Beweging van die Gees 12: Die Gees trek mense op

Written by Frederick on . Posted in Bewegings van die Gees

 

Oor die 15 miljoen mense in Malawi, Zambië, Mosambiek, Zimbabwe, en tot ‘n handvol in Suid-Afrika, praat Chichewa (in Zambië ook genoem Chinyanja). ‘n Goeie 12 miljoen van hierdie sprekers leef onder die “amptelike” broodlyn van minder as R 8 (1 US$) per dag. Getalsgewys is hierdie ‘n taal van die armes. Ons moet dus goed luister as hierdie ongeveer 12 miljoen mense vir ons in hulle eie idioom sê wat armoede en wie arm mense is:  “osauka”, “dié wat nie opstaan nie”.
Ons dogter kuier bietjie by ons. Raai wat was haar reaksie toe ek haar dit vertel?  “…omdat hulle te lui is?!”  Niemand kan my dogter beskuldig van luiheid, traagheid, swak waarnemingsvermoë, of swak menseverhoudinge nie. Sy is hardwerkend én het ‘n hart vir mense in nood – waaronder baie armes tel. Haar reaksie was impulsief, eerlik, maar ook ‘n tong-in-die-kies vraag. Want die gemeenskap waarin sy grootgeword het, is nie ‘n gemeenskap wat probleme het met opstaan nie, maar wel met dié wat níé opstaan nie.
Is armes arm omdat hulle te lui is om op te staan en te werk?  Maar was dit dan nie ook die wysheidsleraar van Spreuke se eerste reaksie nie? Ek het so gedink, maar ek was toe al die tyd verkeerd. Dis andersom:  Spreuke 10:4 sê dié wat lui is, wat nie hulle hande uitsteek uit hulle moue om te werk nie, is in vir armoede (net so ook dié wat geskenke aan rykes gee! – 22:16).  Wanneer Spreuke in die 31 ander teksverwysings van die armes praat, is dit met die grootste simpatie vir hulle harde lewe, en met die hoogste respek as mense wat ten diepste erken moet word as skepsels van God – vir wie God beskerm! Die enigste keer waar Spreuke blykbaar negatief van armes praat, is van dié wat mede-armes afdruk, sodat niemand ‘n kans het op opstaan nie, en almal op die ou end verhonger gaan lê (28:3).
Wanneer sowat 12 miljoen Chichewa-sprekendes sê arm wees is om nie op te staan nie, bedoel hulle uit eie ervaring jy kom net nooit op jou eie voete nie, jy is maar altyd weer terug op jou knieë – voor die mense. En voor God. Altyd weer terug op die aarde, gelyk met die grond. Dis jou plek, waaraan jy altyd weer herinner word, en waarna jy keer op keer teruggedruk word. Deur mense, vreemdelinge, magtiges, jou eie mense wat “bo” uitgekom het. En deur die stelsel, die bose bo-menslike, almagtige, alomteenwoordige, blykbaar ewige gees van hierdie wêreld.
Daar is gelukkig ‘n ander Gees. Die Heilige Gees, die Gees van die Lewende, Opgestane, Here Jesus –wat die opstandingslewe inblaas in lam en lewelose mense. Soos die man waarvan Lukas in Handelinge 3 vertel wat sy lewe lank nooit opgestaan het nie; net maar dag vir dag moes opkyk vir ‘n volgende jammer-kry-fooitjie. Toe wek die Heilige Gees hom op, deur die hande van Petrus en Johannes wat kort tevore deur dieselfde Gees op hulle voete gebring is. En hy staan regop, loop die tempel binne, spring, prys God! 
So lyk die kerke waar ‘n wonderbaarlike groot getal van die 12 miljoen Chewa-sprekende armes Sondag vir Sondag aanbid. Sonder orrels of orkeste, sonder sagte kerkbanke (soms sonder enige sitplekke!), in geboue sonder plafon (soms sonder dak!), sonder glasvensters of verf of selfs gepleisterde mure, soms sonder ‘n gebou; in ‘n diens sonder fynuitgewerkte liturgie en prediking wat meestal veel te wense oorlaat. Maar dis ‘n belewenis – van ‘n wonderwerk: dat “die wat nie opstaan nie” opgewek is, regop staan voor die mense en voor God, God prys. En inderdaad hulle hande uitsteek na dié wat nog lam is, en kan gee – (uiteraard!) nie silwer en goud nie, maar Jesus se opstandingslewe.
‘n Geweldig omvangryke en diepe wonderwerk!  Op ons drumpel. Elke Sondag. As ons goed kyk: elke ganse dag van die harde werklikheid!  – die beweging van die Gees.

 

Trackback from your site.

Leave a comment