{ARGIEF}

Jurie Goosen is predikant van ‘n nuwe geloofsgemeenskap vir internasionale studente wat by die Universiteit van Stellenbosch studeer. Hy vertel meer oor ‘n toer waarop hierdie studente onlangs gegaan het.

“Ons gaan hierdie naweek (16-18 September 2011) na Bonnievale met meer as dertig internasionale studente. Die plaaslike gemeente ( NGK Van der Merwe) is die gasheer. Vrydagaand beplan hulle ‘n snoekbraai en dan word al die studente uitgeplaas by plaaslike gesinne. Dis ‘n wonderlike geleentheid vir lidmate om blootstelling te kry aan ander kulture, ook vir internasionale studente om plattelandse gasvryheid van Christene te beleef.

“In ons groep is daar onder andere Chinese, Japanese en ook Iranese. Ons gebed is dat hulle Christus sal ontmoet deur die gasvryheid van gelowiges in Bonnievale. 

“Internasionale studente kry selde die geleentheid om iets meer as Stellenbosch en Kaapstad te sien; geld en tyd beperk hulle altyd. Hierdie groep gaan soveel meer doen en beleef, selfs ‘n kaasfabriek of kelder besoek en op die Breerivier met kano’s roei. Op pad terug Sondag beplan ons om by Kaap Agulhas piekniek te hou, baie buitelandse studente wil verskriklik graag die mees suidelike punt van Afrika besoek. Ons dank God vir die Bonnievale gemeente en gemeenskap wat hierdie besondere naweek moontlik maak.”