Die vorming van Geestelike leierskap vir Gemeentelike Bediening in die Suider-Afrikaanse Konteks

Written by Frederick on . Posted in GKS

 

2.    Die behoefte aan ‘n fokus op die vorming van geestelike leierskap vir gemeentelike bediening in die SA konteks
In die diskoers rondom teologiese opleiding neem die belangrikheid van ‘n fokus op karaktervorming van die student met ‘n fokus op gemeentelike bediening, toe. In 1999 skryf Robert Banks: “While most seminary teachers recognize that moral and spiritual formation begins at home and congregations, and continues in other contexts alongside seminaries, and develops afterwards in various ministry settings, there is ‘n growing concern that it must be an intentional part of seminary training, both inside and outside the classroom” (1999, 25).
Die dringendheid van hierdie saak vir denominasies waar studente aan universiteite opgelei word, is beklemtoon in ‘n onlangse studie deur Marilyn Naidoo oor die geestelike vorming van studente. Sy kom tot die volgende gevolgtrekking:
On the other end of the spectrum, the institutions with the highest scores (showing lower agreement with the spiritual formation) for all five factors were the Presbyterian and Reformed. Both denominations train in a university faculty and this formational mandate may clash with the focus of critical scholarship offered at universities. This finding highlights that a university setting presents more challenges in implementing a spiritual formational mandate. It would be difficult to seek to instil a specific habitus among theology students in a university classroom where similar ecclesial backgrounds or at least shared vocational trajectories cannot be assumed. The intention of spiritual formation may also be obscured by university accredit¬ation demands, the compartmentalization of theological disciplines and the marginalization of spirituality in die life van die university.
(‘n Empiriese studie oor geestelike vorming by Protestantse teologiese opleidingsinstansies in Suid-Afrika, aanvaar vir publikasie in Theology and Religion.)

Western Seminary in Michigan, VSA, het op hierdie behoefte gereageer met ‘n program getiteld Formation for Ministry (Vorming vir Bediening). Die VGK se eie beleidsdokument van 1997 oor teologiese opleiding, stel die doel van teologiese opleiding soos volg “…(is) om kandidate geestelik, intellektueel en prakties te vorm en toe te rus vir hulle diens in die kerk van Jesus Christus” (Acta 1997:718ff). In 2008 word bedieningsvorming eksplisiet omskryf: “Ministry formation, under die guidance of the Holy Spirit and for the glory of God, shapes leaders within URCSA by equipping them spiritually, intellectually and practically to serve the coming of the Kingdom of God in Southern Africa” (P 513 van Agenda). In the comprehensive work about theological training by Charles Foster et al., one of the distinctive challenges of clergy education is viewed as “The Pedagogy of Formation” (2006, pp100-127).

Daar is min twyfel dat die vormingsaspekte van teologiese opleiding sentraal behoort te staan in ‘n visie vir kerklike  bedieningsvorming. Dit sal die deurlopende tema en doel wees van die aanbevelings in hierdie memorandum.

3.    Die onderskeid tussen akademiese en kerklike vorming
Die memorandum lewer ‘n pleidooi dat ons beide akademiese opleiding én geestelike vorming in ‘n interafhanklike maar kreatiewe spanning met mekaar handhaaf.

Om hierdie spanning te verstaan, moet ons die onderskeid tussen akademiese opleiding en  bedieningsvorming, uitklaar.

•    Die kerklike bedieningsvorming van studente konsentreer veral op die vorming van geestelike leierskap binne die konteks van gemeentelike bediening. (Die voorstel is dat hierdie fokus toegepas word deur ‘n VGK- en NGK-Seminarie of ‘n Skool van Gereformeerde Teologie.)

•    Die akademiese opleiding van die Fakulteit Teologie volg ‘n ensiklopediese benadering wat aan studente akademiese opleiding bied in die verskillende teologiese dissiplines (Fakulteit Teologie).

Hierdie twee vormingsmodi behoort as komplimentêr beskou te word. Die akademiese opleiding van die Fakulteit voorsien die “boustene” vir die vorming van gemeentelike predikante in die SA-konteks en behoort in sinergie met  kerklike vorming ontplooi te word. Aan die ander kant sal die Seminarie se vormingsprosesse daartoe bydra om studente in staat te stel om hulle akademiese opleiding te optimaliseer. Die ideaal sou wees dat ‘n student gelyktydig geregistreer is by die Seminarie vir ‘n “Diploma in Kerklike  Leierskapsvorming” en by die Fakulteit Teologie vir akademiese kwalifikasies (BTh en MDiv).

4.    Kerklike vorming as ‘n Reis
a.    ‘n Vormende reis met mylpale:
Kerklike opleiding is die vorming van geestelike leierskap met ‘n fokus op gemeentelike bediening. In hierdie vormingsprogram onderneem die student ‘n “reis” met verskillende mylpale wat interafhanklike areas afbaken. Die reis word onderneem binne die konteks van ‘n gemeenskap van ondersteunende verhoudings, soos hieronder verduidelik word. Die program sal gemeet word volgens die behoeftes van die verskillende kerke vir aanvullende teologiese opleiding, wat byvoorbeeld die 100-uur riglyn van die VGK insluit.

Mylpaal 1: Roepingsontwikkelingplan

1.    Persoonlike volwassenheid en emosionele intelligensie: Tydens die eerste jaar voltooi studente ‘n reeks psigometriese toetse om insig in hul persoonlike samestelling te verdiep en om areas te identifiseer wat ontwikkel  kan word.

    Hierdie insigte word deurgevoer na vormings-, en indien nodig, terapeutiese prosesse, om die student se kapasiteit vir persoonlike groei en verrykte emosionele intelligensie uit te bou.

2.    Roepingsvorming: Tydens die eerste jaar neem studente deel aan ‘n Roepings-retrait, met die doel om hulle ‘n sin vir roepingssidentiteit te help ontwikkel. Die retrait dien ook as beginpunt vir ‘n voortgesette reis van roepingsontwikkeling deur die loop van die hele program.

3.    Geestelike vorming: Alle jaargroepe neem jaarliks deel aan ‘n gefokusde program van geestelike vorming waarin geestelike dissiplines in groepe beoefen word, onder toesig van ‘n geestelike mentor. Hierdie 100 dae van geestelike vormingsseisoene eindig elke jaar met Paasfees. In hierdie program word basiese geloofsvormingsgewoontes beoefen en bemeester. Die moontlikheid van ‘n weeklikse Seminarie-Eucharistie, waar studente en dosente saam Nagmaal vier as ‘n geloofsgemeenskap in die Seminarie-Kapél, kan ook oorweeg word.

Die persoonlike, geestelike en roepingsvormingsprogramme van die eerste twee jaar bied aan die student die inligting en vaardighede om ‘n Persoonlike Roepingsontwikkelingplan te ontwikkel. Die ontwikkeling en voorlegging van so ‘n ontwikkelingsplan geskied onder leiding van die Ondersteuningskomitee van elke student. Die plan word voorgelê vir goedkeuring teen die einde van die tweede jaar.

Mylpaal 2: CREDO

1.    Identifisering met gereformeerde teologie en tradisie: Kerklike opleiding het ten doel om studente te skool om te identifiseer met die gereformeerde teologie en ‘n tuiskoms in die gereformeerde kerktradisie. Dit sluit in kennis van die inhoud en geskiedenis van die vier Belydenisse van die twee kerke.

2.    Bybel/teologiese integrasie en die vorming van ‘n eie teologiese taal  wat toepaslik is die konteks: Die Fakulteit dra verantwoordelikheid vir die professionele akademiese opleiding van studente. Kerklike opleiding is gefokus op die integrasie van hierdie kennis met ‘n eie “taal”. Geestelike leiers moet in staat wees om ‘n boodskap te formuleer met hulle eie geloofs- en teologiese taal. Daarvoor benodig hulle ‘n begrip vir die “plot” van die Evangelie en moet hulle dit kan assimileer in ‘n taal en leefstyl.  
In die strewe na hierdie ontwikkeling moet elke student ‘n CREDO skryf waarin hulle akademiese kennis geartikuleer word in hulle eie persoonlike teologiese taal. Die CREDO moet voorgelê word vir goedkeuring aan die einde van die vierde jaar. Die ontwerp van die CREDO is nie ‘n werkstuk wat met verwysings na akademiese bronne opgestel word nie, maar eerder ‘n uitdrukking wat die student se ervaring in die bediening in eie persoonlike teologiese taal verwoord.

    Mylpaal 3: Persoonlike bemeestering van bedieningsvaardighede
Daar word deurlopend aandag gegee aan die praktyk en bemeestering van basiese bedieningsvaardighede. Die gemeente en mentor aan wie ‘n student toegewys is, doen verslag oor die student se ontwikkeling en bemeestering van hierdie basiese vaardighede. Die huidige program van denominasionele opleiding en die studente se eie beroepsontwikkelingsplan sal rigtinggewend wees aan die omvang van hierdie vaardighede. Dit sal die huidige program van bepaalde “weke” vir denominasionele opleiding omvorm tot ‘n meer deurlopende praktyk van bedieningsvaardighede en lei tot ‘n program van persoonlike bemeestering.

    Mylpaal 4: Ontwikkeling van ‘n nuwe missionale bediening

Kontekstuele en missionale bedieningskapasiteit: Die vorming van geestelike leierskap vereis ook dat studente die vermoë ontwikkel om hulle kontekste met oordeel te lees en in die nadenke daaroor  koninkryksgeleenthede te onderskei. Dit beteken dat hulle deeglike blootstelling aan die SA konteks sal moet kry, en dit met insig geloofsonderskeidend te kan analiseer. In die vyfde en sesde jare identifiseer studente ‘n “koninkryksgeleentheid” in die konteks. Tydens dié twee jare ontwikkel hulle ‘n nuwe bediening op so ‘n wyse dat die projek daarna onafhanklik kan voortgaan. Hierdie bedieningsontwikkeling mag nie slegs die handhawing van ‘n bestaande bediening in die gemeente wees nie, maar moet die vestiging van ‘n nuwe bediening behels. (In die MBA-omgewing byvoorbeeld, word studente aangemoedig om ‘n “new start-up” te ontwikkel.) Die verslag hieroor moet voorgelê word vir goedkeuring aan die einde van die sesde jaar vir NGK-studente en aan die einde van die vyfde jaar vir VGK-studente. Dit moet beskou word as die “sluitsteen” of voltooiingsprojek wat die vormingsprogram as geheel afsluit en integreer, soos by Northern Theological Seminary.

b.    Die Reis van Bedieningsvorming vind plaas binne ‘n gemeenskap van onder-steunende verhoudings

Vorming vind primêr plaas in vertrouensverhoudings. Met verloop van die vorming van geestelike leierskap ontwikkel die student die volgende verhoudings:

•    Gemeentes: Elke student is word geplaas by  ‘n gemeente. Fakulteitswerk diensleer-werkstukke kan ook in hierdie gemeentes gedoen word. Die gemeentes verskaf die basiese konteks waarin geestelike leierskap ontstaan en gevorm word. Die Seminarie onderhandel met gemeentes om te funksioneer as opleidingsgemeentes, soos daar onderwyshospitale is vir mediese opleiding.
•    Mentors: Elke student word toegesê aan ‘n predikant of kerkleier wat optree as mentor en met wie hy/sy gereeld, verkieslik weekliks, konsulteer.
•    Dosenterade: Dosente wat op Rade van die VGK/NGK dien, skakel ook met studente.
•    Medestudente: Studente ondersteun mekaar in ondersteuningsgroepe. Hierdie groepe is ook aktief tydens die 100 dae van geloofsvorming.
•    Ondersteuningskomitees: Elke student het ‘n ondersteuningskomitee wat bestaan uit sy/haar mentor, ‘n fakulteitsdosent, ‘n medestudent en ‘n uitvoerende lid van die Seminarie. Die komitee vergader een maal per kwartaal om die student se vordering te bespreek in terme van die mylpale.

c.    Aanspreeklikheid van die student

Studente is aanspreeklik vir hulle eie ontwikkeling in die nastrewe van hierdie mylpale – met die ondersteuning van bogenoemde verhoudings.

5. ‘n Seminarie vir Bedieningsvorming
Kerklike vorming behoort institusioneel opgeneem te wees binne ‘n “seminarie” wat die kerk se tradisies, ritmes en uitkomstes beliggaam. Die aanbeveling is dat die “Kweekskool” “her”-stig word volgens die voorbeeld van die Northern Theological Seminary van die VGK in Pretoria. So ‘n Seminarie sou funksioneer as ‘n kerklike-instituut onder supervisie van die Kuratoria van die VGK en NGK en akademies geakkrediteer word met die Fakulteit Teologie in ‘n Skool van Gereformeerde Teologie (waarvoor die Fakulteitsregulasies voorsiening maak). Die Seminarie behoort méér te wees as ‘n administratiewe skakel tussen die denominasie en die studente. Dit moet ‘n ruimte wees vir vorming. Die bedienings¬vorming wat hierdie memorandum voorsien, kan nie plaasvind in ‘n administratiewe verhouding met studente nie. Die studente moet geborge en veilig voel voordat sulke vorming kan plaasvind.
Die Kuratoria dien as bestuursliggaam van die Seminarie en stel “personeellede” aan vir die Seminarie:
Die “personeel” van die Seminarie kan die volgende rolspelers behels:
•    Die Kuratoria skakel met predikante in sinodale diens en/of gemeente-predikante omtrent dienslewering in die Seminarie in ‘n deeltydse hoedanigheid.
•    “Opleidingsgemeentes” word geïdentifiseer en gekontrakteer om as konteks te dien vir bedieningsvorming.
•    Mentors word opgelei en gekoöpteer.
•    Administratiewe personeel van die Kuratoria bied bestuurs- en administratiewe dienste aan die Seminarie.

6.    Moontlike volgende stappe
•    Die Kuratoria oorweeg, verbeter en keur die memorandum as ‘n raamwerk vir die implementering van die program vir Aanvullende Denominasionele Opleiding.
•    Die Kuratoria stel ‘n taakspan aan om die aanbevelings te implementeer en terug te rapporteer aan die Uitvoerende Komitees van die Kuratoria.
•    Die Seminarie word gestig in November 2011 tydens ‘n gesamentlike sitting van die Kuratoria
•    Eerste studente registreer by die Seminarie: Januarie 2012

 

Bibliografie:
Banks, Robert, Reenvisioning Teologiese Opleiding, Eerdmans 1999
Foster, Charles R (ed), Educating Clergy, Jossey-Bass 2006
Naidoo, Marilyn, An empirical study on spiritual formation at Protestant theological training institutions in South Africa (goedgekeurde artikel vir publikasie in Religion en Theology)
Western Theological Seminary, Formation for Ministry

Trackback from your site.

Leave a comment