Die Familie Konsensuspunte

Written by Frederick on . Posted in Jeug en familie

Die Familie
Opmerkings oor Bybels/teologiese konsensuspunte  as normatiewe riglyn vir ‘n publieke gesprek oor die aard en waarde van die familie in die samelewing


Frederick Marais


 


Verantwoording


Die rede vir hierdie poging om ‘n christelike konsesus oor die familie te vind het te make met twee ontstellende realiteite rakende families in ons samelewing:



  • Die familie as instelling beleef tans ‘n krisistyd wat byna onge-ewenaar is in die geskiedenis.

  • Die kerk en veral hoofstroomkerke het soos baie ander samelewingsinstellings “stil” geraak in hulle beskerming en bevordering van die familie in die samelewing.

Hierdie is kort opmerkings oor moontlike konsensuspunte vanuit ‘n Bybels/teologiese vertrekpunt.  Uit die aard van die saak sal alle Christene en teoloee nie in akoord wees hiermee nie, maar ek is van oordeel dat die opmerkings wel verteenwoordigend is van ‘n hopelik groeiende konsensus, of dat dit debat sal stimuleer in die soeke na ‘n werkbare konsensus.  Ek is bewus van broosheid van elk van die onderstaande punte as “konsensuspunte” maar hoop dat die noodsaak vir ‘n soeke na konsensus met groter konsensus ontmoet sal word.  Indien dit die geval is sal die poging geslaag het in sy/haar doel.





  


Daar is ‘n paar redes waarom ek van oordeel is dat daar nie langer gewag kan word om konsensus onder christene te soek rakende die familie nie:



  • Hoewel daar uiteenlopende standpunte gehuldig word, kan ons nie toetree tot die publieke- en ook kerklike debat indien ons nie ‘n ernstige poging aanwend om konsensus onder ons as christene te ontwikkel nie.  Dit beteken nie dat ons oor alles hoef saam te stem nie, maar wel dat ons moet probeer om dit wat ons as normatief sien rakende die familie moet debateer en formuleer om in ‘n posisie te wees om getuienis te lewer oor die familie in ons gemeenskap.  In die proses sal ons moet leer om te onderskei tussen interessante debatspunte en sake wat van wesenlike aard is.  So bv is ek van mening dat die homoseksualiteit-debat ‘n belangrike debat is, maar dat ons daarteen moet waak dat dit die familie-debat skaak.

  • Sonder ‘n minimum konsensus sal dit vir kerke en gemeentes onmoontlik wees om ‘n bedieningsteorie vir families te ontwikkel.  Hoewel die debatte rondom die familie nie maklik in hierdie tyd tot rus sal kom nie, kan ons eenvoudig nie eers wag totdat alles klaar uit gepraat is voordat ons met aktiewe ondersteuning aan families begin nie. Die krisis rakende families is eenvoudig te fel hiervoor.  ‘n Minimum konsensus as vertrekpunt vir aksie is beter as debat sonder enig aksie.  Met minimum konsensus word hier gesien as ‘n vertrekpunt wat (hopelik) kan groei soos wat aandag aan die saak gegee word.

  • Dit is verder belangrik dat die uitdaging van konsensussoeke met inagneming van die huidige konteks aanvaar word.  Die skade van ‘n nostalgiese konsensus oor wat ons in die verlede van die familie beleef het, kan onberekenbaar skade aan die toekoms van die familie berokken.

Met normatiewe riglyne word hier veral Bybelse uitgangspunte tov die familie bedoel.  Hoewel ons nie die Ou- en Nuwe Testamentiese getuienis oor die familie kan reduseer tot ‘n enkel “Bybelse familie” of  ‘n enkel “bybelse getuienis” oor die familielewe nie, kan ons aan die ander kant nie ook maak asof die Bybel neutraal of koud staan teenoor die familie as sulks nie.  Ek sal graag wil argumenteer dat die familie sentraal staan in die boodskap van die Bybel en dat dit bv byna onmoontlik is om oor God, geloof en die geloofsgemeenskap te praat sonder om familiale terminonlogie te gebruik.


In hierdie dokument word daar deurgans na die familie of familielewe verwys met ‘n baie spesifieke doel naamlik om ‘n meer inklusiewe taal vir familielewe te ontwikkel wat ‘n verskeidenheid van familie soorte en strukture insluit.  In Afrikaans dui gesin gewoonlik op die nukluere gesin wat met bloedverwantskap gevorm word aan.  Statisiek toon aan dat die verskeidenheid van families wat vandag in ons samelewing vookom nie aan hierdie beskrywing voldoen nie.  Familie is veel meer van ‘n inklusiewe term wat die verskeidenheid van familiestrukture insluit.
Moontlike normatiewe Bybels/teologies vertrekpunte rondom die familie





  


Konsensuspunte



1. Christene leer verstaan wat familie beteken vanuit hulle verstaan van God as’n drie-enige relationele wese.  In eenheid en verhoudings tussen Vader Seun en Gees vind Christene ‘n voorbeeld van wat dit beteken om verbind te wees aan mekaar en in verhouding tot mekaar te leef.(Joh 17)  Dit is vanuit hierdie verhoudings wat afgelei word wat dit beteken om familie vir mekaar te wees.  Die Drie-eenheid konstitueer familie.


2. Christene is in die eerste plek deel van die  nuwe familie van God. Hulle “weer-geboorte” (1Pet 1:23) is self meer betekenisvol as hulle fisiese geboorte omdat dit hulle deel maak van ‘n nuwe familie wat self kan beteken dat hulle moet breek met hulle familie van bloedverwantskap. (Matt8 21-22)   Bloedverwantskap is dus nie die enigste of belangrikste manier waarop ons deel kan wees van ‘n familie nie.  Hoewel lidmaatskap van die familia Dei en van ‘n bloedfamilie nie noodwendig as teenoor mekaar gesien moet word nie, is daar vanuit die perspektief van veral die Nuwe Testament ‘n orde in prioriteit.  Dit is vir alle christene beskore om deel van ‘n familie te wees ongeag hulle familiale status in die samelewing.


3. Die Bybel sien die onderlinge verhoudinge van die familie groei vanuit ‘n verbintenis-wat sy ontstaan te danke het aan God se verbond met Israel, en deur Jesus Christus met sy kerk. Vir christene is die kruisdood van Christus die voorbeeld van wat ‘n selfverlonende lewensverbintenis beteken.(IJoh 4:10) Familiale verhoudinge is daarom vir die Bybel verbondsverhoudinge waar ‘n lewensverbintenis gemaak is.



4.  Onvoorwaardelike liefde is ‘n sentrale Bybelse tema(opdrag) wat veral binne die intimiteit van die familie  ingeoefen en daarbuite uitgeleef behoort te word. Om in liefde te leef teenoor alle mense is die belangrikste opdrag aan almal binne die familie van God. Hierdie opdrag tot liefde relativeer alle vorms van blinde gesag waar een persoon alleen op grond van sy of haar geslag gesag het bokant iemand anders.(Ef 5:25) Beide die Ou- en  die Nuwe-testament is afwysend teenoor enige vorm gesag in die familie wat verhoudinge sou afbreek.(Ef 6:4)  Die NT en spesifiek Christus is subversief tot patriargie en matriargie.



5. Die Bybel se verstaan van geslagtelikheid het te make met gelykheid en uniekheid. Man en vrou is as gelykse geskape an die beeld van God(Gen 2:27) Binne die familie van God is elke man, vrou en kind nie dieselfde nie, maar uniek ooreenkomstig die gawes wat hulle ontvang het.( 1Kor 12; Ef 4) Hulle posisie en funksie binne die familie word meer bepaal deur hulle interafhanklikheid as hulle selfstandigheid.


Praktyk opmerking:



  • Die kerk behoort die regering en ander instansies te steun in hulle poging om ‘n gemeenskap te skep waar geslagtelike gelykheid bevorder word.  In die proses behoort te kerk krities te kyk na manlike of vroulike dominansie in eie geledere.

  • Daar behoort spesiale aandag geskenk te word aan die probleme wat mans ervaar in die familiale- en gemeenskaps kontekste.  Dit is bekend dat ‘n baie groot persentasie van samelewingsprobleme direk aan hierdie probleem toegeskryf kan word.

  • Vroue wat toenemend toetree tot die arbeidsmark verkeer onder geweldige druk tov dubbele verantwoordelikhede by die werk en by die huis.  Hierdie probleme kom veral voor in gemeenskappe waar ‘n eerste generasie “werkende” vroue voorkom.

 


6. Kinders is volledig mens-geskape na die beeld van God (Imago Dei)- en word nie eers mens as hulle volwasse is nie. Net so is  ouer mense en gestremdes ook nie minder mens omdat hulle nie meer so funksioneel vir die gemeenskap is nie. Hulle verdien daarom dieselfde respek as enige ander mense in die gemeenskap.


Praktyk opmerking:



  • In ‘n land waar brose mense so maklik uitgebuit word deur ander met mag en krag is hierdie perspektief baie belangrik en behoort dit tydig en ontydig bevorder te word.
     


7. Familie is nie alleen die primere konteks waarbinne geloofs (- en etiese) vorming (waar lewe en belydenis mekaar ontmoet) plaasvind nie, maar dien as ‘n noodsaaklike integrasiepunt vir die inoefening en toepassing van geloof en etiek in die lewe.


 


Praktyk opmerking: 


 



  • Die kerk sal sy praktyk van geloofsonderrig weg van die familie weer in oorweging moet neem.  Die regering en ander instansies wat poog om ‘n morele herstel in die gemeenskap te bewerkstellig moet oortuig word dat dit baie moeilik kan plaasvind sonder dat die familie ‘n nasionale prioriteit word.  Herstel van waardes sal moeilik weer posvat voordat families meer funksioneel is nie.

 


8. In die verhale van die Bybel is families  eie  aan hulle tyd en vertoon daarom ‘n wye verskeidenheid van strukture en funksies. Die Bybel is sensitief vir die impak van die veranderende sosiale omgewing op die familie. Die Bybel sien dit wel as taak vir die geloofsgemeenskap om die familie te beskerm teen enige sosiale en ekonomiese uitbuiting wat die individu en die familie sal benadeel.  Dit is veral opvallend dat kwesbare familie-lede soos die weduwees, die wese en die vreemdeling uitgesonder word vir spesiale beskerming.



Praktyk opmerking: 


Die implikasie is dat ons opnuut sal moet kyk na die destruktiewe inpak wat die vryemarkstelsel het op die werksure van ouers.  Hierdie perspektief is belangrik vir ons hantering van die



  • MIV/Vigs situasie soos bv VIGS wesies

  • Huishoudelike geweld soos verkragtings

  • Die voorkoms van huishoudings waar kinders die hoof is ens.


 
9.  Die Bybel sien twee getroude volwassenes as die ideaal vir die konteks waarbinne kinders grootgemaak behoort te word, maar benadruk ewe sterk dat geen familie soos bv sg enkelouer families gestigmatiseer behoort te word nie.



10.  Ouers word ‘n leiersposisie gegee in die familie, maar telkens vermaan om die gesag nie te misbruik nie, maar te gebruik om kinders voor te gaan in voorbeeld. Die Bybel handhaaf die interafhanklikheid van verskillende generasies .  In hulle interafhanklikheid vorm die generasies ‘n gemeenskap van sorg wat al die lewensfases insluit.


Praktyk opmerking:



  • Die behoefte aan ouerleiding waar ouers toegerus word met vaardighede om hierdie leiersposisie te kan inneem is kritiek

11 Families behoort nie in isolasie te leef nie, maar behoort ook vandag saam met ander families ‘n sosiale tapeserie(gemeenskap) van sorg te vorm waarbinne kinders kan grootword en ouer mense versorg kan word. Families is in beide die Ou- en Nuwe Testament ‘n hoeksteen vir die bou van  ‘n gesonde en regverdige gemeenskaplewe.


 



 


Enkele belangrike bronne:


Ammermann, Nancy  Work, Family and Religion in Contemporary Society
& Wade Roof(1995)  Routledge
Browning, Don S &  Reweaving the Social Tapestry
Gloria G Rodriguez(2002) Towards a Public Philosophy and Policy for Families
    W.W. Norton & Company
Burger, C.W. &  Draers van die waarheid
Ian Nell(redd)(2002)  Nuwe Testamentiese visies van die gemeente
    BUVTON
Olson, Richard P   A New Day for Family Ministry
& Joe Leonard(1996)  Alban
Perdue, Leo G(red)(1997) Families in Ancient Israel
    Westminister John Knox Press
Rendle, Gill(2002)  The  Multigenerational Congregation
    Alban
    Strengthening American Families
    The American Assembly

Trackback from your site.

Leave a comment