{ARGIEF}

Communitas se prosesbegeleiding van gemeentes

Communitas lewer al vir byna 20 jaar prosesbegeleiding aan gemeentes.  Communitas het ‘n span van geakkrediteerde fasiliteerders (lys word binnekort hier gepubliseer) wat almal deur CFN opgelei is in fasiliteringsvaardighede en as ‘n span saamwerk om die beste moontlike diens aan gemeentes in ons gebied te lewer.

Die span staan onder leiding van Frederick Marais en Divine Robertson verskaf aan die span logistieke ondersteuning.

Hierdie diens vorm ‘n integrale deel van ons visie om ‘n diensruimte te wees waar gemeentes en gemeenteleiers begelei word om hulle roeping beter te ontdek en hulle gawes te ontsluit.  Ons begelei gemeentes vanuit die teologiese vertrekpunte dat gemeentes God se geskenk aan die wêreld is. Gemeentes maak saak vir God en die koninkryk, of soos wat Lesslie Newbigin dit stel: Gemeentes is die eerste hermeneut (verklaarder) van die evangelie. Gemeentes het daarom ‘n unieke taak wat in hulle unieke konteks uitgeleef moet word. Communitas se begeleiding van gemeentes is daarom gefokus op die herontdekking van die gemeente se roeping.

Communitas se prosesbegeleiding staan onder leiding van Frederick Marais wat bygestaan word deur ‘n span van geakrediteerde fasiliteerders.

Wanneer is ‘n gemeenteproses wenslik?

Wanneer vasgelooptheid ervaar word

Die noodsaak vir ‘n gemeenteproses ontstaan wanneer die gemeente se leierskap vasgelooptheid ervaar.  Die oorsake van die vasgelooptheid kan positief of negatief wees.  Dit kan wees dat die gemeente poog om probleme aan te spreek maar geen gewenste resultate beleef nie.  Aan die ander kant dit wees dat die gemeente se  leierskap probeer om die potensiaal van die gemeente te ontsluit, maar ervaar dat hulle nie daarin slaag om dit te doen nie.  Die onderliggende rede vir beide vorme van vasgelooptheid is omdat die leierskap oplossings gebruik wat in die verlede gewerk het, maar nie in die huidige konteks meer werk nie. Vasgelooptheid ontstaan wanneer gemeenteleierskap oplossings van die verlede gebruik in ‘n tyd wat dit nie meer werk nie.

Wat is uniek aan gemeenteprosesse?

1.  Tegniese of aanpassende verandering

Uitdagings wat gemeenteleiers moet aanspreek kan in twee kategorieë val naamlik tegniese en aanpassende uitdagings. Tegniese uitdagings is wanneer die gemeente ‘n vaardigheid wil aanleer om ‘n sekere aspek van hulle gemeente beter te doen.  Daarvoor is daar nie ‘n proses nodig nie, maar toerusting van die leierskap. Wanneer die uitdaging aanpassend is, beteken dit dat die leierskap weet daar is ‘n uitdaging, maar daar is onsekerheid oor die regte oplossing en oor die rede waar die uitdaging vandaan kom.  Indien leierskap dit ervaar, is daar meer as net ‘n nuwe vaardigheid of tegniek nodig, maar ‘n nuwe oriëntasie tot die uitdaging.  In sulke gevalle kan die uitdaging net werklik aangespreek word d.m.v. ‘n proses wat verkieslik begelei word deur ‘n kundige begeleier of fasiliteerder.

2.  Gemeenteprosesse is geloofsonderskeidende prosesse

Oor die jare het ons by Communitas geleer om te onderskei tussen prosesse wat ontwerp is vir die besigheidsektor of die korporatiewe lewe en prosesse vir gemeentes. Daar word dikwels in die korporatiewe- en publieke lewe gebruik gemaak  van strategiese prosesse.  Die uitgangspunte van hierdie prosesse in nie toepaslik vir gemeentes nie, omdat dit nie vertrek vanuit die wete dat die gemeente aan die drie-enige God behoort wat nou deur sy Woord en Gees besig is om die Koninkryk te laat kom. Gemeenteprosesse begin en eindig daarom by God en wat God nou doen en die gemeente nooi om van Sy sending (missie) deel te word. Om dit anders te stel: in gemeenteprosesse vra ons deurlopend vrae oor God en stel ons oop vir die leiding van Sy Gees en Woord om ons op Sy reis te begelei. Ons het geleer dat dit opwindende reis is wat gemeentes werklik verander.

3.  Vernuwing van Bedieningspraktyke en Kultuurverandering van die gemeente

Ekklesiologiese model

Wanneer die konteks verander soos wat ons tans in Suid-Afrika ervaar en nog vir ‘n lang tyd sal ervaar, stel dit besondere uitdagings aan gemeentes soos wat die diagram hierbo aantoon. Verandering in die konteks het impak op al die vlakke van gemeentewees. Om daardie rede ervaar ons by Communitas dat baie gemeentes prosesse benodig wat meer doen as net vernuwing in hulle bedieningspraktyk en het ons die afgelope aantal jare gefokus op die ontwikkeling van prosesse wat gemeentes help met kultuurtransformasie van die gemeente.  Op die diagram hierbo is die kultuur van die gemeente alles wat  onder die lyn is, nl. die roeping, identiteit en belydenis van die gemeente.

‘n Verandering in die kultuur van die gemeente moet uit die aard van die saak ook gestalte kry in die bedieninge.  Kultuurtransformasie het daarom ook ‘n vernuwing in die bedieninge van die gemeente tot gevolg.

4.  Gestuurdheid van gemeente

Die (her)ontdekking van die gestuurde of missionêre karakter van gemeentes oor die afgelope dekade het ons denke oor gemeentes baie diep beïnvloed.  Gemeentes vind nie hulle bestaansdoel in hulleself nie, maar in hulle gestuurdheid. Die gemeente se bediening is daarom nie aan die lidmate nie, maar deur die lidmate  wat as gestuurdes leef. Gemeentes wat so van ‘n selfgerigte selfverstaan transformeer na ‘n gestuurde selfverstaan moet hulle totale bediening herbedink  Om gemeentes hierin te begelei, is Communitas betrokke by die Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes waar groepe van gemeentes mekaar begelei in die ontdekking en uitleef van hulle gestuurde roeping.