{ARGIEF}

kixIs julle gereed vir die “nog vinniger hardloop”-kwartaal! Die laaste kwartaal het mos ’n manier om tussen al die jaareindgeleenthede so vol te raak dat jy 2 keer by jouself verby kan hardloop sonder om een keer te groet. Ek het so 2 jaar gelede ontdek dat die rede hoekom ons die Here as ver beleef eintlik net ons eie skuld is! Die Here belowe om altyd by ons te bly (Matt. 28:20), maar die probleem is, ons is so aan die hardloop dat ons nie altyd by onsself is nie! As ons die moeite doen om ons gees weer in ons liggaam te laat tuiskom, sal ons die Here naby ons beleef. Die beste manier om dit reg te kry, is deur te stop en stil te word. Mag jy die insig kry om die kwartaal gereeld stil te hou en vir jou gees te wag deurdat jy die seëninge van stilte vir jouself ontsluit.
Met die Kersgety wat om die draai is, het ons dit goed gedink om patrone te verskaf vir vingerpoppies waarmee die hele Kersverhaal vertel en uitgespeel kan word. Geniet die maak en gebruik daarvan. (Laai dit gratis af op hierdie webtuiste.)
Ontmoetings vir 2016
Ons gaan volgende jaar voort met ons driejaar reeks: “God se groot storie met die mens”. Ons begin by Rigters en werk deur tot by Nehemia. Ek dink die kinders gaan dit baie interessant vind om ook minder bekende karakters te leer ken en die geskiedenis van Israel en Juda beter te verstaan.
Projek 2016
Die een ding waarvan ons almal by KIX kan getuig, is dat die Here ons baie duidelik lei. Ons het soos gebruiklik weer die Getuieniskantoor gekontak oor moontlike projekte vir 2016. Intussen het iemand (soos my kinders sal sê: ’n “random” persoon) by ’n vergadering vertel van ’n projek waarby ’n gemeente betrokke is. Die Getuieniskantoor het na ’n paar weke teruggekom en gesê dat daar nie een duidelik projek is wat uitstaan en waaroor hulle vrede kry nie. Die projek van die spesifieke gemeente het egter ’n wonderlike energie op die vergadering laat ontstaan en die verbeelding op loop gesit.
Die belangrikste is dat ons na ’n baie lang tyd weer ’n plaaslike projek het. Ons het egter ook nie net een sentrale projek en begunstigde vir die projek nie, maar ons het ’n fokus wat in elke gemeenskap uitspeel. Die fokus is Robot-bedelaars (of dalk in jou omgewing: “stop-straat-bedelaars”).
Die projek se naam is die Otjie-kos Projek”.
Ons gaan “otjies” (spaarvarkies) kos gee en so ons robot- of te wel verkeerslig-bedelaars help. Ons projek het 4 afdelings:

  • Bewusmaking en opvoeding
  • Fondsinsameling
  • Vennootskappe en
  • Oombliklike noodverligting.

Die bewusmaking en opvoeding gaan ons doen deur ’n inligtingsblad op te stel waarin ons baie goeie raad kry oor die manier hoe ons oor robot-bedelaars moet dink en hoe ons op ’n verantwoordelike manier kan optree.
Die fondsinsameling gaan ons doen deur ’n “otjie” te maak met ’n gleuf in (ja, die regte spaarvarkie). Elke keer as ’n bedelaar by jou bedel, gooi jy ’n munt in jou varkie/otjie. Dis waar die naam “Otjie-kos Projek” vandaan kom. Ons sal in die eerste uitgawe van 2016 vir julle presies wys hoe om die “Otjies” te maak en te gebruik.
Met vennootskappe wil ons twee soorte organisasies identifiseer… ’n plaaslike en nasionale organisasie. (Die UK sal die nasionale organisasie identifiseer en elke gemeente/Kix vind ‘n eie plaaslike organisasie.) Die geldjies wat ingesamel word, word dan tussen die twee verdeel. Die nasionale organisasie se geld stuur julle na die jeugkantoor en die plaaslike een hanteer julle self.
Die oombliklike noodverligting gaan in die vorm van ’n “share a meal” konsep geskied. Ons is in onderhandeling met ’n maatskappy en sal in 2016 die aap uit die mou laat as alles gefinaliseer is.
Wees ook ambassadeurs vir die Kinderbond en Kix en vertel so ver as wat jy kom van die hulp wat daar is om die kinders in julle gemeenskap (veral by die bewaarskole) te bedien met die liefde van Jesus.
’n Mens wat kan wag, is ’n slim mens. ’n Mens wat kan wag as almal rondom jou jaag, is wys daarby!
Wees hierdie kwartaal ’n wyse mens en kyk na jouself!