{ARGIEF}

Gemeentestories



Die Handelinge-verhaal deel verskeie gemeentestories met sy lesers. Tussen Handelinge 2 en Handelinge 8 lees mens hoofsaaklik van die kerk in Jerusalem. Van Handelinge 8 af tot Handelinge 13 kom gemeentes in Samaria en Judea aan die orde, onder andere die gemeente in Antiogië. En van Handelinge 13 tot ongeveer hoofstuk 20 word die stories vertel van Paulus se sendingreise en die gemeentes wat in klein-Asië tot stand gekom het as gevolg van sy bedieningswerk daar. Handelinge 21 tot 28 deel die lotgevalle van Paulus se reisgeselskap van sy gevangeneming tot sy aankoms in Rome. Op hierdie manier vertel Lukas hoe die belofte wat saam met die uitstorting van die Heilige Gees gegee is, in Handelinge 1:8, waar gemaak is: Van Jerusalem deur Judea en Samaria tot aan die uithoeke van die wêreld – in die hoofstad van die Romeinse Ryk.


Spesifieke gemeentes



Ingeweef in die vertelling van mense – onder andere Petrus, Stefanus, Barnabas en Paulus – lees mens van gemeentepraktyke en leiersbyeenkomste wat die evangelisasie en kerkplantingspraktyke van die apostels demonstreer. Soms word die stories van spesifieke gemeentes vertel, soos Jerusalem in Handelinge 2 en verder, Antiogië in Handelinge 11. In ander gevalle word vertel hoe te werk gegaan is om die bekeerlinge te organiseer, soos in Handelinge 14. En dan lees mens ook van die maniere waarop gewerk is om mense aan Jesus voor te stel, soos Paulus in Efese –daarvan lees ons in Handelinge 19 en 20 – en Rome (Hd 28) gedoen het. In Handelinge 26 sien ons ook Paulus se evangelisasie-werkswyse in aksie wanneer hy sy getuienis teenoor Agrippa lewer. 


Artikelreeks



Met hierdie kort inleiding word die tafel gedek om in ‘n paar artikels stil te staan by evangelisasie en kerkplanting soos dit in Handelinge plaasgevind het. Noodwendig poog dit nie om ‘n omvattende beskrywing te word nie; dit wil ook nie ‘n oefening in teksuitleg wees nie. Ons wil bloot die storie lees en vasstel of ons iets kan raaksien van ons tema en of daar iets is wat ons vir ons konteks kan huis toe bring.