{ARGIEF}

Die eerste reëndruppels van hierdie somer sal altyd vir my spesiale betekenis hê…

Wanneer ek bemoediging aan pasiente in die hospitaal doen, vra ek altyd God se leiding vir dit wat ek daardie dag moet doen.  Soms is ek verstom oor die klein dingetjies wat so ‘n groot verskil in ander se lewens kan maak.

Op pad uit na ‘n hospitaalbesoek talm ek by die laaste saal se deur.  ‘n Man lê met sy rug na my en tuur na die toegetrekte gordyne voor hom.  Ek maak kennis, vra hoe dit gaan.  Hy vertel dat hy al vyf jaar ‘n parapleeg is.  Hy lê nou al twee weke hier, want hy word vir druksere behandel. 

Ek vra of daar iets is wat ek vir hom kan doen.  “Sal jy asseblief die gordyne ooptrek?”  Ons hoor die weer buite dreun.  Die eerste reëndruppels val hard op die plaveisel buite die venster.  Ek bid vir God se liefde en genade vir hierdie man.  Saam sê ons dankie vir die eerste somerreën…