Kerkordelike uitdagings vir nuwe gemeente ontwikkeling

Written by webmeester on . Posted in Kerkplanting

Die begin van nuwe geloofsgemeenskappe

1. In watter mate en hoe moet die vorming van nuwe geloofsgemeenskappe geskied met die kennisname en goedkeuring van die plaaslike gemeente en breër kerklike verband?

Vrae in die verband is minder wanneer ’n plaaslike gemeente ’n doelbewuste poging aanwend om nuwe geloofsgemeenskappe te vorm. Die vrae word egter meer wanneer gelowiges aangemoedig word om geloofsgemeenskappe te probeer vestig deur hulle kontak met ongelowiges waar hulle hul ook ontmoet. In so ’n geval kan ’n nuwe
geloofsgemeenskap tot stand kom uit werksverhoudinge, sportaktiwiteite of betrokkenheid by ’n skool ens. Die plek van samekoms is dan dikwels heeltemal buite die geografiese grense van die plaaslike gemeente en diegene wat tuis kom in die nuwe geloofsgemeenskap kom ook uit verskillende gebiede. Nuwe geloofsgemeenskappe groei dikwels primêr deur familie en vriende van verskillende streke wat hulle tuis voel in die nuwe geloofsgemeenskap. Is dit bv. noodsaaklik dat die plaaslike NG Gemeente in die geografiese gebied waar so ’n ’n geloofsgemeenskap bymekaarkom, die projek moet goedkeur of moet dit net geskied met die kennisname/goedkeuring van die gemeente vanwaar die stigter/leier van die nuwe geloofsgemeenskap kom?

Die funksionering van ’n nuwe geloofsgemeenskap

1. Watter vorme van lidmaatskap geld in ’n nuwe geloofsgemeenskap?

By die vorming van nuwe geloofsgemeenskappe gebeur dit dikwels dat mense met ’n ander kerklike agtergrond aktief inskakel by die nuwe geloofsgemeenskap. Alhoewel hulle
vrymoedigheid het om in te skakel by ’n geloofsgemeenskap wat deur die NG Kerk begin en bedryf word, is baie om verskillende redes nie geneë om volle lidmate van die NG Kerk te word nie. Watter kerkregtelike opsies bestaan daar om enersyds aan die lidmate ’n geleentheid te gee om hulle op ’n amptelike wyse as lidmaat/deelnemer van die nuwe geloofsgemeenskap te registreer en andersyds om aan hulle die nodige vryheid te gee om deel van die geloofsgemeenskap te wees sonder om volle lidmaat van die NG Kerk te word. Is daar verskillende vlakke van lidmaatskap moontlik?

2. Aan watter vereistes moet gelowiges voldoen om in die leierskorps van ’n nuwe geloofsgemeenskap opgeneem te word?

Leierskap in nuwe geloofsgemeenskappe is gewoonlik ’n baie groot uitdaging.  Is dit moontlik om in die leierskapspan van ’n nuwe geloofsgemeenskap te dien sonder om ’n lidmaat van die NG Kerk te wees?  Baie nuwe geloofsgemeenskappe funksioneer sonder
die direkte teenwoordigheid of betrokkenheid van ’n predikant omdat die  geloofsgemeenskap deur die bediening van nie-predikante tot stand gekom het en/of daar ook nie ’n predikant beskikbaar is wat direk en dikwels by die geloofsgemeenskap betrokke kan wees nie. Gelowiges neem in die proses funksies oor wat normaalweg met ’n predikant geassosieer word en in die Kerkorde as sy/haar taak omskryf word, soos bv. prediking en die bediening van die sakramente.  Tans verleen die Kerkorde slegs aan predikante  bedieningsbevoegdheid oor verskeie aspekte van die bediening wat ook in nuwe geloofsgemeenskappe kernfunksies is, maar waarvoor predikante nie beskikbaar is nie.

3 Watter amptelike dokumente is in ander tale as Afrikaans beskikbaar vir gebruik in nuwe geloofsgemeenskappe?

Nuwe geloofsgemeenskappe sluit dikwels mense van verskillende taal- en
kultuuragtergronde in. Watter amptelike dokumente (Kerkorde, Reglemente, liturgieë,
sangbundels, formuliere en belydenisskrifte) is in ander tale beskikbaar?

Die verband tussen nuwe geloofsgemeenskappe en die NG Kerk

1.  Watter vorm van verband kan met die NG Kerk aangegaan word waar ’n nuwe
geloofsgemeenskap tot stand gekom het deur die bediening van ’n NG lidmaat (e)
maar die nuwe geloofsgemeenskap wil nie ’n volwaardige gemeente van die NG Kerk
word nie?

Tans maak die Kerkorde ruimte daarvoor dat nuwe geloofsgemeenskappe kan ontwikkel tot volwaardige gemeentes van die NG Kerk.  Voor die status van volle
gemeente, bly die nuwe geloofsgemeenskappe projekte of bedieningspunte van ’n
bepaalde gemeente, of kan as ’n wyksgemeente funksioneer.

Dit is nie ongehoord dat inisiatiewe om nuwe geloofsgemeenskappe te vorm, dikwels daartoe lei dat gelowiges wat om die een of ander rede kerklos geraak het, by so ’n geloofsgemeenskap inskakel. Sodanige mense kom uit ’n bepaalde kerklike tradisie en spiritualiteit en voel om verskeie redes ongemaklik om te ontwikkel tot ’n volwaardige gemeente van die NG Kerk. Tog verwelkom die geloofsgemeenskap die betrokkenheid en ’n verband met die NG Kerk.

2. Op watter stadium kan die nuwe geloofsgemeenskap amptelik in verband tree met ander nuwe geloofsgemeenskappe, gemeentes, ringe en sinodes?

Die Kerkorde maak net voorsiening vir volwaardige gemeentes om in verband te tree met ringe en sinodes. Die vereistes vir volwaardige gemeentes sluit o.a. in geboue,
betaalde predikante en finansiële sekerheid ens.

Voorstanders vir die vorming van nuwe geloofsgemeenskappe verstaan ’n volwaardige
gemeente/kerk primêr organies en nie institusioneel nie. Kerk/gemeente is daar waar diegene wat in Jesus Christus glo, om Jesus as die opgestane Here versamel om God te aanbid en onder sy leiding na die wêreld in woord en daad uit te reik. In die proses word die Woord verkondig, die sakramente bedien en vind onderlinge bemoediging en vermaning plaas. Al hierdie dinge kan met ’n klein groepie in ’n huis of sel plaasvind. Dit is volwaardige kerk alhoewel nie ’n volwasse of volgroeide kerk nie. Gemeentewees word nie deur geboue of predikante bepaal nie.  Kan daar vorme van direkte en amptelike verband tussen “huiskerke” en ander gemeentes en ringe wees behalwe via wyksgemeentes of bedieninge van bestaande gevestigde gemeentes?

3.   Is dit moontlik dat ’n netwerk van nuwe geloofsgemeenskappe in ’n bepaalde streek as netwerk in verband kan tree met die NG Kerk in breër verband sodat die nuwe
geloofsgemeenskappe direk verteenwoordig kan word by ringe en sinodes?

Sommige leiers betrokke by die vorming van nuwe geloofsgemeenskappe het die ervaring dat alhoewel hulle plaaslike gemeentes vir hulle die ruimte geskep het om nuwe
geloofsgemeenskappe te vorm, hierdie gemeentes nie altyd werklik daarin slaag om hulle eiesoortige uitdagings en behoeftes by die ringe en sinodes te kommunikeer of hulle effektief in te skakel by besinning of bedieninge deur die groter kerkverband nie. Hulle gemeentes verteenwoordig net die nuwe geloofsgemeenskappe, maar daar is nie direkte verteenwoordiging van die nuwe geloofsgemeenskappe in die groter verband nie.

4.  Watter vereistes, voorregte en verantwoordelikhede is ter sprake wanneer ’n nuwe
geloofsgemeenskap  amptelik in verband met die NG Kerk wil  tree?

Tans kom nuwe geloofsgemeenskappe tot stand wat geen amptelike verband met enige ander gevestigde kerk het nie.  Sommige van hierdie geloofsgemeenskappe sal ’n nouer verband met ’n gevestigde gemeente hoog op prys stel. So is daar bv. Franssprekende geloofsgemeenskappe in die Skiereiland wat ’n openheid het om in nouer verband met die NG Kerk te tree.

Trackback from your site.

Leave a comment