{ARGIEF}

Roepingsgedrewe Gemeentes

Frederick Marais

2003 

 

Wat kan ons help om ‘n roepingsgedrewe gemeente te word?

Die Algemene Sinode verlede jaar is afgesluit met ‘n verklaring waarin die sinode hom verbind aan ‘n roeping.  Sedertdien het dit geblyk dat daar in die strukture van die kerk baie gepraat word oor wat dit beteken om ROEPINGSGEDREWE te wees, en hoe kommissies, ringe en gemeentes in lyn hiermee kan kom.

In prosesse met gemeentes beskou ek hierdie as een van die belangrikste uitdagings.  Dit is egter nie die maklikste proses nie.  Ek deel so ‘n paar dinge wat ek geleer het oor wat gemeentes help om van wat ek graag sal wil noem ‘n instandhoudings fokus waar alles eintlik draai om die oorlewing van die gemeete te draai na ‘n roepingsgedrewe fokus.

1. Is die leierskap in die gemeente teologies en emosioneel “fiks” genoeg om die gemeente te begelei om oor hierdie gapings te kom?  Ons ervaring in gemeentes is dat indien die leraar en die leiers in die gemeente  nie oor die teologiese raamwerk beskik om ‘n duidelik genoeg prentjie te ontwikkel oor waarheen hulle glo die Here met hulle oppad is nie, hulle nie oor die oortuigingsgvermoe beskik om die gemeente met hulle saam te neem nie.  Nancy Ammermann die Amerikaanse godsdiens-sosioloog het bevind dat dit die belangrikste vermoe waaroor leiers in gemeeentes moet beskik is die vermoe om ‘n nuwe prentjie te sien van hoe die gemeente kan funksioneer en wat sy getuienis moet wees in ‘n nuwe situasie.

Die tweede soort fikshied is ‘n emosionele of persoonsfiksheid.  Om gemeentes wat vir lank eintlik maar net probeer het om te bly voortbestaan te begelei na roepingsgedrewenheid vra innerlike krag. Om dit padlangs te stel, leiers moet onbedreig, leerbaar en oop wees om te waag en foute te maak.  Dit beteken oa dat hulle groot genoeg sal moet wees om foute te erken en saam te soek na beter oplossings.

2. Is die Bybel werklik ‘n ringtinggewende teks vir die gemeente.  Roeping is tog om God se stem- sy roepstem te hoor, en waar hoor ons dit naders as in die Woord?  Maar ek het hier meer in gedagte as om te preek en Bybelstudie te hou.  Roepingsgedrewe gemeentes se leierskap is bereid om saam baie tyd te spandeer met die Woord, om saam te soek na wat is God deur sy Woord en Gees besig om vir die gemeente te se.  Ek kan nie aan een gemeente dink wat ernstig is oor hulle roeping wat nie verhale vertel waar die Bybel aan hulle rigting gegee het nie. Dink vir ‘n ooblik na oor of die Bybel enige rol speel in die besluitneming van die gemeente.

3. Roepingsgedrewe gemeentes neem die nood in hulle konteks ernstig op.  Dikwels ontspring die saad van ‘n nuwe roepingsverstaan, daar waar ‘n gemeentelid betrokke geraak het by die nood van mense in die onmmiddelike omgewing van die gemeente. Ons weet nooit alles nie, maar daar is ook nooit ‘n situasie waar ons niks weet nie.  Deernis met die nood in die omgewing is een van die beste leermeester oppad na roeping.  Dit is hier waar gemeentegrense ons nie enduit help nie.  Ons kan nie die Here se opdrag om mense in nood by te staan beperk tot grense nie.  Liefde stoot ons eenvoudig oor alle grense, of dit nou die sigbare of onsigbre  grense is van taal en kleur en klas.

4. Roepingsgedrewe gemeentes beskik oor die moed en integriteit om die konflikte uit die verlede uit te sorteer. Te veel gemeentes vee konflik onder mat in en leef al so lank daarmee saam dat hulle eintlik nie eers meer agterkom dat hulle siek is nie.  Jakobus moedig ons aan om ons skuld teenoor mekaar te bely sodat ons gesond kan word.  Ek sien die belangrikheid hiervan byna daagliks in gemeetes.  As ons konflik met ons saamdra in die gemeente, of met ander broers of susters buite die gemeente is dit soos ‘n blok aan ons been wat ons verhoed om verder te gaan.  Ons kan tog nie ‘n getuienis of roeping uitleef as ons nie versoen is met mekaar nie, of in Christus se bekende woorde hoe kan ons verwag dat die wereld ons sal glo as ons nie een is soos wat Hy en die Vader een is nie. In eenvoudige Afrikaanse, as ons mekaar nie kan vertrou nie, sal ons nie die moed he om ‘n tree vorentoe te gaan nie

Na dit alles, waar begin ‘n mens as jy wil skuif van ‘n instandhoudingsfokus na ‘n roepingsfokus- ek het geleer ‘n mens begin by die kweek van Hoop.  Miskien sou Paulus indien hy vandag 1Kor 13 vir ons geskryf het, afgesluit het met…en die belangrikste hiervan is die Hoop.  As mense nie hoop het in ‘n gemeente nie, het hulle niks om vir mekaar te se nie, nog minder vir die wereld.