Verandering as gehoorsaamheid

Written by webmeester on . Posted in Verandering in gemeentes

I

Terwyl ons in ons laaste jare van kweekskool was, het persoonlike rekenaars sy intrede in ons wêreld gemaak. ‘n Hele paar ouens in die klas het gou rekenaars gehad en oral kon jy gesprekke oor hardeskywe, software, floppies ens hoor wat vir my verdag geklink het. Ek en ‘n vriend van my het besluit dis sommer ‘n nuwe mode wat ons nie nodig het nie.

Later toe ek verder gestudeer het, het ek die weerstand teen rekenaars steeds gehad. Maar dit het geleideliker al hoe moeiliker geraak om alles self te skryf, te laat tik en dan weer reg te maak. Toe te midde van al my gesukkel moes ek eendag die probleem in die oë kyk: ek kon nie ‘n rekenaar hanteer nie; die ding het vir my soos ‘n vreemde taal gevoel wat ek in ‘n week moes aanleer. Onmoontlik.

Dis maklik om te sê ons moet verander. Dis baie moeiliker om te verander as die verandering ‘n mens in ‘n situasie plaas waar die goed wat gebeur vir jou totaal onbekend is.

II

Daar is ‘n tweede rede hoekom ‘n mens ‘n weerstand teen verandering kan hê. En dit is ‘n baie geldige rede.  Veral binne die kerk. En dit het nie te doen met die vrees vir die onbekende nie, maar met die belofte en die verleiding van die onbekende.
Almal van ons ken die krisisse en die probleme in die kerk. Ons weet almal van probleme om ouderlinge en diakens te kry, van mense wat al meer ook in hulle koppe, deel word van ‘n gesekulariseerde samelewing. Ons sien hoe gemeentes kleiner word en dikwels sukkel om finansieël te oorleef.

Die verleiding van verandering lê daarin dat mense maklik kan dink ek moet net die kursus doen of daardie program implimenteer, dan sal alles vanself regkom. As ek dink hoeveel keer mense wil hê ek moet net die één boek lees, of kyk na die een nuwe gemeenteprogram… Alles met die belofte van ‘n nuwe gemeente, nuwe finansies en ‘n splinternuwe bediening.

Of nog erger. Baie mense sien verandering as die afkyk na goed wat “werk” in ander gemeentes of ander denominasies en gaan leen net eklekties met die hoop dat die veranderinge dieselfde resultate ook in hulle eie gemeentes sal hê.

III

Dit was vir my ‘n groot verrassing om te ontdek hoeveel keer die woord “verandering” in die bybel voorkom. Daar is naamlik 11 Hebreeuse en 8 Griekse woorde wat in Afrikaans met “verander” vertaal kan word.  Met ander woorde, ‘n totaal van 19 woorde in die bybel wat in Afrikaanse met verander vertaal kan word.

Dis interessant om in kerklike gesprekke te hoor hoe dikwels mense praat van God wat onveranderlik is. Terwyl dit eintlik ‘n gedagte is wat die Griekse filosowe oor die gode gekoester het en nie die manier is waarop die bybelskrywers oor God praat nie. ‘n Mens kan sê dat God onveranderlik is in ‘n Griekse sin, maar nie in ‘n bybelse sin nie. Want die bybel sê nie dat ons vir God uit sy wese ken nie, maar uit sy dade. (Een van die grondbeginsels van die reformatoriese teologie) En sy dade verander.

Die bybelskrywers sal praat daarvan dat God onveranderlik is in sy trou, maar dit beteken nie dat Hy nie van plan kan verander, Homself op ‘n ander manier in die heilsgeskiedenis kan openbaar of selfs kan berou hê nie. (Soos wat Jona 3:10 dit stel nie – Ou vertaling).

1 Konings 19: Verhaal van Elia en vlug van Agab en Isebel. Terwyl Elia hier net soos Jona in selfbejammering onder die besembos sit, kom ‘n engel van die Here, net soos by Jona en versorg die hooplose profeet. Nadat Elia goed gerus het, begin hy die staptog na die berg Horeb. Hoekom daarnatoe? Nêrens in die verhaal word enige aanduiding gegee dat hy juis soontoe is op bevel van die Here nie.
Maar ‘n mens kan wel verstaan hoekom juis soontoe. Want dit is op die berg Horeb waar die Here vantevore ook uit vuur met Moses gepraat het. En ‘n mens moet mooi let op die geweldige ooreenkomste wat hier geteken word tussen die Godsverskynings aan Elia en Moses.

Eerstens word Elia, net soos Moses beveel; Kom uit en staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan. (Eks 33:19)
En dan in dieselfde taal as God se verskyning aan Moses word die openbaring aan Elia beskryf. Maar met één groot verskil.

En hierdie verskil lê in die drie ontkennings. Luister mooi met hoeveel klem en nadruk dit gedoen word.
Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. (Soos by Moses) Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing.(Soos by Moses) Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ‘n vuur. (Soos by Moses en by Karmel) Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte.

Wat sê die Here vir Elia hierdeur? ‘n Geweldige belangrike ding: “Ek praat nie meer soos voorheen nie. Jy sal My nie meer sien in die dinge waarin die ander profete My voorheen gesien het nie.”

Hierdie verskyning van God aan Elia sê niks anders nie as dat ‘n bepaalde era afgesluit is. Dat dit verby is. God het aan Moses verskyn in donder, in weerlig en vuur. Hy het selfs aan Elia verskyn by Karmel in vuur.
Maar die volk wat by Sinai die donder, die aardbewing, die weerlig en die vuur aanskou het, het binne die volgende veertig dae hiervan vergeet en vir Aäron gedwing om vir hulle ‘n goue kalf te maak.
Agab en Isebel wat die vuur op Karmel aanskou het, het reeds die volgende dag hulle rug hierop gedraai.
In 1 Kon 19 kom God en sê vir Elia: Hierdie era is verby. Daarom die drievoudige ontkenning: Maar in die wind was die Here nie. Maar in die aardbewing was die Here nie. Maar in die vuur was die Here nie.

In die bybelse geskiedenis lê die veiligheid van God se kinders nooit daarin dat dit weer moet wees soos wat dit vroeër was nie. Ons sekuriteit lê nie in die bekende van die verlede of die onveranderlikheid van God nie. Ons veiligheid lê in die getrouheid van God, die God wat gister, vandag en môre steeds – ja elke dag tot by die die voleinding van die wêreld – by ons is. Nie as iets vanselfsprekends nie, maar daagliks as ‘n wonder. Soos die Psalmis dit verwoord: U liefde is elke môre nuut.

Om God se veranderlikheid in die bybel te verstaan, is dit ook belangrik dat ons na die profetiese stemme luister.

Van hierdie stemme is daar talle wat ‘n mens sou kon uitsonder. In ‘n sekere sin verkondig die profete almal dieselfde boodskap. Die een wat ons almal goed ken, is Jona. Die onwillige profeet. Wat sê hierdie boek wat vir ons gesprek oor verandering relevant is?
Dalk in die eerste plek, en meer as enige iets anders, die kerk van die Here Jesus Christus is die agent vir die redding van die wêreld, deur God verkies en deur God aangestel, en selfs in haar ontrou en haar selfgerigte selfbejammering bly sy God se volk. Die een vir wie Hy selfs in haar protes en onwilligheid om saam met God te verander ‘n skadu bied. Die moment waar God die kleinsielige profeet onder die skadu van sy eie Hand toemaak, is miskien een van die mees aangrypendste beelde waarin toewyding van God aan sy geroepenes op ‘n wonderlike wyse bevestig.

Tweedens, die kerk is hier ter wille van die wêreld. Daarom gaan dit in die leef van die kerk na die wêreld toe, oor die lot van mense. Dit gaan oor dinge soos barmhartigheid, omgee, deernis en openheid, veral teenoor diegene wat in die sorg en die omgee die nodigste het. En dalk gaan dit daaroor om na hierdie wêreld ‘n slag te kyk, nie vanuit die vaste kategorieë waarin ons so maklik mense indeel nie, maar om ook ons vooroordele onder die oordeel van God te plaas.
Miskien sal ons in ons tyd dalk verbaas staan oor die gretigheid van die groot stad om na die roepstem van die profete te luister. Dit is, as die profete ‘n slag bereid is om die groot stad werklik ernstig op te neem, om met deernis en solidariteit hierdie groot stad binne te gaan, en om nie van ‘n afstand onder ons selfgemaakte skermpies onsself te beveilig nie.

Derdens en laastens, dit gaan oor ‘n God wat die profeet en die stad, die kerk en die skare ewe lief het. En omdat Hy liefde is, daarom is Hy aan niks anders gebind nie as net sy eie getrouheid en sy deernis vir sy skepsels. Daarom kan Hy van plan verander, daarom kan Hy nuwe en onvoorsiene dinge doen, daarom kan Hy Hom ontferm oor wie Hy wil. Daarom kan Hy selfs die oordeel wat Hy self aangekondig het, in redding verander.

In ‘n sekere sin wil die hele boek sê; niks is vas en seker nie, alles kan verander, omdat alles in die hand van God rus. Daarom is die laaste woord ook die vraag van God, die vraag wat vandag nog met net so ‘n groot stilte beantwoord word: Maar mag Ek nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg en verkeerd is nie, en ook nog baie diere?

Waarom juis hierdie vraag? Omdat dit die moontlikheid vir God oophou om op ‘n totaal nuwe manier op te tree, om ons telkens te verras met wat Hy doen, met wie Hy dit doen en hoe Hy dit doen. Verandering in die bybel is daarom ook niks anders nie as God se nuwe begin met ons.

‘n Mens kan die ekskurs afsluit met die vraag: Waarom verander die dade van God in die heilsgeskiedenis? En die antwoord hierop is juis omdat God ‘n egte geskiedenis met ons meemaak. God is betrokke, op ‘n werklike en ‘n egte manier deel van ons geskiedenis.

Die passie van die profete wat juis daarin om te sê dat God nie soos die gode deel is van onveranderlike natuurwette nie. God “is” nie maar soos wat die gode is nie. God spreek, word teleurgestel, word toornig en verander tenslotte van plan. Hierin sit God se grootheid, sy uniekheid.

Verandering in die bybel dui nie alleen op die getrouheid van God en sy nuwe begin nie; die dade van God roep ook om ‘n menslike antwoord. En hierdie menslike antwoord is gehoorsaamheid. Daarom is verandering in die bybel ten diepste niks anders nie as ‘n appél op gehoorsaamheid. En hierdie gehoorsaamheid is die bereidheid om opnuut na die stem van God te luister. Die bereidheid om af te sien van my eie planne en my eie skemas.

Hierdie gehoorsaamheid hou nie in – soos wat mense dikwels dink – dat ons op ‘n onkritiese wyse deel word van die tydsgees nie. Dit is presies die teenoorgestelde. Ons word geroep om oor die Gees van God te praat, die Gees wat anders is as die tydsgees.
En om dit te kan doen, moet ons die tydsgees ken en verstaan, moet ons die werklike nood van die wêreld en die mense ken.

Die Heilige Gees is immers die Creator Spiritus, die kreatiewe Gees, die Een wat ons oë vir nuwe moontlikhede oopmaak, ons instaat stel om anders te kyk na situasies wat vir ons vasgeloop en verstard lyk.

IV

Die merkwaardige is dat ‘n mens op hierdie pad van opnuut luister na die Gees van God die ontdekking maak dat presies dit eintlik nog altyd die lewegewende beginsel in die kerk was.
Wat word hiermee bedoel?

Karl Barth vertel die storie waarin hy meen die betekenis van die Joodse volk die beste opgesom word. Daar word naamlik vertel dat Frederik die Grote by geleentheid vir sy persoonlike arts, Zimmermann gevra het: Zimmermann, kan jy vir my ‘n enkele bewys gee vir die bestaan van God? Hierop het die dokter geantwoord: Ja, U majesteit, die Jode.

As ‘n mens na die lotgevalle van die Jode oor 3000 jaar heen gaan kyk, is hulle oorlewing ‘n merkwaardige verhaal. Hoe is dit moontlik dat ‘n volk wat reeds vir amper 2000 jaar oor die wêreld heen versprei was sonder ‘n land, sonder dat hulle dieselfde taal gehad het of dieselfde kultuur gedeel het, steeds bly voortbestaan het as ‘n volk?

As ‘n mens na hulle geskiedenis gaan kyk, is die een enkele ding wat ‘n mens opval: die vermoë om die geskiedenis te kan lees en aanpassings te kan maak. Om te kan verander. En soms radikaal te verander. En hierdie verandering het begin by die wyse waarop hulle vir God gesien het, die wyse waarop hulle aanbid het, selfs dit wat hulle geglo het.

‘n Mens kan voortgaan om voorts te sê dat die voortbestaan van die kerk ook deur die eeue heen hiervan afhanklik was. En weereens is dit belangrik om daarop te wys: dit gaan nie hier oor verandering per se nie. Dit gaan nie daaroor dat ‘n mens iets doen omdat almal dit doen of omdat dit ‘n bietjie meer “lewe” in die kerk kan bring nie. Dan is verandering niks anders as ‘n foefie nie.

Dit gaan oor die bereidheid om te hoor wat God van ons in hierdie tyd vra: anders as dit wat Hy dalk van ons 10 of 20 jaar gelede gevra het.

V

In ‘n tyd van verandering is dit uiters belangrik dat ons opnuut erns maak met die tradisie waarin ons leef. Die ramp van die meeste kerklike gesprekke oor verandering is die gebrek aan kennis oor die tradisie. ‘n Mens kan sover gaan om te sê dat alleen diegene wat werklik die tradisie ken en erns maak daarmee mag dit ook waag om erns te maak met verandering.

So het dit kerk dit nog altyd verstaan. En nie alleen die algemene kerk nie, maar meer spesifiek die gereformeerde tradisie. Daarom moet ‘n mens aan die einde van ‘n bybels gesprek oor verandering wys op die belangrikheid van die tradisie. En moet ‘n mens daarop wys dat dit nie sonder rede is dat die Latyn vir tradisie, soos ons Afrikaanse woord, oorlewering, dubbelsinnig is nie. Dit beteken naamlik enersyds iets soos “oordrag, aangee”, maar dit beteken oor “oorlewer” in die sin van verraad, soos toe Judas vir Jesus oorgelewer het.

Ons lewe temidde van ‘n tyd van geweldige maatskaplike, politieke en ander veranderinge. Dit is nie die eerste keer in die kerk se geskiedenis dat dit gebeur nie.
Reeds twintig jaar gelede het ‘n Holllandse teoloog, Okke Jager die opmerking gemaak dat hy dink dat die groeiende kerkverlating nie alleen te wyte is aan onverskilligheid nie, maar ook aan ‘n groeiende belangstelling in die werklik belangrike lewensvrae

Daarom kan ‘n mens alleen die wens uitspreek dat ons vrese nooit groter as ons vertroue raak nie. Maar belangriker as dit, dat ons temidde van die veranderinge nie na veiligheid sal soek nie, maar sal soek daarna om werklik gehoorsaam te wees: Op God se stem en roepe in hierdie tyd.

Trackback from your site.

Leave a comment