{ARGIEF}

Zebra Uitwisseling
Besoek aan Nederland November 2008
Jaco Coetsee

Hierdie verslag moet gelees word teen die agtergrond van die volgende addendums: “Wel en wee van n straatpastor in Urecht”   en “Verslag aan kerkraad van besoek aan Nederland November 2008”.

In hierdie verslag wil ek konsentreer op net een aspek van die besoek wat my die heeltyd laat nadink het, en dit is die vraag: Wie of wat is die kerk in n sekulere samelewing? Of anders gestel: Wat is die unieke en eiesoortige identiteit van die kerk binne n sekulere samelewing wat geen tekort het aan hulpdienste en skynbaar talle singewende instellings nie.

Die vraag het vir my gestalte gekry toe ek een aand saam is  met Erna  na n openbare vergadering  in n gemeenskapsaal binne die stadswyk waar sy werk. Die doel van die vergadering was om  inwoners bekend te stel of op te dateer oor die verskillende gemeenskapsdienste wat beskikbaar is.   So het instansies soos die volgende spreekbeurte gekry: polisiediens, maatskaplike werkers, jeugaksies, ondersteuningsdienste vir bejaardes, finansiele adviesdienste,  interkulturele ontmoetingsaksie,  oefeninggroep ensomeer.  Gemeenskapsdienste dus wat die volle spektrum dek van die fisieke en emosionele behoeftes wat binne n gemeenskap bestaan. My gevoel was dat daar geen skuiwergate in die behoefteprofiel is nie – alles wat KON is aangespreek deur een of ander hulpdiens.  

Erna is voorgestel as “buurtpastor” sonder enige verdere verduidelikings of kwalifikasies. Sy is duidelik tuis binne die kring van hulpdienste, het goeie kontak met die meeste verteenwoordigers of het die aand genetwerk met instansies.  Soos al die ander, het sy n minuut of wat geleentheid gekry om haarself en haar werk voor te stel en sy het iets gesê soos dat sy beskikbaar is vir enige persoon met enige probleem op enige tyd….sonder verdere kwalifikasie.   Ek het aanvaar dat die aanwesiges weet wat n buurtpastor is….en tog het ek later ook gewonder: wat IS in werklikheid Erna se identiteit?  (Terloops, sy is allerwee in die buurt bekend as “onze Erna” – dus bemind en geliefd en beslis n “teenwoordigheid”)

Terug nou by die vraag: wat IS n buurtpastor, wat IS die KERK binne die dampkring van allesdekkende gemeenskapsdienste wat vir alle praktiese doeleindes alle menslike behoeftes aanspreek?  Wat maak die buurtpastor ANDERS? Wat maak die kerk ANDERS? Wat bied die kerk wat die maatskaplike werker of enige ander diensinstelling nie beter kan doen nie? Wat bied die KERK by so n gemeenskapsvergadering wat sy eiesoortigheid bevestig en ast ware in relief bring teenoor ander instellings? Veral nog as dit binne n sekulere samelewing is wat nie “behoefte” het aan die sogenaamde geestelike nie?  Of, HET hulle dalk n behoefte……en by wie of wat sal hulle gaan kers opsteek?

Ek het meermale gewonder: wat sal gebeur in so n sekulere gehoor as een van die diensaksies  (in hierdie geval die buurtpastor, kerk) opstaan en iets sê soos: “Ek verteenwoordig ons soeke na die transendente, na dit wat ewig en geestelik is. Ek is daar vir elkeen wat vra na God, na sin, na vergifnes, na holistiese vernuwing van gees en liggaam. Ek is daar om te bid.  Dit is my vernaamste taak. Ek werk saam met al die diensinstellings waar nodig….en ek bid vir elkeen. Almal wat saam met my op reis wil gaan op soek na HIERDIE geestelike dimensie,  kom maak gerus na die tyd n afspraak en kry my visitekaartjie. “

Ek dink nie Erna kon haarself anders aanbied as wat sy gedoen het nie. Ek ken die mense en die gehoor nie goed genoeg nie.  Ek meen wel dat mense , OF op grond van vorige ondervinding OF op grond van intuisie sou weet dat Erna die transendente verteenwoordig.  AS dit so is,  waarvoor sou hulle haar kom besoek? Hoekom by haar en nie die talle ander dienste met uitstaande en gemotiveerde personeel nie?  Bloot omdat hulle van Erna as persoon hou……of omdat hulle in haar die KERK, die TRANSENDENTE,  die GEESTELIKE, die EWIGE verteenwoordig sien? Erna hou n nagmaalsdiens in die kapel in die middel van die buurt……en DIT doen geen ander instelling nie……

Erna is DAAR vir mense…..dink ek, soos sy bedoel: DAAR soos God DAAR is. Op watter oomblik gaan die saamwees met Erna vir n sekulere mens in n bewussyn oor van die DAARWEES van GOD in Christus ?  Is die swyende saamwees en daarwees genoeg…..of kom daar n oomblik dat die kerk, die pastor, verbaal die inhoud van die openbaring van God, die Skrif, begin kommunikeer?  En die oomblik as dit gebeur, sal jy die sekulere persoon vervreem …….of verbyster tot geloof?

Vir MY (maar ek is nie sekuler nie) IS Erna as buurtpastor, IS Carol as gemeentepastor en IS Wieke as straatpastor die lewende kerk.  Maar, hulle IS dit ook in die sekulere samelewing waar hulle elkeen , op hulle eie manier en op hulle eie tyd (God se tyd?) die transendente en onsigbare God LEWEND maak vir mense in daad….en woord,  in gesprek en gebed.  n Moeilike taak, sou ek sê.  Maar, was die kerk nie maar altyd net soutkorrels in n groot mengbak nie? En beweeg die lewende Here nie in en deur hierdie drie getuies deur die strate van Utrecht nie?

Dit lyk my, na alles, asof die kerk se UNIEKHEID steeds en altyd daarin sal lê, al lewer jy watter wonderlike maatskaplike diens, om uiteindelik heen te wys na die transendente, na God….beter nog God in Christus.