Advent verhaal van Hoop 7 Meraai se verhaal van hoop

Written by Frederick on . Posted in Gemeenteverhale

 

Ek was die afgelope paar maande toeskouer van ’n aangrypende verhaal wat voor my afgespeel het. Ek het ’n reis beleef saam met ’n man wat letterlik gewag het op sy dood, as gevolg van ’n onbehandelbare hartprobleem. Saam het ons die pad gestap van gereedmaking om die Here te ontmoet en dit opsigself het my diep geraak. Hierdie mens het soveel gehad om te bely en reg te stel, maar was dankbaar by die gedagte dat hy die geleentheid gehad het. Langs sy hospitaalbed, ontmoet ek die vrou met wie hy bykans 20 jaar getroud was, dit was 20 jaar gelede. Sy is elke dag daar en stap die pad getrou met hom. Die dokters ontslaan hom en die besef dring deur dat hy by die huis sal sterf. Die vraag was egter: Watter huis? Self het hy eintlik nie meer ’n huis nie. Hy bly reeds vir 2 jaar by sy seun en daar sou niemand wees wat hom kon versorg nie. Sonder omhaal van woorde gee sy te kenne dat hy by haar moes kom bly. Sy is beskikbaar en bereidwillig om hom te versorg. Sy het reeds ’n suurstofmasjien wat haar medies betaal het en wat eintlik deur die Here so beskik is, sodat hy dit in sy laaste dae kon gebruik.
Ek het gewonder wat dit is wat maak dat iemand wat so seergekry het in hierdie verhouding, steeds gewillig was om hierdie liefdesdiens te verrig? In die 20 jaar wat sy met hom getroud was, het sy opgehou tel hoeveel keer hulle moes trek. Sy is bewus van 17 skole waar sy skoolgehou het en verskeie buite-egtelike verhoudings waartydens sy meestal die pot aan die kook gehou het. Sy is verbaal verniel. Sy vertel vir my haar verhaal.
Sy vertel dat sy haarself nie sien as iemand wat net glo nie. “Ek beleef God.”
“Ek het kort na die egskeiding gekies om met hom vriende te bly. Hy het my dikwels gekontak om raad te vra, selfs toe hy weer getroud is. Ons was byna beter vriende, as toe ons bymekaar was. Ek is nooit weer getroud nie en dit was vir my bitter moeilik om die besluit te moes neem om te skei. Ek moes egter ter wille van my eie en die drie kinders se selfbehoud die besluit neem.”
“Toe hy nou in hierdie moeilikheid beland, het ek onmiddellik ervaar dat die Here hierdie geleentheid vir my gee om Hom te dien, deur hierdie man te versorg. Hoe kan ek in elk geval ooit genoeg doen om dankie te sê vir wat die Here vir my gedoen het? Ek het onmiddellik aan Matteus 25 gedink en geweet dat hierdie my kans is.”

Ek het aan haar gevra: Waar was die Here teenwoordig?
“O, Hy is altyd teenwoordig, maar kort voor hierdie tyd, was ek self siek en was dit vir my nodig om die suurstofmasjien te kry. Nou sien ek dat dit nodig was, sodat ek my eks-man hiermee kon help. In die nagte wat ek saam met hom regop gesit het omdat hy bang was om te slaap, was die Here altyd teenwoordig. Wanneer hy kortaf of ongeduldig met my was, het ek ervaar hoe die Here ’n wag voor my mond sit sodat ek kon stilbly en sag. Hy het my die krag gegee om sterk te bly. Hy het aan ons die kans gegee om ’n sirkel te kon voltooi. So kon die kinders vrede kry en verhoudings goed afsluit. Toe hy my ‘n paar dae voor sy dood groet (ek moes vir die naweek elders wees en hy het by ons seun gaan bly), toe noem hy my Meraai – die troetelnaam wat hy jare terug vir my gebruik het. Daarin was al sy dankbaarheid opgesluit en ek het geweet dat ek hom nie weer lewend sou sien nie.”

Ek het aan haar gevra: Wat het jy uit die proses geleer, of beleef?
“Ek is dankbaar dat ek dit kon doen. Nou is die kring voltooi. Dit was net vir my baie duidelik dat dit so moes gebeur. Soveel kon uiteindelik afgesluit word. En ek sal so bly wees indien my verhaal ander kan inspireer om te doen wat die Here vir hulle gee om te doen.”

Ek is veral hierdeur geïnspireer. Ek het opnuut geleer dat liefde vir die Here ons help om grense oor te steek en dat ons self uiteindelik die meeste daaruit baat.

Trackback from your site.

Leave a comment