{ARGIEF}

Tipe Proses: Communitas gemeentevraelys

Prosesleier: Frederick Marais

Duur van die proses: 3 maande

Verhaal:

As deel van ‘n visioneringsproses het hierdie gemeente besluit om die Communitas Gemeentevraelys in die gemeente te versprei en te laat invul om hulle te vergewis oor hoe lidmate die bediening beleef. Daar was toutrekkery onder die leiers oor “ wat lidmate nou werklik verlang van die gemeente en die leierskap” . Een van die knaende vrae was, of lidmate op ‘n gereelde basis deur die leraars besoek wil word. Elke kamp was doodseker hulle weet presies hoe die lidmate dink ( al was dit ‘n groot gemeente met ‘n paar duisend lidmate!)

By die bekendstelling van die resultate laat ek die leiers eers in groepe raai oor watter persentasie van die lidmate het Ja gemerk op die vraag: Wil jaarliks deur ‘n leraar tuis besoek word. Die raaiskote het gewissel tussen 70 en 90%. Sommige het verklaar: Ons weet mos dit is byna almal. In feite het minder as 30% van die lidmate ja geantwoord op die huisbesoek vraag. Daar was ‘n geskokte stilte, een of twee wou die verwerking bevraagteken, maar toe dit blyk dat dit ‘n besonder betroubare terugvoer is, het een van die leiers opgemerk: As ons hieroor so verkeerd kan wees, is daar mos baie ander sake waaroor ons met net sulke verkeerde aannames werk!