Positiewe Ouerskap

Positiewe Ouerskap

In gesprek met ouers

Positiewe Ouerskap RSS Feed
 
 
 
 

OUERS VERTEL HOE HULLE NA KINDERS LUISTER

Ons kyk na die pad om te volg as ons waardes wil vestig:

Doeltreffende kommunikasie → positiewe verhoudings → Veilige ruimte vir vestiging van waardes

Kinders se grootste klagte oor ouers is: ”Hulle luister nie na wat ons sê nie”. Ouers se reaksie: ”Dit is nie waar nie”. Om ons einddoel te bereik, begin ons dus heel voor,  by kommunikasie. Klaarblyklik is ouers van mening dat hulle wel luister, terwyl hulle kinders dit anders beleef.  Wat kan ouers doen om hulle kinders te oortuig dat hulle luister?

Hier volg wenke van ‘n aantal ouers:

  • “Ek moes eers leer om my mond toe te rits”, vertel die eerste ouer. As haar kind nog net begin het om van ‘n probleem te vertel, was sy gereed met ‘n moontlike oplossing.  Sy het gedink sy was ‘n puik ouer. Haar kind was nie dankbaar nie, en het meesal geïrriteerd reageer met: “Ma verstaan nie”.  Sy het nou geleer om enduit te luister en om nie altyd oplossings aan te bied nie.
  • Nog ‘n ouer vertel dat hy moes leer om op te hou om televisie te kyk – dit selfs af te skakel, om met volle aandag na sy kind te luister. Interessant genoeg word probleme nou gouer opgelos en los sy kind dikwels sy eie probleme op voordat hy ‘n woord sê. Bloot die feit dat sy ouer met onverdeelde aandag luister, help hom om self oplossings te vind. Hy bieg dat dit voorheen dikwels gebeur het dat hy later nie mooi kon onthou wat Jannie vertel of gevra het nie. Hy verstaan nou dat dit nie onmoontlik is om gelyktydig aan die televisieprogram en sy kind aandag te gee. Hy bieg ook dat hy nie altyd gedink het wat sy kind sê is so danig belangrik nie. Nou verstaan hy dat, al is dit nie vir hom belangrik dat Jannie se maatjie vandag by die skool lelik met hom was nie, is dit vir Jannie baie belangrik. Pay doen nou sy bes om met sy lyf, oë, ore en hart te luister.
  • ‘n Ma vertel dat sy moes leer om oogkontak te maak.  Voorheen het sy dikwels voortgegaan met kos maak, en terwyl sy met een oor na haar kind geluister het, het sy ook gekonsentreer op wat nog in die kospot moes kom. Grietjie het dan haar storie tot vervelens toe oor en oor vertel, omdat sy die gevoel gehad het dat haar ma nie werklik hoor nie. Nou skakel sy die stoof af, kyk vir Grietjie in die oë en luister met volle aandag. As dit nie moontlik is nie, belowe sy dat sy sal luister sodra die pot aan die kook is. Sy sorg dat sy dit nie  vergeet nie.
  • Nog ‘n ma vertel dat sy ‘n baie sensitiewe dogtertjie het. Sy weer, het ‘n baie sterk en harde stem en soms het haar kind gedink sy raas, terwyl sy eintlik net gepraaat het. Sy let nou baie meer op haar stemtoon en vind dat Anke baie nader aan haar beweeg en haar storietjies met meer vrymoedigheid vertel. Sy het ook geleer om na haar kind se liggaamstaal te “luister”. Bloot deur te leer om goed na Anke se liggaamshouding te kyk, kry sy ‘n goeie idee van hoe dit in die skool gegaan het.

Volgende keer gesels ons oor die waarde “mm” en “eggo”.

Lees ook die vorige insetsel: Die “Waarheid” oor “Waardes”

Bookmark and Share

DIE “WAARHEID” OOR “WAARDES”

Frederick Marais vertel in die boekie “Familie is ‘n Werkwoord”  hoe hy as jong predikant gedink het hy het ‘n roeping om gesinne te leer om weg te doen met die stelsel waar pa en ma die gesag is wat die besluite namens die gesin neem, en dit kinders se taak is om gehoorsaam te wees. In plek daarvan sou hy hulle leer om  as gesin ‘n deelnemende benadering te hê. Hy het gedink hy sou gesinne kon leer dat as pa, ma en kinders  saam besluite neem,  dit met hulle goed sal gaan. Vrugtelose gesprek ná vrugtelose gesprek het hom aan die dink gesit. Hy het agtergekom dat hy nie op die regte spoor was nie, maar waarin die antwoord lê, kon hy nie uitmaak nie. Op ‘n dag het die lig deurgebreek en hy het vir homself gesê: “Jou “stupid”!, die antwoord lê opgesluit in verhoudings. Waar daar gesonde verhoudings tussen ouers en kinders is, sal dit vir hulle moontlik wees om saam besluite te neem en sal dit moontlik wees om waardes te vestig. Dit bring ons weer waar ons verlede week afgesluit het: Die waarheid is dat jy nie jou kind of enigiemand anders op enige manier kan beïnvloed om op ‘n verantwoordelike manier sekere waardes te beoefen as julle nie ‘n positiewe verhouding het nie. Stephen Covey skryf in sy boek “7 Habits of Highly Effective Families” die volgende: “One of the biggest mistakes people make is trying to teach (or influence or warn or discipline) before they have the relationship to sustain it”.

As goeie verhoudings ‘n voorvereiste is vir die oordra van waardes, wat doen ons om daarby uit te kom? Die slegte nuus is dat daar nie ‘n kortpad is nie. Die goeie nuus is dat dit vir almal van ons is moontlik is. Bygesê, dit is harde werk. Dit sal boonop soms nodig wees dat ons van ou, gevestigde sienings afstand doen, om nuwe gesindhede en vaardighede te ontwikkel.

Goeie verhoudings is ‘n voorvereiste vir die oordra van waardes, maar goeie kommunikasie is op sy beurt ‘n voorvereiste vir ‘n goeie verhouding. Goeie kommunikasie begin, anders as wat ons soms dink, nie by praat nie, maar by luister. As ons met ons lyf, oë, ore, hart en verstand luister na wat ons kinders sê, sal dit ons help om begrip te ontwikkel vir hulle gevoelens en ervarings.  As ons dit nie doen nie, is dit asof ons  ons vasloop teen ‘n hek wat gesluit is tussen ons en ons kind. Deur empaties te luister maak ons die hek na goeie kommunikasie oop. Hierdie stap, naamlik luister, kan nooit oorgeslaan word as ons met ons kinders wil kommunikeer nie. ‘n Mens kan tog nie bo-oor ‘n geslote hek by mekaar uitkom nie.

As ons met volle aandag na kinders luister terwyl ons onsself in hulle skoene probeer plaas, dra ons twee boodskappe aan hulle oor: “Ek gee om” en “jy en wat jy sê is vir my belangrik”. Eenkeer het ek ‘n onderhoud gevoer met ‘n seuntjie wat vir gedragsprobleme en swak skolastiese vordering verwys is. Anders as wat ek verwag het, het hy vir veertig minute lank ‘n intelligente gesprek gevoer. Sy ma, wat stilletjies by die deur afgeluister het (dit was die enigste keer dat ek so iets ervaar het!), het verstom gesê dat hy die middag meer gepraat het as wat hy die afgelope ses maande met haar gepraat het. Die verskil was dat ek blaamloos geluister het terwyl sy welmenend ‘n oplossing aan die hand gedoen of gekritiseer het sodra hy sy mond oopgemaak het. Sy het nooit enduit geluister nie. Kinders wil nie noodwendig hê ons moet hulle probleme oplos nie. Hulle wil hê dat ons met begrip na hulle luister. Dalk het julle ook al ervaar  hoe ‘n gefrustreerde kind uitroep as jy praat voordat hy/sy  klaar gepraat of verduidelik het nie: “Ma/ Pa jy hoor nie wat ek sê nie”. Covey sê: “Seek first to understand en then to be understood”.        (Word vervolg.)

Bookmark and Share

DIE VERBAND TUSSEN VERANTWOORDELIKHEID EN WAARDES

Ek is bly dat ‘n ouer vra waarom ons nie ook saamgesels oor waardes nie, terwyl gesprekke daaroor op die oomblik soveel aandag geniet. Hoe, wil die ouer weet, dra ons waardes aan ons kinders oor? Liewe ouer,  dis nie ‘n verskoning vir die versuim nie, maar moontlik is dit omdat waardes en die vestiging daarvan die basis van die POSPAR kursus vorm. Die hele kursus handel eintlik daaroor. Wonder u nog of u ‘n kursus wil bywoon?

Wanneer ouers aan die begin  van ‘n POSPAR kursus gevra word om aan te dui wat hulle vir hulle kinders begeer, kom hulle sonder uitsondering  daarby uit dat hulle hoop dat hulle kinders sal ontwikkel tot volwasse grootmense wat verantwoordelik is en positiewe waardes uitleef. Dit is nie ‘n nuwe versugting nie. In Dr Hain Ginott se boek “ Between Parent and Child” wat in 1956 verskyn het, skryf  hy reeds daaroor. Omdat dit vir ouers so belangrik is, begin ons vandag daaroor gesels.

Volgens Dr ‘ginott is ouers is geneig om baie konkreet te dink oor verantwoordelikheid. Hy  beklemtoon dat reëls ten opsigte van huishoudelike take soos om die kat kos te gee, die gras te sny, die motor of die skottelgoed te was, hoewel dit belangrik is vir die funksionering van die huisgesin,  ongelukkig nie van kinders verantwoordelike mense met positiewe waardes maak nie. Ouers is ook geneig om te dink dat ‘n deurmekaar kamer, onwilligheid om tuiswerk te doen en ongehoorsaamheid daartoe sal lei dat hulle kinders eendag onverantwoordelike mense sal wees en dat hulle, om dit te voorkom, met streng reëls en straf gedwing moet word om te verander.  Ouers het moontlik die mag en gesag om die uitvoering van take af te dwing en dit sal tot skoner huise lei, maar mag dalk nie soveel bydra tot die kinders se karaktervorming as wat ouers graag sou wou hê nie. Almal van ons wat ouers is, weet dat die afdwing van pligte soms lei tot mini-oorloë tussen ouers en kinders. Verantwoordelikheid kan nie van buite deur reëls en pligte geleer of afgedwing word nie.  ‘n Kind kan selfs goeie maniere hê, sy kamer aankant hou, gereeld musiek oefen en steeds onverantwoordelike besluite neem. Verantwoordelikheid  is iets wat van binne groei as dit gevoed word deur die waardes wat kinders van mense kry wat vir hulle omgee en vir wie hulle respek het. Kinders kan met kladpapier vergelyk word. Soos kladpapier ink absorbeer en die ink deel van die kladpapier word as dit daaraan blootgestel word, so absorbeer kinders die waardes waaraan hulle blootgestel word in hulle huise en omgewings, en word dit deel van hulle.

Verantwoordelikheid wat nie geanker is in positiewe waardes nie, kan van kinders anti-sosiale, destruktiewe mense maak. Dit is byvoorbeeld waar dat ‘n lid van ‘n bende misdadigers baie verantwoordelikheid aanvaar vir die ander lede in sy groep. ‘n Lid se waarde sal moontlik gemeet word aan sy vaardighede om in te breek in ‘n gebou.

Positiewe waardes en dissipline wat nodig is om tot verantwoordelikheid te ontwikkel kan slegs binne ‘n positiewe verhouding oorgedra word.  Die verantwoordelikheid daarvoor lê by die ouer. Daarom ondersteun POSPAR ouers om vaardighede te ontwikkel om ‘n positiewe verhouding met hulle kinders te bou deur onder andere in kontak te wees met hulle eie gevoelens en daaraan uitdrukking te gee sonder om te blameer en kritiseer, empaties en met aandag te luister, uniekheid te respekteer en te dissiplineer eerder as om te straf.

Volgende keer gesels ons verder oor waardes.

Bookmark and Share

ONS GESELS VIR OULAAS OOR HUMEUR-VERWANTE PROBLEME

Alle kinders kry nie woedeuitbarstings as hulle kwaad word nie. Kinders wat kwaad is kan ook nors, dikmond en nukkerig  word.  Dit kan aangehelp word as ‘n ouer se dissipline só streng is dat die kind nie toegelaat word om uiting te gee aan sy woede nie. Die kind sal waarskynlik in sy kamer te gaan sit en tob terwyl die woede soos ‘n klont in hom bly vassteek, of hy sal vir  ure aaneen nie praat nie as hy van mening is dat hy te na gekom of iets ontsê is. Sulke gedrag kan ‘n ouer magteloos kwaad maak. Aan die ander kant, omdat so ‘n kind nie openlik opstandig is nie, gebeur dit soms dat die probleem nie raakgesien word nie.

As ‘n ouer se doelwit is dat sy kind sal ontwikkel tot ‘n emosioneel volwasse grootmens wat ook goeie verhoudings met mense sal hê, is hierdie ‘n gevaarlike toestand. ‘n Nors, nukkerige kind kry boonop dikwels moeilikheid in die skool en dit vererger die probleem, want hy kry teëspoed eerder as waardering en liefde van die onderwysers. Die waarheid is dat so ‘n kind meer liefde en begrip nodig het, nie minder nie. Om sy norsheid met streng dissipline te probeer aanspreek verbeter nie die situasie nie, maar vermeerder sy onderdrukte woede. Die gevaar bestaan dat so ‘n kind kwaad deur die lewe sal gaan.

Wat moet die bekommerde ouer verstaan?

Al kry sy kind nie woedeuitbarstings nie, is hy kwaad en kry homself jammer.

Wat kan die ouer doen?

Maak tyd om  na die kind te luister en vind uit waarin hy belangstel. Doen dinge saam met die hom of haar, veral aktiwiteite waarin die kind belangstel, selfs al is dit om na musiek te luister, terwyl jy einlik rugby of netbal verkies.

Wees empaties: Eerder as om die nors kind te betig oor sy houding, kan die ouer probeer uitvind waarom hy nors is. Probeer om jouself in die kind se skoene te plaas:  “Ek kan sien jy is ongelukkig.” Verseker hom dan van jou goeie bedoelings: “Ek wil graag verstaan. Dit sal help as ons daaroor kan gesels.” Help jou  kind om te verstaan dat dit in orde is om kwaad te wees, maar dat dit ook nodig is om probleme op te los. Probeer dan saam na ‘n oplossing soek.

Om hierdie onderwerp af te sluit: As jy jou kind wil help is dit nodig om ‘n goeie voorbeeld te stel. As jy in woede ontplof elke keer wanneer dinge nie na jou sin is nie, sal dit ongelukkig nie jou kind help om sy emosies te leer hanteer nie. Beskerm jou kind teen teveel frustrasie vroeg in sy of haar lewe. Maak seker dat eise wat gestel word ooreenstem met jou kind se ouderdom.

Woede is nie iets wat jy uit jou kind se lewe kan of wil verwyder nie, maar jy kan hom of haar help om dit te hanteer en bestuur.

Bookmark and Share

MY KWAAI KIND SE UITBARSTINGS (VERVOLG)

Soms verdwyn twee- tot driejarige kleuters se humeuruitbarstings en ouers klop hulself dankbaar op die skouer omdat hulle daarin geslaag het om die problem te hanteer. Dan duik dit weer op vier- tot vyfjarige ouderdom in volle glorie op en ouers wonder :”Het ons metodes nie gewerk nie of wat het ons tog nou weer verkeerd gedoen?” Erger nog, hulle begin wonder of hulle ‘n “probleemkind” het.

Die nuwe uitbarstings, wat dikwels volg op ‘n tydperk van redelike emosionele stabiliteit, kondig egter aan dat die kind ‘n nuwe groeifase bereik het, en is nie  die ou probleem wat weer opgevlam het nie. As die kind nou skielik ‘n uitbarsting het omdat hy nog wil speel of televisie kyk as dit badtyd is, of as sy weier om speelgoed op te tel omdat sy reeds besig is met iets anders, laat dit die ouers gefrustreerd en moedeloos voel.  Hulle redeneer dat Jannie of Sannie darem al teen die tyd die reëls behoort te ken en gehoorsaam. Die waarheid is egter dat die weerstand en oënskynlike luiheid spruit uit ‘n magdom nuwe belangstellings en pas verworwe vaardighede. Hulle is so besig met al die nuwe dinge in hulle lewens dat daar, sover dit hulle aangaan, doodeenvoudig nie genoeg tyd is vir onbenullighede soos bad en speelgoed optel nie. Die nuwe aktiwiteite maak  hulle ook moeg en daar is nie genoeg energie vir vervelige, minder aangename take nie. Kinders op hierdie stadium het, volgens hulle siening, eintlik al hulle energie nodig om ‘n magdom van nuwe, interessante sake  te ondersoek.  Dit sal help as ouers gedurende hierdie tyd baie kwaliteittyd saam met hulle  kind deurbring en saam met hom of haar nuwe belangstellings navolg (lees weer die insetsel oor kwaliteittyd).

Dit help ouers ook om hulself daaraan te herinner dat stadiums verbygaan – hierdie een sal ook.  Ouers kan ook saamwerk om die stadium gouer te laat verbygaan. As die ouer verstaan waarom sy kind nou weer geneig is tot uitbarstings, is dit makliker om met begrip op te tree. En onthou dat om begrip te openbaar nie beteken dat reëls opgehef word nie. Die onbegrypende ouer sal gewoonlik sy humeur verloor en sê: “Kom dadelik bad of jy kry met my te make.” As die ouer sy humeur verloor, sal die kind se weerstand vermeerder. Die begrypende ouer, wat in staat is om hom- of haarself in die kind se skoene te plaas, sal sê: “Ek verstaan dat dit ‘n groot prestasie is dat jy geleer het om fiets te ry en dat jy graag nog ‘n bietjie wil oefen, maar dit is nou badtyd. Jy kan môre weer ry.”

Die kind sal dikwels, maar nie altyd nie, positief reageer op sy ouer se empatiese response. Dit mag ook wees dat dit nie gebeur nie en dan kan dit help om hom heel kalm aan te sê om kamer of badkamer toe te gaan totdat hy “reg” (kalm) is. Dit is nie nodig om te reageer as hy uit sy plek van afsondering skree: “Ek haat jou,” nie. Dit is moontlik om terselfdertyd lief te wees vir iemand en hom te haat en dit is beter dat jou kind uitdrukking gee aan sy tydelike haat, anders krop hy dit op en word dit ‘n permanente wrewel. As die storm uitgewoed is, sal hy gewoonlik terugkom en gereed wees om te gaan bad. Ontvang hom met liefde en dit is beslis nie dan tyd vir ‘n prekie nie. Mettertyd sal u kind die humeuruitbarstings ontgroei en sy ouers se hoflike manier van doen en praat oorneem.

Volgende keer gesels ons weer oor hierdie baie aktuele onderwerp.

Bookmark and Share

HOE KAN EK MY KWAAI KIND SE UITBARSTINGS BEHEER?

Ouers is soms verstom oor hulle kleinding van ‘n jaar tot 18 maande se heftige uitbarstings. Teen dié tyd het hulle gewoonlik reeds ontdek dat hy of sy ‘n sterk eie willetjie het. Hy sou reeds kwaai geskree het as hy honger, te styf toegedraai, of ongemaklik was weens een van ‘n verskeidenheid van redes.  Teen twee, as hierdie kind begin loop en praat, raak humeuruitbarstings (“temper tantrums”) nog meer algemeen. Selfs die mees tevrede babas kan op die stadium kwaai uitbarstings kry.

Wat gebeur is dat baba besig is om ‘n persoon in eie reg te word en dat hy sy eise helder en duidelik onder die aandag van sy versorgers wil bring. Hy is nou meer mobiel en nuuskierig, vol energie en is besig om die wêreld te ontdek. Sy dominante dryfveer is om te “gaan” en nie om te “stop” nie. Woede en weerstand is sy natuurlike reaksie op stoptekens. As die ouer hom teveel probeer inperk, moontlik omdat ander familielede dit verwag, kan dit wees dat die uitbarstings erger sal word gedurende die vroeë ontwikkelingsjare en dat frustrasie sal opbou wat ernstige probleme later in sy lewe kan veroorsaak.

Wat kan die ouer doen?

As jou kind weerstand bied en nie sekere kossoorte wil eet of die klere wil aantrek wat sy ouer gekies het nie, of as hy nie ‘n voorwerp wat hy beet kry wil afgee nie, het die ouer twee keuses: Dwing hom om te doen wat van hom verwag word. Dit sal erger weerstand uitlok, maar nou ja, as die kind klein is, kàn die ouer hom nog forseer, want hy beskik oor mag. Die ander moontlkheid is om jouself in jou kind se skoene te plaas en deur sy oë te kyk en waardering te kry vir sy poging tot: “Ek wíl sélf.” As dit nogtans nodig om op te tree, kan die ouer ferm maar vriendelik  wees. Die weerstandige kind sal gewoonlik opdragte respekteer as die ouer die probleem aanspreek en nie die kind nie. Wag net ‘n oomblik en skei eers die probleem van die kind. Sê vir jouself: “Jannie is goed, maar wat hy doen is nie reg nie.“ Verwoord dit dan: “Jannie, die probleem is dat as die bekertjie val sal dit breek, kom ons gee vir jou ‘n ander bekertjie wat nie sal breek nie.”

Om ‘n positiewe verhouding te bou en jou kind se samewerking te verkry is die mikpunt eerder as om ‘n antagonistiese verhouding te skep en ontwikkel. Daar is ongelukkig nie kortpaadjies nie. Dit neem TYD en is ‘n stadige en dikwels vermoeiende proses vir die ouer.

Selfs tydens ‘n humeuruitbarsting help dit dikwels om op ‘n rustige manier die klein kind se aandag op iets anders te vestig waarin hy belangstel – hom te help om sy aandag te verplaas. Dit help ook om sy omgewing te verander. Neem hom na ‘n ander vertrek, bly by hom en kry hom geïnteresseerd in iets nuuts.

Die klein kind met ‘n gebrek aan sekuriteit is geneig tot uitbarstings. Hy het ‘n begrypende volwassene nodig wat altyd binne bereik is. Straf is geneig om die gevoel van onveiligheid te vererger, ook woorde soos “jy is stout”, wat die boodskap oordra dat die kind nie goed genoeg is nie..

Om humeuruitbarstings te voorkom is ‘n veel beter opsie as om dit behandel. Die kind wat honger of moeg is sal makliker uitbarstings kry. Dit help om te sorg dat kinders op gereelde tye eet en genoeg slaap kry. ‘n Kind het ook maatjies nodig en speelgoed wat pas by sy ontwikkelingsfase (dit hoef nie duur te wees nie).

Ons gaan volgende keer voort met humeuruitbarstings by groter kinders.

Bookmark and Share

DIE “STEMME WAT IN OUERS SE KOPPE PRAAT”

Sarie het ‘n pragtige dertienjarige graad 7 dogter wat reeds fisies ontwikkel het en ouer en meer volwasse voorkom as wat sy regtig is. Sy is boonop spitsvondig en dikwels die middelpunt van ‘n geselskap. Grietjie en haar ma het ‘n goeie verhouding, maar Sarie rol snags bekommerd in haar bed rond oor haar mooi kind. ‘n Stemmetjie in haar kop sê: “Jy mag nie toelaat dat hierdie dertienjarige kind grimering dra nie.” Die waarskuwende stemmetjie maak Sarie paniekerig. ’n Warm gloed spoel oor haar en sy voel benoud, asof sy nie asem kry nie. Sy voel seker dat iets vreeslik met Grietjie sal gebeur as sy grimering dra, wat haar nog mooier en meer volwasse sal laat lyk. In diè toestand gryp sy na ‘n grashalm. Die volgende dag nooi sy Grietjie vir ‘n melkskommel in haar geliefkoosde restaurant. Toe hulle in ‘n gemoedelike gemoedstoestand is, vra sy dat Grietjie sal onderneem om nie grimering te gebruik voordat sy sestien jaar oud is nie. Grietjie, nie seker waarom haar ma so ernstig daaroor is nie, belowe dat sy dit sal doen.

Veertien dae later gaan Grietjie vir die naweek by haar beste maatjie kuier. Met haar terugkoms vertel sy heel onskuldig vir haar ma dat haar maatjie se ma by hulle kerk se kermis verantwoordelik is vir ‘n “vintage” klerestalletjie. Hulle het gespeel hulle is modelle en het hulle in die klere uitgedos. Sy wys trots vir Sarie die foto’s wat hulle geneem het. Ma Sarie voel hoe die bloed in haar are stol, want dit is duidelik dat die “modelle” op die foto’s swaar grimeer is. Die stemmetjie sê vir haar Grietjie het die ooreenkoms verbreek en sy sal haar nooit weer kan vertrou nie. Sonder om verder te dink reageer Sarie woedend . Grietjie is onkant gevang: “Mamma, ons het net gespeel”. Mamma kap terug: “Maak nie saak nie, jy het nie woord gehou nie.” Grietjie hardloop huilend kamer toe en slaan die deur driftig toe. Beide voel asof dit die einde van die wêreld is.

Sarie tree verstandig op en bespreek die probleem met ‘n berader. Saam kyk hulle terug.

Die berader wonder of Grietjie werklik in haar hart saamgestem het met haar ma se voorstel en Sarie onderneem om daaroor met haar te gesels. Hulle het ook gesels oor Sarie se gesin van oorsprong. Sy kom uit ‘n hegte gesin. Haar ma is ‘n merkwaardige vrou en sy is baie lojaal aan haar, al vind sy dit moeilik dat sy gereeld, nadat Grietjie by haar gekuier het, kritiek het op hoe sy haar kind grootmaak. Dit laat haar ontoereikend voel, asof sy op ‘n ramp afstuur met haar kind se opvoeding. Meteens het sy verstaan dat die stemmetjie in haar kop eintlik haar ma se stem is, wat as gevolg van haar vrees dat sy nie aan haar verwagtinge sal voldoen nie, in haar gedagtes ontstaan het. Deur te luister na die verkeerde stemmetjie, het sy heeltemal ontoepaslik reageer. Sarie het ook verstaan dat die wêreld verander het en dat sy nie meer haar kind kan grootmaak soos haar ma haar grootgemaak het nie. Dit is nodig dat sy haar eie ouerskapsiening ontwikkel en leer om te luister na haar eie innerlike stem wat gegrond is in haar eie wysheid vir die tyd waarin sy en haar gesin leef.

Sarie het besluit om drie dinge te onderneem en het dadelik daarmee begin:

Sy het met haar ma gesels en uitgevind dat sy heimlik baie trots is op haar kleinkind, maar dat dit vir haar moeilik is dat Sarie en haar man vir Grietjie anders grootmaak as wat sy haar kinders grootgemaak het. . Sarie het verduidelik dat hulle in ander tye leef en dat en dat daar as gevolg daarvan ander eise aan hulle gestel word. Haar ma het sekerlik ook nie vir haar grootgemaak presies soos haar grootouers kinders grootgemaak het nie. Vir die eerste keer het hulle soos vrou tot vrou gesels en dit was bevrydend.

Tweedens het sy met Grietjie gesels en om verskoning gevra dat sy so heftig reageer het. Sy kon haar eerlik verseker dat sy haar vertrou. Sy het ook geluister na Grietjie se kant van die saak en het gehoor dat sy ingestem het oor die grimering omdat sy haar ma wou tevrede stel. Beide het verlig gevoel. Grietjie het ‘n uitnodiging na ‘n “meisie” partytjie gehad en Sarie en haar dogter het ‘n heerlike tyd gehad toe hulle saam baie ligte grimering uitgesoek het vir die geleentheid. Toe Sarie vir Grietjie by die partytjie aflaai het, het Grietjie gestraal. Sarie was kalm. Sy het geweet sy kan haar dogter vertrou. Dit was wat haar eie innerlike stem waarna sy diekeer geluister het.

Derdens is Sarie van oordeel dat hulle moet werk aan eie, ‘n goed gedefinieerde ouerskapsiening. Hiervoor kan sy en haar man, Pieter, by Communitas aanklop om in te skryf vir die POSPAR (Positiewe Ouerskap) kursus.

Bookmark and Share

WAT HELP MY OM HOOP VIR DIE TOEKOMS TE HERWIN?

Toe Frederick ons vra om op Chris se mooi idee te reageer, naamlik om die 2000ste artikel met ‘n antwoord op bogenoemde vraag te vier, is ek gedwing tot introspeksie.

My gemeenskapsbetrokkenheid is beperk tot twee sake waaroor ek passievol is. Een daarvan is ‘n positiewe ouerskapkursus (POSPAR). Ek is betrokke by die kursus en die Positiewe Ouerskap Kommunitas Blog. Die ander is ‘n welsynsorganisasie vir wie ek fondse insamel. Hoewel dié aktiwiteite ligjare van mekaar verwyder is, help beide my op dieselfde manier om hoop vir die toekoms te behou: In albei gevalle word my hoop vir die toekoms gebou deur die goeie wil van die mense by wie ek betrokke is – die wil van sogenaamde X-generasie ouers (pa’s én ma’s) om nuut te dink oor hoe hulle kan bydra tot hulle kinders se groei en ontwikkeling om hulle Godgegewe potensiaal te bereik en die wil van die gemeenskap om by te dra tot die groei van weerlose mense. Lees weer die voorlaaste artikel (Daar is ‘n draai in die gety) om te sien dat diè stelling oor die generasie X ouers deur verantwoordelike navorsers gedeel word. Dit is die eerste generasie ouers wat gewillig is om te erken dat tye onherroepelik verander het en dat dit vir ouers nodig is om ‘n draai te maak om ‘n nuwe siening, paradigma, gesindheid, manier van dink (noem dit wat jy wil) te ontwikkel.

Dit word verder gestaaf deur die feit dat daar onder andere by ’n Stellenbosch gemeente vertel word dat daar vir die eerste keer waglyste is van ouers wat ’n POSPAR-kursus wil volg. Dit is ouers wat gewillig is om te erken dat die kennis wat hulle geërf het nie voldoende is om die uitdagings van ouerskap in ’n snel veranderende wêreld die hoof te bied nie. Hulle het die moed van hulle oortuiging om Paulus se opdrag uit te voer, naamlik: “…. laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” (Romeine 12:2(a)). Paulus help egter nie net deur te sê mense, ook ouers, moet nuut dink sodat hulle kan verander nie, maar hy sê ook hoe hulle kan verander en hy bid dat dit sal gebeur: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling , sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom….” (Filippense 1:9). Paulus bid dat mense, ook ouers, meer empaties sal word; sal probeer verstaan wat hulle kinders se behoeftes is, die dinge waarop dit regtig aankom.

Gesinne is die boustene van die gemeenskap en as ouers hierdie twee opdragte uitvoer, en dit lyk asof hulle wil, sal hulle gesindheid soos suurdeeg deurwerk om die wêreld gesond te maak.

Dit is wat my hoop laat behou. Hierdie ontwaking van die ouers, meer as enigiets anders, gee my moed vir die toekoms.

Alta Marais

Bookmark and Share

ONTWIKKELING GEDURENDE DIE TIENERJARE

Hierdie inligting is eintlik oor wat in die lewens van tienerdogters gebeur. Dit sal interessant wees om te hoor of ouers van tienerseuns dink dat hulle kinders se ontwikkeling soortgelyk of verskillend is. Vertel vir ons hoe hulle verskil of ooreenkom met dogters.


Vroeë adolessensie

10 – 15


Middel adolessensie

14 – 17

Laat adolessensie

17 tot vroeë twintigs

Mees algemene kwelling

Is ek gewild?

Mees algemene kwelling

Waar hoort ek tuis?

Mees algemene kwelling

Waarheen is ek op pad?


Ontwikkelingsmylpale Ontwikkelingsmylpale Ontwikkelingsmylpale
Verwerk fisiese, emosionele en kognitiewe veranderinge


Aanvaar groter verantwoordelikheid binne die gesin. Raak onafhanklik van volwasse versorgers.
Stoei om weg te breek van ouers, veral moeder Word bewus van seksuele begeertes Fisies volwasse.

Realistiese selfbeeld met inagneming van fisiese voorkoms en vaardighede.

Intense betrokkenheid by vriende


Om aan ‘n intieme groepie vriende te behoort is belangrik. “As ek iets vir jou doen, wat doen jy vir my?” word vervang met ‘n begeerte om goedkeuring te kry van vriende en volwassenes.


Eksperimenteer meer met bv kleredrag, hare ens.

Mag dwelms en drank beproef.

.

Aanvaar seksuele identiteit en het bevredigende, meer intieme verhoudings met die ander geslag.

Aanvaarding deur ouderdomsgroep is belangrik Minder egosentries met toenemende begrip vir abstrakte waardes.



Kognitiewe Ontwikkeling Kognitiewe Ontwikkeling Kognitiewe Ontwikkeling
Dink nog konkreet


Begin rasioneel en abstrak dink

Oorweeg moontlikhede, begin om in skakerings te dink en nie meer net in wit en swart nie.

Dink meer logies


Dink abstrak. Ontwikkel emosioneel en kognitief oneweredig – sal terselfdertyd morele waardes aanhang en oortree.


Het nog nie begrip vir subtiele verskille nie

.

Individuele vryheid van denke en optrede is belangrik Langer aandagspan
Dagdroom baie graag


Verstaan dat keuses gevolge het en begin verantwoordelikheid daarvoor aanvaar


Kan inligting saamvat en verwerk (sintetiseer)


Kan vooruit dink – na die toekoms




Ouers se verantwoordelikhede Ouers se verantwoordelikhede Ouers se verantwoordelikhede
Verseker tiener dat vergeetagtigheid, ongeorganiseerdheid en emosionele labiliteit normaal is hierdie ouderdom. Beplan saam om maniere te vind om dit te hanteer.

.

Respekteer haar behoefte aan privaatheid. Help beplan sodat die hoeveelheid energie wat spandeer word aan  taak in verhouding is met die uitkoms.
Wees kwistig met positiewe terugvoer as sy iets reg doen.


Besweer haar lae selfbeeld deur elke klein prestasie te beklemtoon. Help om mikpunte te stel
Vermy redenasies. Gee “ek- boodskappe” met kort, duidelike redes.


Beloon haar (moontlik met meer vryheid as sy by die reëls hou). Help om strategieë te beplan
Sorg vir duidelike grense ten opsigte van haar veiligheid. Onderhandel oor reëls ten opsigte van veiligheid.

Dit is ‘n aanpassing van die tabel op p 27 van Michael Carr-Gregg se boek, The Princess Bitchface Syndrome

Bookmark and Share

DAAR IS ’N DRAAI IN DIE GETY

Die nuwe generasie ouers kan hulself op die skouer klop.
Ek haal aan en som op uit ’n onlangse skrywe van Frederick op die “Padlangs met Gemeentes” blog:

In die negentigerjare was daar ’n persepsie dat familielewe besig was om veld te verloor. Die oplossing? Tradisionele rolle van mans, vroue en kinders moes net herleef dan sou die Kaap weer Hollands wees. Dié siening was so gewild dat daar nie eintlik belangstelling was in navorsing oor die onderwerp nie. In gemeentes was die siening dat familielewe belangrik was, maar hulle het probleme ontken of dit afgeskuif op ander instansies, Hulle het ook nie raakgesien hoe die patriargale praktyke wat deur leiers bevorder is, nadelig was vir die vorming van verhoudings binne gesinne en families nie.

Hy skryf verder: Ek het die afgelope tyd tekens begin sien van ’n draai in die gety wat my baie opgewonde maak: ’n Gemeente in die Vrystaat vertel my hoe hulle junior kategese “afgeskaf” het en tuis- of familiekategese in die plek daarvan geïmplementeer het. Dit is met entoesiasme deur jong ouers begroet. Hy vertel die mooiste verhale van hoe hulle dit doen. In die verlede het verskeie gemeentes dit probeer, maar dit het nie geslaag nie.

Dit blyk dat ’n nuwe generasie ouers, die sogenaamde X-generasie (gebore tussen 1965 en 1979) die eerste generasie is waar Pa én Ma graag dinge saam met hulle kinders wil doen. Dit sluit deel wees van hulle geestelike ontwikkeling in. Marilyn Evans noem hulle die “Family first generation.”  (USA Today 12/12/2004). Roger Waite skryf in ’n onlangse artikel in The Sunday Times in London: “Found fathers nurture a family revival” (11/03/2009 p5). Hy beskryf die onverwagse wending treffend: “…even though we are now supposed to live in a ‘broken Britain” a report of the Oxford University researchers argue that for many of us, family life is likely to become more cohesive over the next 20 years.” Uit die navorsing blyk dit:
·    Nie alleen spandeer ma’s 25% meer tyd saam met hulle kinders as 20 jaar gelede nie,
·    Pa’s spandeer byna ’n derde meer tyd saam met hulle kinders as 20 jaar gelede.
·    In 1960 het gemiddeld 12% van alle families elke aand saam geëet, terwyl in 2002 20% dit doen.

Ek begin oplet wat rondom my aangaan en daar ontvou ’n nuwe wêreld voor my oë. Ek sien ouers in die kerk met hulle kindertjies (die ouer generasies verkies wel dat hulle moederskamer toe sal gaan). In my buurt gaan pa’s en ma’s gereeld saans geduldig met hulle kinders stap. Dit is duidelik dat hulle dit geniet om tyd saam met hulle kinders te spandeer. ’n Kollega vertel dat, terwyl hulle tot ’n paar jaar gelede gesukkel het om ouers by ouerskapskursusse te kry, daar nou waglyste is ten spyte daarvan dat hulle meer kursusse aanbied as voorheen.

Ek lees intussen nog goeie nuus: Marilyn Evans berig in USA Today dat generasie X en Y werknemers meer geneig is sal wees as die sogenaamde “boomer” generasie om familie bo werk te stel. The Families and Work Instituse van New York praat van ’n “generational shift” wat ten opsigte van familielewe besig is om plaas te vind. Die verandering in houding het onverwags gekom. Galinski sê: “What I hear all the time from young men is that they want to be different than their fathers, who often worked long hours. They want to be more involved in their children”s lives.” Die volgende verhaal illustreer: “Hoff, a chemist changed his work life to spend more time with his two year old son, Alexander. Hoff works at Abbott Laboroties, and until last April commuted with his wife, Elizabeth, another Abbott employee. But she often had to work late, so they didn’t see Alexander from 7a.m. to 7 p.m. Hoff’s own father, a computer programmer, had often travelled for weeks at a time. “My family is more important than work”, Hoff says. ”I got frustrated because I was missing a lot of quality time with Alex”. With his boss’s cooperation, Hoff started working a 6:30 a.m. to 3 p.m. shift so he could spend several hours with Alex before bedtime. They read, work puzzles, play baseball and just hang out. “Alex is happier now. He just glows and loves to talk about his time with daddy”, Elizabeth Hoff says.
Hier plaaslik weet ek van ouers, beide dokters, wat saam in ’n praktyk is. Hulle maak beurte om middae tuis te bly om by hulle kinders te wees.

Bookmark and Share

Doel

HIERDIE BLOG HET GESKUIF NA COMMUNITAS.

In hierdie blog gaan Alta Marais, bekende aanbieder van die Positiewe Ouerskap kursus, vrae beantwoord wat ouers aan haar vra oor ouerskap. Ouers kan hier kommentaar daarop lewer en vertel hoe hulle die beginsels van positiewe deelnemende ouerskap in hulle gesin toepas. Vra ook hier julle vrae ingesluit in julle kommentaar!

Kalender

September 2010
M T W T F S S
« Feb    
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
27282930  

Skakels

Argiewe

Registrasie en kommentaar

Admin

RSS Begelei mekaar

RSS Gebed

RSS Na-gedagtes

RSS Padlangs met gemeentes

RSS Preekstudies

Popular Posts

Recent Comments

Kategorieë

Dokumente