{ARGIEF}

Kinders van die Bybel:
Daar is reeds 6 ontmoetings waarin verskillende kinders van die Bybel ontmoet word, op die webblad. Teen April sal daar nog 6 nuwe ontmoetings beskikbaar wees. In die tweede helfte van die jaar gaan ons ‘n wonderlike reis saam met Paulus onderneem met 12 splinternuwe ontmoetings.
Projek 2014: “Vertel, vertel!”
Ons gaan vanjaar weer binnelands werk. Ons fokus op Msinga en Makhathini. Daar is twee wonderlike sendelinge wat ons hande sterk en beide se naam is Lourens. Die twee Lourense skryf dat hulle kleuterskole baie goed aangaan … ’n projek waarby Kix ongeveer 10 jaar gelede betrokke was!
Beide het onafhanklik van mekaar die behoefte aan Zoeloe Kinderbybels uitgespreek. Projek “Vertel, vertel!” het daarom ten doel om die Kinderbybel met dieselfde naam, “Vertel, vertel!”, deur die kinders in elke huis te plaas.
Die insamelingsmetode is ook in die vorm van ʼn boekie. Jy kan ʼn voorbeeld van so ʼn “boekie” van hierdie webbladsy aflaai. Dis eintlik net ʼn A4 wat gevou word. Aan die binnekant is daar sirkels wat geldmunte verteenwoordig. As ʼn kind ʼn R5 op elke sirkel kan plak, betaal dit ʼn boekie. Neem egter die geld in en plak net ʼn plakker vir elke munt wat jy kry. ʼn Wonderlike plan sal wees as julle ʼn inkleurkompetisie hou met die boekie se voorblad. Julle kan self besluit hoe julle die kompetisie wil hou en watter pryse op die spel is. Hulle inskrywingsgeld is dan die boekie se geld.
Julle is natuurlik welkom om ʼn foto van die wenner(s) se inkleurprentjie vir ons te stuur sodat ons dit in die Kix.Kom kan plaas. Enige kinderbediening is welkom om op hierdie manier geld in te samel vir hierdie groot behoefte. Indien julle meer inligting daaroor wil hê, kontak Sharon by die jeugkantoor (021 808 9050).
Die projekliedjie kan ook afgelaai word. Dis ‘n wmv-video met die musiek en woorde.
Ons hou vanjaar weer Kix Sinode.
Boek asseblief die datum van 16 September 2014. Ons   kuier een hele dag by Stellenberg en vanjaar se tema is: “Vat dit huis toe!” Dit sinspeel op twee aspekte:
1. Ons gaan nadink oor hoe ons kinders as die draers van die goeie nuus kan toerus. Soveel ouers glo nie meer nie en omdat ons baie keer kinders bedien wat nie gelowige ouers het nie, wil ons hulle graag toerus om by die huis hulle verhouding met Jesus uit te leef. Hoe bemagtig jy klein kindertjies om die boodskap van Jesus in hulle huise in te dra, om die gesin weer te laat Bybel lees of om oor Jesus te praat? Dit sluit ook aan by ons tema: “Vertel, vertel!”.
2. Die ander betekenis van die tema is dat julle hulp-middels vir die kinderbediening daar en dan gaan maak en huis toe neem. Dis hulpmiddels wat julle sal help met die metodiek wat ons in die ontmoetings toepas.
Al die inligting van hoe julle registreer en die kostes verbonde aan die dag, sowel as reiskostes waarmee ons kan help, sal in die volgende Kix.Kom wees. Onthou – dis ook ons geleentheid om die kinderbediening aan meer mense bekend te stel. Bring soveel as moontlik mense uit jou streek saam!!