{ARGIEF}

23ste Adventverhaal van Hoop – 21 Desember 2008
Ek het vanjaar ‘n predikantespan leer ken wat my hoop gegee het. Hulle is nie in ‘n resies gewikkel teen mekaar nie, maar ‘n span wat mekaar ondersteun. Die 4 van hulle is baie uiteenlopend en het verskillende geskiedenisse in die gemeentes op die dorp; sommige is langer en ander korter daar.

Nie al die gemeentelede hou van almal nie – soos dit maar gaan met mense. Ek was verbaas oor hulle volwassenheid om die soort spanninge, waarvan sommige nogal erg kon raak, en geraak het in die verlede, onder mekaar deur te praat. Ek kon sien hoe hulle mekaar gaan haal het as die een agter geraak het. Die feit dat een van die spanlede die VGK leraar op die dorp is, en die ander een ‘n kapelaan by die lugmag het hulle met gemak hanteer soos mense wat besluit het die span is belangriker as dit wat hulle uitmekaar hou.  Ek het gewonder wat hulle geheim sou wees? Watter tegniek hulle gebruik?

Dit is eenvoudig, vertel hulle, ons gaan gereeld ten minste een keer ‘n maand en sonder ons as span af in gebed en stilte voor die Here.  Dit was nie vir almal van ons ewe maklik aan die begin nie, maar nou weet ons as ons dit nie doen nie, hoor ons die Here en daarom mekaar nie so goed nie.