Jerusalem, ‘n gemeente met ‘n missionêre leefstyl

Written by webmeester on . Posted in Evangelisasie

Om te waardeer hoe dit moontlik was dat 3,000 mense op een dag tot bekering kon kom, moet in ag geneem word dat hulle almal die onlangse geskiedenis van Jesus se bediening, inhegtenisneming en kruisiging, asook die getuienisse oor sy opstanding gehoor het. Boonop was hulle meestal Joods en het dus ‘n intieme kennis van die Ou Testament gehad. Die sprong om Jesus as Messias te aanvaar, was nie net klein nie, die grond is ook voorberei vir mense om die lig te sien. 


LEWENSSTYL VAN ‘N GEMEENTE 



Wat meer insiggewend is, is die manier waarop die eerste gemeentelede begin funksioneer het: 

• Hulle het volledige toewyding gedemonstreer in hulle nuwe geloof (Hd 2:42) en alles probeer leer wat die apostels kon oordra. Die feit dat Lukas vertel hoe Jesus die inhoud van Petrus se Pinksterdagpreek was, kan ons met redelike sekerheid laat aanvaar dat die inhoud van die apostels se prediking ook om Jesus se bediening, woorde en boodskap gewentel het.

• Hulle het ‘n nuwe familieband gevestig. Lukas dink nie in Hd 2:42 aan gesellige samesyn as hy van koinonia praat nie. Hy aanvaar dat ons sal weet die antieke sosiale strukture van die Joodse familie vorm die basis waarop die Jerusalemiete hulle nuwe gemeente ingerig het. 

• Hulle het saam geleef. Die gemeenskaplike maaltyd word telkens in Handelinge beskryf as ‘n lewensstyl waardeur gemeentelede met mekaar tyd spandeer het (Hd 2:46; Hd 4:35; Hd 6:1). Die kommunale aard van hierdie gemeente was boonop gebore uit hulle verstaan dat hulle ‘n alternatiewe gemeenskap vorm, vandaar die praktyk om besittings te verkoop en die geld met mekaar te deel. 

• Hulle het God geken as Lewende Persoon. Dis waarom gebed (Hd 2:42) sentraal figureer in hulle gemeentepraktyk. Mens moet ook raaksien dat Jerusalemgemeente haarself nie verstaan het as ‘n nuwe groep, apart van die mense se Joodse identiteit nie. Dit verklaar hoekom hulle steeds tempel toe gegaan het (Hd 2:46), hoekom die Joodse Raad die apostels tot verantwoording geroep het (H4:1 ev) en hoekom hulle vervolg is (Hd 8:1). 

Bowenal wys die praktyk om daagliks tempel toe te gaan dat die familie-gebaseerde styl ook ‘n korporatiewe karakter gehad het. Die gemeente het haarself nie verstaan as aparte groeperings van huiskerke wat onafhanklik van mekaar funksioneer nie, maar as ‘n netwerk van families wat almal deel is van die groter geloofsgemeenskap en wat steeds as een groot groep wil saamkom om God te aanbid. 

Die feit dat Hd 2:47 vertel hoe mense daagliks tot bekering gekom het, moet dus verstaan word teen die agtergrond dat hierdie mense vanuit hulle bestaande geloof nuwe dinamika ontdek het – in die Verlossingswerk van die Messias – en dat die nie-wettiese spontaneïteit van die gemeentelewe en die veronderstelde liefde van die koinonia hulle aangetrek het om ook te behoort. Dis in hierdie lewensgemeenskap dat mense ware geloof gevind en God op ‘n nuwe manier begin dien het, meer as wat die inhoud van die prediking hulle op verstandelike vlak oortuig het. Die vroeë kerk se voorbeeld het harder gepraat as haar boodskap!


Trackback from your site.

Leave a comment