{ARGIEF}

Ons hier by Kix is baie opgewonde, want die Here het dit so beskik dat ons droom om Kix se arms so wyd as moontlik te strek op nog ’n manier waar geword het. Ons is dankbaar om te sê dat die NG Kerk en die VGK se kinderbedieninge nie-amptelik verenig het. Ons werk saam, beplan saam en ontwikkel saam ons materiaal. Al die kerkorde prosesse moet nog sy loop neem, maar die eenheid tussen gelowiges wat op kinders fokus, kan nie gekeer word nie.
Kix Sinode
Ons is baie opgewonde oor die heerlike Kix Sinode dag wat ons op 16 September gehou het. Ons was meer as 100 mense bymekaar en die energie was opbouend en inspirerend. Mense wat in kinderbediening betrokke is, is oulike mense!! Ons beleef regtig dat die Here ons lei om ons kinders agente vir die Koninkryk van God te maak. Ons het al hoe meer te doen met kinders wat nie meer uit gelowige ouerhuise kom nie … al sê ons nuutste statistiek dat meer as 84% aandui dat hulle die christelike geloof aanhang. Daarom moet ons ons kinders bemagtig om die goeie nuus van Jesus na hulle ouers te neem. Ons het van baie oulike idees kennis geneem. Kortliks het dit neergekom op drie vaardighede waarmee ons kinders kan help om te beleef dat die Here goed is (Ps 34:9). Die gebruik van besempoppe, viltborde en sandbokse het nuwe dimensies in die aanbieding van ’n Bybelse storie oopgebreek. Ons het geleer dat ’n verweerde mop, ’n leë toiletrol en ’n ou bakplaat wonderlike hulpmiddels kan wees. As jy meer wil weet – daar is ’n video van die dag gemaak wat jy kan bestel by Pauline Matthee (084 593 0700 of paulinematthee@webmail.co.za).
Ons het ook saam gedink oor hoe ons kinders die evangeliste in hulle huise kan laat word. Hoe help ons kinders om die evangelie huis toe te neem? Ons het vrae en speletjies, rituele en Bybelse hulpmiddels leer ken. Die volledige dokumente hiervan sal binnekort ook op die webtuiste beskikbaar wees.
Ontmoetings temas vir 2015
Ons het besluit om vir die kinders oor die volgende drie jaar ’n groot prentjie van die Bybel te gee. Ons het agtergekom dat kinders bv. nie weet dat Moses voor Jesus was en Paulus nie een van die aartsvaders is nie. Ons gaan die groot prentjie in die vorm van ’n storie vir die kinders vertel: “Die groot storie van God met die mense”. Elke week kan die leidsters dan die volgende hoofstuk in die storie vertel. Ons gaan die klassieke Bybelverhale in kronologiese volgorde aanbied sodat kinders kan verstaan hoe die storie van Adam lei na Abraham, hoe Israel se geskiedenis verloop tot die koms van die Messias en die era van die kerk (wat daarna aangebreek het) ontdek.
Projek vir 2015
Die afgelope jare het ons verskeie projekte in Malawi, Mosambiek, Nigerië en weer terug op eie bodem by Msinga en Makhathini gehad. Die een land waarby ons egter lanklaas betrokke was, is Zimbabwe. Soos die Here se voorsiening is, het Dr. Kobus Odendal juis onlangs die Sinodesitting van Zimbabwe bygewoon en so het ons op hierdie opwindende projek afgekom. In die ring van Morgenster is daar 5 gemeentes en hulle het ’n baie groot behoefte aan nuwe materiaal vir hulle Sondagskool. Hulle ou materiaal het onvanpas geraak en die toestand van die bestaande materiaal is so sleg dat dit nie meer gebruik kan word nie. Die ring van Morgenster wil baie graag die materiaal in vennootskap met Kix ontwikkel en laat druk sodat dit aan al 75 gemeentes in Zimbabwe beskikbaar gestel kan word. Dr. Kobus Odendal skryf baie opgewonde oor die projek: “Ons gaan leer van hul baie mooi land, sy ou skatte en sy taal. Ons gaan hoor hoe die Evangelie meer as 125 jaar gelede by hulle gekom het. Hulle gaan vir ons vertel hoe lyk hulle omgewing en hulle huise. Ons gaan by hulle hoor wat Jesus vir hulle beteken. Ons gaan sommer ook ooms en tannies uit Zimbabwe, wat op ons eie dorp bly, ontdek. Miskien nooi ons maatjies uit Zimbabwe ons om vir hulle te gaan kuier.”
Ons is dankbaar dat dit lyk of KIX ook amptelik na die Noord-Kaap en die Oos-Kaap versprei. Ons is so bemoedig dat die Here KIX wil gebruik om kinders van sy liefde bewus te maak. Kom ons neem die Kix.Kom, die webwerf en die Facebook-bladsy en gaan inspireer ander lidmate om te gaan dien by ’n bewaarskool of kleuterskool.
Van volgende jaar af sal die Sonstraaltjie se logo ook deel wees van Kix.Kom. Kom ons volg die beweging wat die Here gee en deel in die energie.