{ARGIEF}

26ste Adventverhaal van Hoop – 24 Desember 2008
In een van die werkkamers van ons sentrum vir intellektueel gestremdes het daar vanjaar ‘n “engel” betrokke geraak wat met ander oë kyk as gewone mense.

Ons het materiaal as geskenk gekry en een van die vrywilligers wat intussen by ons kom werk het, moes van ons dames leer om daarvan fantasierokkies te maak vir kinder partytjies. Sy het eenvoudig onwrikbaar geglo dat die dames dit gaan regkry.  Eers het hulle geleer knip en stik op koerantpapier, toe moes hulle begin werk op die materiaal.  Een van die dogters steek vas – ek kan dit nie doen nie, sê sy oor en oor, ek sal die materiaal mors en dan is julle kwaad vir my.  Dit is nie ‘n probleem nie, verseker die vrywilliger met die anderse oë haar. Ons het in elk geval die materiaal persent gekry.  Probeer maar.  Versigtig begin sy knip en stik en kort voor lank was die eerste rokkie klaar en nog een en nog een.

Toe sy ‘n paar dae later vir haar ma die rokkies wys en haar ma sprakeloos vra of sy dit regtig gemaak het, kon sy met trots sê: “EK HET DIT SELF GEMAAK EN ONS HET NIE EEN WEGGEGOOI NIE!”

As ons maar met ander oë, die oë van hoop en verwagting na mekaar kon kyk, sou ons soveel meer in onself en mekaar kon ontdek.