{ARGIEF}

Boonop loop evangelisasie en dissipelskap hand aan hand: Nuwelinge in ‘n geloofsgemeenskap moet intensioneel begelei word met geloofsvormende gewoontes na Jesusgelyke karaktervorming en ‘n koninkryksgerigte lewenswyse. Nuwe gemeentes gaan haal dus nie net geloofsvervreemde mense nie, maar bou hulle ook op in die nuwe lewe wat Christus moontlik gemaak het.
Maar hoe gebeur dit in praktyk?
Inkarnasionele evangelisasie, aldus Jeremy Zach (lees gerus hier), verteenwoordig die voorbeeld wat Jesus gestel het in sy aardse bediening en boodskap. Hy het na mense gegaan, met hulle gemeng, hulle geken en hulle onvoorwaardelik aanvaar.
Jesus het geleer dat sy volgelinge – as sout van die aarde en lig vir die wêreld – aktief betrokke sal wees in die samelewing. Nie alleen sal hulle aktief uitreik na mense toe nie, hulle sal boonop nie verwag dat mense eerder na die kerk toe moet kom nie. Hierdie uitreik vertoon die karakter van mense wat konstruktief meewerk aan die uitbou van God se koninkryk as nederige dienaars.
Jesus het bowenal die karaktertrekke van God verpersoonlik. Hy het onvoorwaardelike aanvaarding, genadebetoning en barmhartigheid vir elke mens aangebied. Deurentyd het Jesus getuig van sy identiteit as Seun van God. Die inbinding in in God se gesin deur die nuwe geboorte wat geloof moontlik maak, is deur Hom as visie vir ‘n nuwe toekoms voorgehou.
Jesus het ook met alle mense omgegaan en geen geestelike of morele teenprestasie van hulle geëis nie. Sy fokus was op die mens in sy/haar spesifieke omstandighede, of nood, of onmiddellike konteks. Jesus was ingestel op die verhouding wat ontwikkel tussen Hom en die persoon met wie Hy kontak gemaak het, asook die integriteit daarvan. So het Jesus die veroordeelde vrou (Joh 7) weggestuur nadat verlossing aangebied is in die plek van veroordeling en straf. Haar sondige reputasie en die gemeenskap se mening was vir Hom van minder belang as die vryheid wat onvoorwaardelike vryspraak in die plek daarvan aanbied.
Wat beteken dit vir nuwe gemeentes?
Kerkplanters is nie besig met die vestiging van gemeentes wat gefrustreerde gelowiges in die kerk hou nie. Hulle gemeentes is nie gevul met hoofstroomgelowiges wat aan die stereotipes van tipiese kerkgangers voldoen nie. Kerkplanters beweeg tussen die randfigure en disfunksionele lede van die samelewing rond. Hulle gemeentes is gevul met gebroke mense wat die water van Jesus se genade geproe het en nuwe hoop in hulle omstandighede gevind het. En in hierdie gemeentes vat die mense hande met mekaar om ‘n DNA te vestig van Jesusgemodelleerde ontlediging as die sentrale kenmerk van die gemeentehart.
Bybeltekste wat hieroor praat, sluit in: Matteus 5:13-19; Lukas 10:1-12; Johannes 1:1-18; Johannes 3:1-21; Johannes 4:1-42; Johannes 7:53-8:1; Filippense 2:4-8; Kolossense 1:15-19.