy ons roep en stuur om sy drievoudige taak in die wêreld verder te voer:
• as profete mag ons die kennis van sy evangelie versprei oor die wêreld;
• as priesters mag ons sy genadige liefde deurgee aan almal in nood en
• as konings mag ons publieke getuienis aflê oor reg, versoening, vrede en billikheid (vgl Miga 6:6-8).



Wie is ons?



Die tweede vraag is gewoonlik moeiliker om te beantwoord.  Dit het te make met ons waardes en ons selfverstaan.  Ons glo dat die kerk sy oorsprong in God het en daarom aan Hom alleen behoort.  Dit gee ons geborgenheid en sekerheid.  Dit beteken ook dat ons gedrag en besluite moet wys dat ons aan God behoort.  As beelddraers van God moet die wêreld dus iets van God in ons en ons optredes sien.  ‘n Stel gedeelde kernwaardes kan ‘n sentrale deel vorm van die verbintenis van ‘n gemeente, kerkraad of kommissie.



Hoe is ons veronderstel om die roeping uit te voer?



Die antwoorde op die vierde vraag is gewoonlik die mees sigbare van ons werk in die wêreld.  Waar te veel kreatiwiteit in ons roepingsverstaan maklik tot verskraling van ons kerkwees kan lei, is dinamiese en kreatiewe inkleding van ons bedieninge noodsaaklik om die eise van ons onderskeie omgewings te kan beantwoord.


Ons glo dat die kerk deur die Heilige Gees gelei, bekragtig en vergesel word in die wyse waarop ons ons bedieninge uitvoer.  Dit beteken dat ons in die eerste plek in gebedsafhanklikheid ons bedieninge moet struktureer en ons dissiplines moet uitvoer.


Die Gees gee aan die kerk ‘n aantal unieke heilsgawes (Woord, sakramente, leierskap, lidmate met gawes, samekomste, roeping) met die oog op die uitvoering van ons taak.  Die gawes is nie beperkend nie, maar bedoel om op dinamiese wyse die bedieninge van die kerk te bevorder.  Alle lidmate deel in die gawes en alle lidmate moet gehelp word om verantwoordelik te dien tot eer van God en uitbreiding van sy koninkryk.


Die Gees skakel ons in by sy heilswerk in die wêreld as ons gehoorsaam leef binne vier unieke heils- of geloofsdissiplines:



  • leitourgia (erediens),

  • kerugma (praktyke rondom die Woord),

  • koinonia (onderlinge sorg en steun),

  • diakonia (diens aan mekaar en ander).  

Daar is ‘n breë konsensus dat ons met hierdie vier dissiplines of praktyke die volle reikwydte van ons Christelike dienswerk kan omskryf.  Die voorwaarde is dat ons dit wyd interpreteer en weet dat dit in verskillende vorme kan voorkom. Die meeste gemeentes in die Nuwe Testament het hierdie vier praktyke op die een of ander manier beoefen.


 



 

Trackback from your site.

Leave a comment