HOEKOM #IMAGINE DIE BELANGRIKSTE BYEENKOMS VAN HIERDIE GENERASIE IS

Written by Guillaume Smit on . Posted in Jeug en familie

Die meeste van ons wat van 21-23 Maart 2014 op die #imaginekamp was, gloei nog van al die opwinding (met hierdie skrywe was dit immers ‘n skamele vier en twintig uur tevore): Etlike duisende jongmense en volwassenes; ‘n jeugfees wat skaars beskryf kon word met enige ander woord as awesome; tieners wat tot bekering gekom het, hulle sondes bely het, hulle bagasie voor die Here gaan neersit het; die uitdaging wat reguit en duidelik gestel is om voluit vir die Here te leef en die hoop te help herstel vir ‘n gebroke land. In terme van rigtinggewers was hierdie een van die mees suksesvolle byeenkomste in ‘n baie lang tyd.

Die vraag wat egter opduik, is waaraan hierdie sukses gemeet moet word. Die volhoubaarheid van jeugbyeenkomste word immers nie gemeet aan getalle (4,000 mens sing ALTYD lekkerder saam as 400), vibe (tieners is immers ALTYD excitable – veral as hulle probeer om die wêreldrekord vir Air Guitar te breek) of die aantal bekerings (met genoeg beligting, aanmoediging en praise & worship is daar ALTYD baie bekerings) wat tydens die feeste plaasgevind het nie. Hoe, dan, beantwoord mens hierdie vraag? Daar is vier sake wees waaraan mens die sukses van #imagine kan probeer meet: teologiese begronding, missionale ingesteldheid, gemodelleerde diensbaarheid en die vestiging van ‘n proses.

Terloops, ek skryf vanuit ‘n observasieperspektief – ek het saamgegaan as ‘n blote groepleier vir tien seuns. Wat jy hier lees, kom dus nie met die binnekamerkennis van ‘n loodsspanlid of die aksie-ervaring van deelname aan die beplanning en implementering van die byeenkomste nie.

Teologies Begrond

Die persepsie bestaan dikwels dat mense op groot feeste tot bekering kom omdat die sprekers hulle met die hel manipuleer of op voorspoedsteologie hamer (“as jy jou hart vir Jesus gee, gaan al jou probleme opgelos word”).  Verder word die pad vorentoe aangedui as ‘n pad van oorwinning, want nou gaan alles anders wees en bekeerlinge gaan sonder enige moeite hulle geloof kan uitleef. Dit was duidelik dat die denke agter die inhoud van #imagine ‘n gans ander rigting in gedagte gehad het: Van sprekers wat kom vertel het hoe hulle lewens slegte afmetings afgeneem het ten spyte van hulle geloof, tot die Bybelse fokus dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Jesus Christus, het dit duidelik gemaak dat ware bekering nie gebou kan word op teologiese oppervlakkighede nie. Vanuit my eie gereformeerde agtergrond kon ek die klanke van die Heidelbergse Kategismus hoor resoneer in die programinhoud: Hoe groot my sonde en ellende is; hoe ek verlos kan word; waaruit my lewe van dankbaarheid moet bestaan.

Vergun my ‘n klein veralgemening om hierdie punt te verduidelik: As koerswyser het #imagine daarin geslaag om grondige teologie in ‘n taal te verpak wat in die harte van ‘n verbruikersgenerasie kon vasskop en dit herfokus.

Missionaal Ingestel

Van harte gepraat: die somtotaal van #imagine se boodskap was om diegene wat dit bygewoon het, te fokus op God se hart vir die wêreld. Regdeur die naweek was die boodskap duidelik dat dit gaan oor God, sy besig-wees met ‘n stukkende wêreld en hoe Hy ons insluit om hierdie gebrokenheid te help herstel. Die bedoeling van ware bekering is om diensbaar te raak in God se koninkryk, om deel te word van die beweging wat die nood aanspreek, om jouself so op God te fokus dat jy nie anders kan as om aktief mee te werk aan sy sending op aarde nie. Waarskynlik is hierdie maatstaf vir sukses die een waaraan #imagine die hardste getoets moet word. As mobiliseringsbeweging sal die uitwerking van die feeste gesien word in die aantal mense wat hulle lewens inrig volgens roeping eerder as finansiële of persoonlike gewin.

Dit is treffend geïllustreer tydens die interaksie wat Cassie Carstens op die suidelike kamp met die tieners gehad het. Ter wille van die konteks, hy het sy sessie afgesluit deur tieners te nooi om in die groot groep te kom vertel wat hulle gehoor het die Here vir hulle sê oor hulle roeping. ‘n Meisie het na vore gekom met die getuienis dat die Here vir haar bevestig het sy moet gaan natuurbewaring swot. Waarop Cassie vir haar gevra het, “En wat gaan jy vir die Here doen daarmee?”

Diensbaarheid Gemodelleer

Na alle waarskynlikheid het hierdie aspek van #imagine nie die sigbaarheid verkry wat ek daaraan wil verleen nie. Tog dink ek dis ‘n noodsaaklike maatstaf, want dit demonstreer die sukses waarmee gelowiges daarin slaag om dieselfde gesindheid van ontlediging aan te kweek wat Jesus gehad het: Om jouself te stroop van statuur en posisie en gemak en amper selfvernederend rolle aan te neem wat jou ondergeskik maak aan ander ter wille van die eer van God.

Dit was sigbaar in die rol van die vrou wat ons kosstasie se organisasie hanteer het. Christine was haar naam; sy het seker gemaak die kinders kry hulle kos, en die kos is genoeg vir almal. Haar dagtaak is egter om ander mense se huise skoon te maak, en hier het sy haar langnaweek opgegee om te kom kosgee vir kinders. Dit was sigbaar in die prentjie van ‘n hoë-profiel kerkleier wat met ‘n swartsak in sy hand deur die kinders se tente stap en hulle papiere optel. En dit was sigbaar toe twee seuns my kom vra of hulle ‘n sessie kan mis om saam met hulle nuwe vriend te kuier. “Hy het nes ons sonder ‘n pa groot geword, want sy pa het hom ook by sy geboorte gelos,” was die verduideliking, “en al is sy velkleur anders as ons s’n, verstaan ons mekaar.”

Dalk sou hierdie aspek ‘n gesprek kon word in die verdere uitrol van die #imagine beweging: slaag ons daarin om ons jongmense so te mobiliseer dat hulle Paulus se opdrag in Fil 2:5-11 toe-eien as die onderliggende motief van hulle diensbaarheid en op praktiese maniere rolle begin vervul wat hulle uit hulle gemaksones neem?

Beweging in plaas van Byeenkoms

Tydens die naweekverrigtinge is die volgende refrein herhaal: “This is not an event, this is a movement.” Die fees dien slegs as afskop van ‘n groter beweging van roeping, diensbaarheid en dissipelskap. Juis omdat dit ingestel is op mobilisering, moet #imagine se sukses ook gemeet word aan die ontwikkeling en groei van die strategiese intensie waarmee hierdie geleentheid gereël is: Is die streke gemobiliseer om kleiner byeenkomste te reël? Slaag gemeentes daarin om die energie onder hulle tieners te vertaal in nuwe kleingroepe, groter deelname en betrokkenheid, en die konkrete aanspreek van die nood in hulle onmiddellike omgewing?

Bowenal, gaan die energie kan voortduur vir – en is die groter kerkverband bereid om die logistieke steun en selfs finansies te gee – om binne die gestelde tydraamwerk van ‘n vyfjaar mobiliseringsproses vir die beweging vol te hou?

Dat die gedagte van ‘n beweging reeds vasgelê is en grond gevat het, blyk uit die volgende opmerking – wat Louis Brittz na afloop van die kampe op sy Facebookmuur geplaas het: “It is bigger than I ever thought it could be. It is more anointed than I could imagine. It is holy chaos the way revival always is. Thousands of kids thundering: We’re not ashamed of the One who saved us! Screaming ‘We will shout out your name, from the rooftops we proclaim…” Many many many gave their lives to Jesus tonight. And then this – an 18-year old asking me if he can help to organize Imagine next year. This, friends, is the birth of a MOVEMENT.”

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Chantele

    |

    Laat weet my asb wanneer is die volgende Imagine kampe vir die tieners.

    Reply

Leave a comment