{ARGIEF}

“Ek het nooit gedink die Here sou mý kon gebruik nie. Maar Hy het, op ‘n verrassende manier. Die projek vir vrouebemagtiging wat ons gemeente aanbied, het ‘n besondere seën in my lewe geword.”  Aan die woord is Rita Louw, leier van die NG Kerk Port Elizabeth-Noord se vrouebemagtigingsprojek.
Rita vertel dat daar baie vroue bitterlik swaarkry in hul gemeente se semi-industriële omgewing. Van die vroue is werkloos, ander kry swaar onder die tirannie van lewensmaats (hulle word soms bedags letterlik toegesluit as die eggenoot nie tuis is nie), sommige se mans en seuns smokkel perlemoen, ander is by dwelmhandel betrokke. “Die sukkel staan dikwels afgeëts op die vroue se gesigte, hulle voorkoms is onversorg, tussen die versorging van mans en kinders is daar nie nog tyd of bronne om aan hulself aandag te gee nie”, verduidelik Rita. “Ons het net besef dat ons nie met ons knus bestaan kan voortgaan terwyl mense rondom ons vergaan nie.”
Die gemeente het besluit hulle moet hierdie vroue bevriend, help om hul menswaardigheid te ontdek en hulle leer om vreugde uit die lewe te put.
In ‘n eerste rondte het hulle op die afvlerkies – soos die vroue met deernis genoem word – se uiterlike voorkoms gefokus. Daar is met haarsorg begin – ‘n haarkapper het die dames se hare gesny, en hulle die praktiese beginsels van haarversorging geleer. Daarna het velsorg, naelversorging, die kies van klere, kleure en bykomstighede gevolg. Dié reeks oor uiterlike versorging het op ‘n “total make-over” afgestuur. Op die laaste aand het hulle foto’s van die dames vóór en ná vertoon. Die verskil in voorkoms, selfbeeld en vreugde was opvallend.