Lewenstyl

Spiritualiteit

Gebede

Gemeentes

Dominees

GEBED - blog

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Is kerklik gemeentelike bediening uitgedien?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Algemeen

Die vinnigste groeiende religieuse groep in die Verenigde State van Amerika is  die kategorie wat verklaar dat hulle geen denominasionele verbinding meer het nie. Is effektiewe kerklike bediening nog moontlik? 

Ek lees in die Time-Magazine van 12 Maart 2012 dat die Amerikaanse gelowiges  wat geen kerklike (denominasionele) verbintenis meer het nie, vanaf 1990 tot nou, verdubbel het. Hulle maak reeds 16% van die Amerikaanse Christelike bevolking uit.( "The rise of the None's"  deur Amy Sullivan)
Die vinnigste groeiende religieuse groep in die Verenigde State van Amerika is  die kategorie wat verklaar dat hulle geen denominasionele verbinding meer het nie. Hulle word  in Amerika die sg.  “None’s” genoem. Dit is egter belangrik om raak te sien dat hierdie groep “None’s” nie hulle geloof nie, maar slegs georganiseerde godsdiensbeoefening verwerp het. Slegs 4% van die Amerikaanse bevolking identifiseer hulself as agnosties of ateïsties. Volgens die boek van Diana Butler, “Christianity After Religion” is die afgelope  tien jaar ‘n baie uitdagende tyd vir georganiseerde kerke. Die Rooms Katolieke word gekonfronteer met berigte van seksuele misbruik. Daar is net soveel voorbeelde van negatiewe ingesteldheid by feitlik alle georganiseerde denominasies.  Selfs  die  individuele Megakerke wat geweldige bemarkingsveldtogte geloods  het en ten koste van tradisionele kerke gegroei het, het begin sukkel en hul lidmate verloor belangstelling.


Tog is daar steeds by mense ‘n behoefte om spirituele belewing, asook die van gelowige koinonia.   In 2009 het  ‘n opname van “Pew Forum on Religion&Public life”  vir respondente gevra of hulle enigsins in God glo, of hulle nog gereeld bid en of hulle aan ‘n spesifieke denominasie behoort. Daar is bevind dat 40% van die mense wat nie meer aan ‘n kerk behoort nie (kerkloos) steeds baie religieus is. Baie van hulle verklaar ook dat hulle soekend is na ‘n religieuse tuiste. Mense verwerp nie vir Jesus nie, hulle verwerp dogmatiese organisering daarvan. Daarom ontstaan daar baie onafhanklike geloofsgemeenskappe.
In Amerika is daar deur die eeue baie kreatiewe geestelike leiers wat ‘n groot verskil gemaak het aan die kerklike landskap. Deesdae is die nuwe Amerikaanse geestelike leiers, die organiseerders van die “Emerging church movement”. Hulle is jong dinamiese  mense wat kleiner geloofsgemeenskappe skep.  Die oplossing wat die skrywer van die artikel  vir tradisionele kerke gee is om hierdie nuwe manier van kerkwees te omarm en nie te beveg nie. Die Presbiteriaanse Kerk in Amerika het daarom begin om weer evangeliste te orden (mense wat nie die volle predikantsopleiding het nie).  Die gebruik van leke- predikers het weer opgevlam, sodat kleiner geloofsgemeenskappe gevorm kan word.


Met die lees van die artikel het ek so aan ons eie situasie gedink.  Ek het besef dat tradisionele kerke nie net in Suid-Afrika onder skoot is nie. Dit is ‘n wêreldwye tendens. Die aanval wat op die tradisionele kerk in SA gemaak word vanweë hul politieke geskiedenis, hul gebruike en moontlik ook hul duidelik geformuleerde sekerhede, is nie uniek van die res van die wêreld nie. Ons moet dus nie in afsondering na die transformasie van ons geloofsgemeenskappe probeer kyk nie. Ons sal ook meer as bloot moet kennis neem van die “ermerging chuch beweging” se werkswyse. Ons sal moet kennis neem van gelowiges se behoefte om Jesus op ‘n ander manier te aanbid. Ons sal na ons jong opkomende kerkleiers moet luister en hulle ‘n kans gee om ons te lei!
Met die lees van die artikel het ek baie hoop gekry. Die feit dat mense nie vir Jesus verwerp nie, gee my moed. Dit gee my ook moed om te besef dat al groei hierdie tendens, die oorwegende meerderheid Christene steeds na die georganiseerde kerke gaan. Dit plaas ‘n ongelooflike verantwoordelikheid aan die deur van die kerk om te bly transformeer. Die kerk het dus nog tyd om te transformeer. Die vraag is : doen ons dit effektief genoeg?

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Bid iemand ooit vir my?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Gebed en Spiritualiteit

Soms as ek sukkel om te bid, wonder ek of daar dalk iemand anders is wat ook vandag vir my bid. Ons verseker so maklik vir ander dat ons vir mekaar bid. Dan wonder ek of almal wat so in die verbygaan vir my 'n belofte om gebed gee, dit regtig doen. Het dit nie maar ʼn spreekwyse geword om mense te troos nie. Bid ons regtig vir mekaar?

Op ʼn gereelde basis kom die boodskap van Heb. 7-9 by my op. In die gedeelte word verduidelik oor Christus en die Levitiese priesterskap. Vs. 26 en 27 “ Vir ons was so hoëpriester nodig, een wat heilig is, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars, en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ʼn offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

Die funksie van die hoëpriester is om vir die volk by God in te tree. In Heb. kom bevestig God dat Jesus my hoëpriester is wat reeds met sy offer aan die kruis vir my permanent ʼn pad oopgemaak het na God. Jesus is my Hoëpriester wat elke dag vir my intree by God. Dit beteken: Terwyl ek in my daaglikse lewe besig is met verskillende dinge, weet ek dat Jesus besig is om vir my te bid. As ek deur die donker nag slaap is Jesus besig om vir my in te tree by God. Die Seun van God tree voordurend vir elke gelowige in by God. Daar word dus op hierdie oomblik vir my gebid! Jesus is besig om vir my te bid en Hy hou nooit op nie. Die wete maak my gebedslewe nie net meer aktief nie , maar maak my nog meer bewus van God se teenwoordigheid in my lewe. Soos ek nou hier sit en skrywe kom ek agter dat die wete dat Jesus nou vir my bid - ʼn glimlag op my mondhoeke plaas.

Dankie Here dat ek in my oorvol lewe kan weet dat U vir my bid. Dat daar iemand is wat heeltyd vir my bid ! Here help my om ook met vasberadenheid gereeld vir almal rondom my te bid.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Sondag - die Opstandingsfees

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Spiritualiteit en lewenstyl

Na aanleiding van die vrae wat in die media gevra word oor wat ons op 'n Sondag mag doen en wat nie, het ek weer 'n artikel wat ek destyds daaroor geskryf het gaan opdiep.
1  Waar kom die Opstandingfees vandaan?

Die belangrikste fees wat die eerste Christene gevier het, was die opstanding. Die opstandingsfees was ʼn nuwe fees wat die identiteit van ʼn nuwe radikale geloofsgemeenskap bevestig het. Vandag noem ons dit Sondag. Dit was die enigste fees wat die vroeë Christene gevier het. Dit het natuurlik baie verskil  van die Joodse Sabbat. Die Joodse Sabbat was ʼn fees op die 7de dag, maar die Christelike opstandingsdag was ʼn nuwe fees met nuwe inhoud op die eerste dag van die week.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

ʼn Spiritualiteit van Tevredenheid

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Spiritualiteit en lewenstyl

Die wêreld met al sy ekonomiese krisisse is die gevolg van ʼn lewensingesteldheid van onvergenoegdheid. Dit is geen geheim dat die wêreldwye krisis te wyte is aan die gierigheid van die mens nie. Tog het die  krisis baie mense weer genoop om na te dink oor hulle  ingesteldheid teenoor geld, besittings en wie hulle voor die Here is. Dit het my weer laat dink oor die woord -tevredenheid. Tevredenheid is ʼn leefwyse en spirituele ingesteldheid oor hoe die mens voor die Here leef!

In Psalm 131 getuig Dawid dat hy die punt bereik het van tevredenheid. Hy vertel dat hy geleer het om nie meer homself te verhef en besorg te wees oor groot dinge nie. Hy het kalmte gevind. Hy het die tevredenheid van ʼn baba bereik. Dit is ironies dat dit juis in Ps. 31 is waar hy getuig dat sy “tye” in die hand van die Here is. 
Om ʼn lewenshouding van tevredenheid te hê, is die grootste getuienis dat jy aan die Here behoort! Dit is die geloofwaardigste bewys dat jy in die krag en heerskappy van God oor jou lewe glo! Tevredenheid is die praktiese bewys dat jy glo dat God in beheer van jou lewe is. Dat Hy oor alles regeer. Dit is ʼn belydenis dat jy glo dat God die wysheid het om te weet wat die beste vir jou is ! Dis die grootste bewys dat ek en jy Jesus vertrou! ʼn Ontevrede ingesteldheid ontwikkel waar jy dink jy in beheer van jou lewe en besittings is en jy alleen daarmee te vertrou word. 
Jou reaksie van hoeveel jy betaal word, jou reaksie oor jou huis en inhoud. Selfs jou reaksie oor teleurstellings – dit alles vertoon jou ingesteldheid teenoor God. Tevredenheid plaas as’t ware die seel op jou geloof! Tevredenheid is die bewys dat jy in die heerskappy van God glo. Dit is die bewys dat jy die krag van die genade van God glo en jou geloof uitleef! In Fil. 4:18 verklaar Paulus “Nou het ek alles ontvang en het ek meer as genoeg!”
Ek dink ons moet gereeld vir onsself afvra of ons die genade van Christelike genoegsaamheid uitleef! Dit is ʼn goeie gewoonte(dissipline) om gereeld selfondersoek te doen of jy vrede en tevredenheid vir jou siel het? Soms leef ons onvergenoegd en word deur ʼn onrustigheid gejaag om meer tyd, geld, besittings en plesier te wil bekom. Dit is ook hierdie lewenshouding wat mense toestemming gee om alewig krities te wees en oor alles te kla. 
Jy sien, tevredenheid kan nie net ʼn paar leë woorde wees nie. Dit is ʼn lewenstyl, ʼn innerlike vergenoegdheid! Jou geloofsbelydenis dat God in beheer van jou lewe is en ʼn lewe van tevredenheid is dieselfde ding! Dit is ʼn vertroue in die almag en beheer van God. Dit is om die belydenis van Ps. 23:1  te leef! “Die Here is my herder. Ek kom niks kort nie”
Ons moet egter onderskei wat Geestelike vergenoegdheid nie is nie:

Tevredenheid beteken nie selfvoldaanheid nie (asof jy gearriveer het nie), nie sonder ambisie nie, nie arrogansie nie, maar ʼn hartsgesindheid van vergenoegdheid. Dit beteken ook nie dat ons ophou om hard te werk nie. Diens aan God behoort ons enigste motivering te wees vir harde werk! Indien jy strewe om meer geld te maak moet dit ook onder andere daarom gaan om vir God se werk ʼn groter tiende te kan gee! Dit behoort vir die gelowige oor God te gaan! Dit is God met jou lewe tevrede moet wees!  Tevredenheid is nie tevrede met die wêreld nie maar tevrede in die wêreld!

Ontevredenheid doen 2 dinge aan ʼn mens:
Aan die een kant maak dit jou blind vir al die geskenke/gawes wat God jou gegee het – jou familie, jou huweliksmaat, jou lewe, jou gawes. Ontevredenheid laat jou nie jou eie gawes raaksien nie! Jy sien net die onvoltooide en onvergenoegdheid in almal. Ontevredenheid maak van jou ʼn ondankbare mens, ʼn selfsugtige mens, wat dink sy sukses is sy eie en nie ʼn gawe van God nie!
Die tweede ding wat ontevredenheid doen: dit sorg dat jy nie groei nie. Niemand groei deur te verwyt of te kla nie. Jy begin geestelik groei en ontwikkel die oomblik as jy dinge begin aanvaar: Die oomblik wat jy jou huweliksmaat aanvaar, die oomblik dat jy jou omstandighede aanvaar. Daardie oomblik groei jou liefde.
Tevredenheid is ʼn vergenoegdheid oor God se teenwoordigheid in jou lewe vandag en nie eers in die toekoms nie. My gebed is dat julle sal weet dat God jou liefhet soos jy is !

Quintus

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Wat is die doel van geestelike dissiplines?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Spiritualiteit en lewenstyl



Ons almal ervaar een of ander tyd geestelike droogte in ons lewens, ja selfs dominees! Hiervoor kan daar baie redes aangevoer word. Maar die een saak waaroor ons saamstem is – ons hou nie daarvan nie.
Ons eie oplossing is dikwels om baie goeie voornemens te maak. Ons stel planne op, gaan gym toe, volg ʼn dieet en stel ʼn klomp geestelike doelwitte op soos – om meer gereeld kerk by te woon, meer Bybel te lees, by ʼn groep in te skakel ens. Dit mag dalk ʼn rukkie werk, maar kort voor lank besef ons dat daar weer in ʼn klomp ou gewoontes ingekruip het! Al die besluite en pogings wat ons geneem het, help gewoonlik net ʼn rukkie. Na die eerste paar maande van die jaar is die gym weer leeg en die kerk weer halfvol.


Nou wat moet ons dan doen?

Die antwoord is: Net mooi niks! Paulus leer vir ons in Rom. 3 dat ons van nature so geneig is tot die kwaad dat self ons beste pogings om ons lewens te herstel,  gedoem is. Die skrywer Heinie Arnold het gesê: “Solank as ons dink ons kan onsself red, maak ons ʼn fout. Hoe harder jyself probeer, hoe sterker maak jy die bose in jou”.

Daar is maar een uitweg: Mat 11:29-30
“Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.”

Ware rus en vernuwing is in Christus.

Maar steeds sukkel ons soms. Richard Forster het 3 redes gegee waarom gelowiges sukkel om volhoubaar naby God te leef:
1.    Hulle twyfel of ʼn dieper geestelike lewe en ʼn lewe naby God enigsins moontlik is. Hulle eie onvolmaaktheid wil hulle laat glo dat hulle maar tevrede moet wees met ʼn middelmatige lewe. Uit die Woord weet ons dat dit nie waar is nie. Paulus self bid vir die Efesiërs dat hulle geestelike diepgang sal ontvang.
2.    Die 2de probleem is dat hulle dink geestelike volwassenheid gaan maklik kom. Daarom is mense so lief vir resepte en programme. Ten diepste besef ons dat niks wat regtig ʼn invloed op jou lewe het kom maklik nie, maar glo dit nie altyd nie. Dit is op hierdie punt waar mense leer om oppervlakkig te wees.
3.    Die 3de probleem is dat ons mense net nie weet hoe nie.

Wat moet ons doen vir geestelike vernuwing ?

Moet ons nou weer ʼn wilsbesluit neem soos mense soos bv. ons nuwejaarsvoorneme? Nie heeltemal nie. As ons volhoubare geestelike vernuwing in ons lewe begeer, moet ons God toelaat om self ons lewens te vernuwe op sy eie manier en tyd. Hoe laat ek Hom toe? Deur jou hart en lewe vir Hom oop te maak dat Hy dit kan vernuwe.
Ons doen dit deur geestelike dissiplines of nuwe geloofsgewoontes aan te leer. Deur ʼn nuwe leefwyse maak ons die deur van ons hart vir God oop om ons te verander soos Hy wil.
Geestelike dissiplines is nie maar nuwe wette nie, dit is ʼn lewenstyl in die teenwoordigheid van God.

Richard Forster(Celebration of discipline.)praat van 3 groepe dissiplines:
Dissiplines na binne - soos gebed, meditasie, vas en studie;
Dissiplines na buite - soos eenvoud, diens, oorgawes, en
Gesamentlike dissiplines, soos kerkgang, aanbidding, musiek en feesvier

Adele Calhoun  (Spiritual Disciplines Handbook) verdeel die dissiplines in 6 groeperinge (met ongeveer 60 dissiplines): Aanbidding, oopstel vir God, uitwissing van eie valsheid, jou lewe met ander deel, luister na die Woord, uitleef van Jesus se liefde en gebed.

Dallas Willard (Renovation of the heart) noem 6 veranderinge waardeur jy moet gaan nl. Verander van denke; gevoel, hart, liggaam, sosiale lewe en siel.

Kent Ira Groff (Active Spirituality)praat van die dissipline van die geloofsgemeenskap; dissipline van afsondering; dissipline van hart en verstand; dissipline van diens; en dissipline van roeping .

Trevor Hudson (Signposts to Spirituality) lig  10  bakens uit vir ‘n lewe naby God. Die volgende word o.a. genoem: Christelike geheue; ontvanklik wees vir die koninkryk; liefde vir ons naaste; om God se roeping te ontdek; beoefening van die teenwoordigheid van God ens.

Met hierdie kort samevatting van die boeke, doen ek eintlik ʼn onreg aan die ongelooflike geestelike rykdom van elkeen van die skrywers. Dit is die moeite werd om elkeen (daar is ook heelwat ander) deeglik te bestudeer. Almal het een boodskap in gemeen.  Jy moet Bybelse geloofsgewoontes aanleer wat jou lewe vir God beskikbaar stel- sodat Hy jou al hoe meer kan vernuwe.


Ek dink dis belangrik om nooit uit die oog te verloor dat dit hulle persoonlike geestelike reis is wat hulle met ons deel nie. Jy kan nie maar ʼn ander persoon se geestelike reis net so dupliseer nie. Jy sal ʼn fout maak as jy iemand anders se geestelike reis slaafs probeer navolg. Dan is jy maar weer waar jy was toe jy uit jou eie probeer het.
Die enigste ware dissiplines of geloofsgewoontes wat jy volhoubaar gaan beoefen, is die wat jy self deur die werking van die Heilige Gees en deur gebed - in die Woord van God gaan ontdek.

Begin dus om erns te maak met die Bybel en gebed. Dit is hier waar jy die dissiplines en geloofsgewoontes gaan ontdek wat die Heilige Gees vir jou vernuwing nodig het !!!!

AddThis Social Bookmark Button

Alle kommentaar