{ARGIEF}

Wil julle mooi stories hoor? Ek het sommer ‘n paar om te vertel.
Op ‘n besoek aan een van die gemeentes in ons platteland meer as 400km van die Kaap af, vertel ’n vrou die volgende:
Sy het die tennisspannetjie van haar laerskool vergesel na hulle wegwedstryd op ’n buurdorp. (LW meer as 100km verder.) Toe die opponente op die baan stap, merk die twee spelertjies mekaar se tekkies op… nie oor die duur handelsmerke nie, maar oor die veters. Beide het helder neon  veters in groen, geel en oranje aangehad. Beide het ook dadelik geweet… dis KIX-veters!
Na die tyd vertel die kind dat dit vir hom so lekker was om te weet hulle behoort albei aan KIX. Dit het sommer die atmosfeer op die baan verander.
Storie nommer twee kom uit ’n dorpie in die Noord-Kaap, Petrusville. 5 Jaar gelede was daar nie sprake van ’n Kix-bediening nie. Die buurdorp, De Aar, se KIX-leidster het die Kix.Kom aangestuur na ’n onderwyseres in Petrusville en vandag is daar 200 kinders wat weekliks vergader en ’n wonderlike tyd saam beleef! Hier is haar eie woorde: “Ons het elke Woensdag ons KIX-byeenkoms en dan is daar ongeveer 200 kinders. Hulle wissel van Graad R tot Graad 7. Ons is 5 leidsters. Nadat ons saam geopen en die Here geloof en geprys het, verdeel ons en dan word die kinders op hulle vlak in die verskillende klasse bedien. Ons wil graag vanjaar vir die gemeenskap tydens Paasfees en Kersfees ‘n toneelstuk opvoer.”
Storie nommer drie is die storie van twee gemeentes. Ons almal weet hoe dit gaan… jy is al een wat alles dryf en selfs jou beste pogings trek nie so baie kinders soos wat jy gehoop het nie. Inteendeel, die kinders raak al hoe minder. Totdat jy op ’n dag die besluit neem om te stop. Jy voel nie goed nie, want jy weet iets wat gestop word, begin nie weer nie. Dit was die storie van Kraaifontein-Noord en Kathu, maar die Here blaas lewe in dooie bene! Al wat nodig was, was ’n Esegiël wat die lewe kon spreek en die bene kon versamel. Baie dankie aan Rietta en Amaria. Dis heerlik om te hoor hoe daar weer nuwe lewe uitspruit. Mag julle elke oomblik wat julle kinders na Jesus bring, geniet. Hy is lief daarvoor om hulle op Sy skoot te tel en te seën.
Kix Sinode
Onthou julle nog? Die 16de September is ons 4-jaarlikse Kinderbedieningsaamtrek. Ons tema vir die dag is: “Vat dit huis toe!” Die tema is tweeledig. Julle gaan apparaat maak om huis toe te neem en ook idees leer om kinders te help om die Bybel en Evangelie weer terug te neem na hulle huise toe.
Die kostes van die dag is R150 en gemeentes wat verder as 300km moet ry, sal met petrolgeld gehelp word. Ons begin 09:00 en sal 15:30 klaarmaak. (Hopelik mis jy dan die spitsverkeer of dalk wou jy nog ’n uur of wat by Tygervallei deurbring.)
Projek 2014: Vertel, vertel!
Ek hoop almal wat deel wil wees van die projek het nou al die “boekies” laat dupliseer en die volkleur prentjie iewers opgeplak om die kinders te inspireer. Julle kan selfs nog prentjies dupliseer en julle eie inkleurkompetisie hou. Die twee “Lourense” kan nie meer wag vir die impak wat die Zoeloe boekies in hulle bediening aan die kinders gaan hê nie.
As jy nie kans sien vir die hele fondsinsamelingsproses van boekies en kolle nie, kan jy net die kinders blootstel aan die projek en ’n bydrae vra. So het ’n paar gemeentes verlede jaar groot bydraes kon maak. 5 Gemeentes het meer as R3 000 elk ingesamel, een gemeente R10 000 en ‘n ander die mooi bedrag van R14 047.35.
Projek 2013: In die voetspore van Jesus
Die twee projekte wat op Nigerië gefokus het, naamlik “Note vir Nigerië” en “In die voetspore van Jesus”, het oor die twee jaar die mooi bedrag van R121 518 ingebring. Na ’n besoek van Dr. Johan Botha en Ds. Jaco en Christine van Eyssen aan Nigerië, is ons nog ’n stap nader om die jeugkampe van die NKST wat uit hulle sendingkantoor gekoördineer word, te ondersteun. As al die onderhandelings klaar is, sal ons oor die detail van die projek kan berig.
Ewigheidswerk
Miskien is jy ook lus om soos die vrou van De Aar weer jou bure aan te moedig of dalk is jy die een wat voel: “Ek het my tyd gehad, ek gaan nou terugstaan vir iemand anders”. Daar bestaan nie so iets by die Here nie. Ek kyk nou die dag ’n video van ’n befaamde teoloog, Dallas Willard, ’n man van diep in sy sewentigs. Toe hulle hom vra hoe hy dink oor die volgende paar jaar van sy lewe (voordat hy sterwe), wat wil hy nog bereik, het hy verontwaardig geantwoord: “Ek dink nie in sulke kort fases nie, nee, ek beplan en berei my voor vir die volgende 10 000 jaar. Alles wat ek nou doen en lees en aanleer, is deel van die volgende 10 000 jaar.”
Mag jy ook verder dink en besef die werk stop nooit, want jy is deel van iets veel groters. Dit gaan net voort al is dit op ’n ander plek.
Sterkte vir die deurmekaar 2de kwartaal. Mag julle momentum behou ten spyte van al die vakansie dae en langnaweke.