{ARGIEF}

Ons Pinkstertema vanjaar in die NG gemeente van Somerstrand, Port Elizabeth, was: Die Gees stuur ons oor Grense. Elke aand het ons oor spesifieke grense in die verhale van Johannes 4 en Handelinge 6,8,10,16,17 gesels: gender, generasies, etnisiteit, kultuur, godsdiens ens.  Mense is dan uitgedaag om die volgende dag Godsvallige ontmoetings te gebruik om grense oor te steek.  En elke aand het ons aan die begin van die diens ‘n 20 minute gebruik om dit in groepe te bespreek en so 3 getuienisse daarvan aan almal in die kerk te vertel.

Watter wonderlike stories is nie vertel nie:

  • Grense wat na siek en afgetakelde mense oorgesteek is en waar God se teenwoordigheid ervaar is;
  • Grense wat in werksituasies oorgesteek is en waar ‘n doodgewone “rep”-werk in ‘n geloofsgesprek verander net omdat aandag gegee word aan wat mense sê;
  • Grense wat in ‘n materiaalwinkel oorgesteek is, waar die gesprek gou van materiaal na die winkelassistent se terugkeer uit die Moslem geloof gegaan het – sy het die Moslem geloof aangeneem omdat haar verloofde een was, en het besef dat sy Christus daarmee in die steek gelaat het, en het die verhouding verbreek en terugkeer na haar wortels toe;
  • Grense wat in ‘n biblioteek oorgesteek is, waar ‘n opmerking oor ‘n kruisie-hangertjie van ‘n student ‘n diep geloofsgesprek tot gevolg gehad het.

Ons het dié week geleer dat die Gees die hele tyd besig is met mense wat oor ons pad kom.  As ons elke dag bewustelik ons oë begin oophou vir sulke Godsvallige ontmoetings gaan daar ‘n wêreld oop van die Gees wat deur ons grense oorsteek (gaan lees weer oor Paulus se ontmoetings met verbygangers op die kerameikos, die pottebakkersmark en die gevolge daarvan in Atene – Handelinge 17).

Dit was wonderlik om dit ‘n week lank in ons gemeente in te oefen.  Ons sal nie weer dieselfde wees nie

Preektemas beskikbaar by www.ngkerksomerstrand.co.za.