{ARGIEF}

25ste Adventverhaal van Hoop – 23 Desember 2008
Die gemeente se energie was min, hulle was op soek na ‘n volgende bedieningsresep om energie terug te kry. Na ‘n paar maande se gesprekke identifiseer ons ‘n “kanker”in die verhoudingstruktuur van die gemeente.  Sonder dat die leiers bewus was daarvan het daar ‘n kultuur van beskaming ontstaan. Eerder as om mekaar te bemoedig, het leiers mekaar afgebreek, en beskaam. Om die rede het verhoudings moeilik gevlot en telkens weer vasgehaak by verskille. Beskaming het die verstekposisie geword.  As dinge vasgehaak het, is daar in die groep gesoek vir die volgende een wat ons kon “uitvat”.  Nodeloos om te sê, minder en minder leiers het na vore gekom.

Toe ons dit raaksien, het ons saam besluit om dit te verander.  Ons gaan mekaar gereeld bevestig deur waarderende opmerkings teenoor mekaar te maak eerder as om die foute uit te lig.  Ons doen dit in groepies van 5 om tafels.  Een van die leiers kom be-angs na my en sê dat hy nie kan deelneem nie, want in sy groep is daar iemand met wie hy oor byna twintig jaar in konflik is; hy het werklik  geen waarderende opmerking om teenoor hom te maak nie.

Ek stuur hom terug na die groep: “Die Gees sal vir jou iets gee om te sê; wees maar net daar en oop vir die leiding van die Gees.” Die Gees het toe die deurbraak gegee, hulle kon mekaar vir die eerste keer in twintig jaar waardeer!

Interessant dat ses maande later soveel nuwe jong leiers na vore kom in die gemeente.  Ek dink daar is ‘n verband met hierdie deurbraak.