{ARGIEF}

‘n Verhaal wat uitstaan en waar die bewegings van die Gees duidelik beleef is, is die verhaal van ’n dame in die gemeente (ongeveer 70jaar oud).  Sy is deel van die span van die gemeente wat weekliks uitreik en betrokke is by ’n vroue-Bybelstudie-groep in Heidedal.  Na afloop van die uitreik, toe sy wil huis toe ry, kom ’n bruin man na haar toe.  Sy sit reeds in haar voertuig en is effe huiwerig om die venster oop te draai, want dit is in die buurt, waar dit bekend is dat misdaad, prostitusie, verkragting en dwelms floreer. 

Sy draai egter die venster op ’n skrefie oop.  Die man vra haar of sy hom kan help, want hy het ’n drank-en dwelmprobleem.  Sy sê vir hom sy sal gaan hoor by Aurora-kliniek of hulle kan en dan sal sy terugkom na hom toe.  Sy reël toe ’n tyd met hom.

Die volgende kom sy terug – en hy wag vir haar presies soos afgespreek.  Sy sê toe aan hom dat sy plek gekry het, maar eers heelwat later, want hulle neem net 2 staatspasiënte per maand in.  Intussen bid die dame en haar span vir hierdie man. 

’n Dag of wat later bel Aurora en sê dat hulle hom die volgende dag kan inneem.  Die dame spoor hom op en hy is maar te bly om opgeneem te word.
 
Sy gaan haal hom toe by sy huis om hom Aurora toe te neem. Op pad daarheen, vertel hy aan haar dat hy nie ’n kind van die Here is nie en vra haar of sy hom kan help.  Op die parkeerterrein van die kliniek lei sy hom na die Here en maak hy ’n oorgawe aan die Here – voordat hy opgeneem word.

Hy is tans in die finale fase van sy behandeling.  Dit gaan baie goed.  Die dame besoek om feitlik daagliks en hy is besig om in die kliniek geestelik te groei.  Ons bid dat hy, na afloop van die behandeling, ingeskakel sal word by ’n ondersteuningsgroep en dat hy in ’n gemeente ’n geestelike tuiste, wat hom sal ondersteun, sal kry.