Alles wat asem het, loof, loof die Heer

Written by Frederick on . Posted in Leesrooster

Jesus sê in Matt. 22: 37

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.”

Met lofprysing gehoorsaam ons die grootste gebod, want daarmee sê ons vir God: “Ek het U lief, O, Heer.”

Net soos Maria in Betanië haar Here se voete met die kosbare Nardusolie gesalf het, net so salf ons in die Gees ons Here se voete met die geurige olie van lofprysing.

Die drie aromatiese bestanddele van lofprysing is:

Lof, dank, aanbidding.

  • Ons loof Hom omdat Hy goed is, omdat Hy die enigste, ware, lewende, oppermagtige en alwyse God is. Ons loof Hom vir Sy liefde waaraan daar geen einde is nie.
  • Ons dank Hom vir Sy skepping, dat Hy ons gekies het om deel daarvan te wees, vir al Sy weldade en genadegawes, Sy nimmereindigende seëninge en Sy groot, reddende Verlossingsdaad.
  • Ons aanbid Hom deur die knie te buig in stille ootmoed en eerbied voor Sy goddelike glorie, goddelike majesteit en goddelike heerskappy, terwyl ons die Grootheid van Sy Almag met bewondering en verwondering in ons hart bedink.

Wie moet God loof en prys?

“Alles wat asem het, loof, loof die Heer!”

Mense, diere op die land en in die see, voëls, insekte en plante.

Die psalmdigters beweer selfs met beeldspraak en personifikasie dat nie net alles wat asem het nie, maar alles wat God geskep het, die Here loof.

Hoe moet alles wat asem het, die Here loof?

God stel nie voorwaardes en eise aan die lofprysing van Sy skepsele nie. Alles wat asem het, loof die Here deur slegs met blydskap te wees waarvoor hulle geskape is.  Ons moet elke dag ons asem-wees met vreugde vier, want daarmee juig ons voor God: “Ek lewe!”

In Ps 8 sê Dawid:

“Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het.”

Wie is vroliker as ‘n kind? Wie lag lekkerder as ‘n baba?

Ps 148:

“Prys die Here vanuit die aarde; jong manne en meisies grysaards saam met jeugdiges.

Wie waardeer nie die krag en skoonheid van die jong man en meisie nie?

Grysaards lewe hul geloof en deel hul lewenswysheid uit.

Jeugdiges storm met oorgawe borrelend en bruisend deur hulle lewensdae.”

In Ps 148 word ook die son, maan, sterre, weerlig, hael, stormwind en vrugtebome opgeroep om die Here te prys.

Watter boer kon nog nie God loof vir sy vrugteboord in volle drag nie?

‘n Perskeboord in bloeiselprag bly ‘n lus vir die oog.

Met groot ontsag aanskou en ervaar ons die krag en mag van weerlig, hael, stormwind, water en vuur.

Ps. 98 sê ook:

“Die aarde en alles daarop moet juig
Die riviere moet hande klap.
Die berge moet juig.”

Die riviere se kabbelig is hul handeklap in applous vir God se skepping. In hul applous juig die berge staande in hul glorieryke majesteit met hul sneeukrone bekleed.

Daar moet ‘n bloudruk van lofprysing aan die Skepper in die wese van alles wat asem het, ingebou wees, want wat anders kan ‘n kanarie dring om agter die tralies van sy klein koutjie uit volle bors ‘n jubelsang te lewer?

Het julle al die sierlike lugvertoning van ‘n swerm swaeltjies op ‘n stil somersaand aanskou? Hulle swenk en swaai gelyk in gelid en met die fynste presisie kan hulle op volle spoed gelyk omkeer en van rigting verander, steeds in gelid.

Hoe kry hulle dit reg? Wie gee die bevele? Hoekom doen hulle dit? Hulle is nie op trek nie, soek nie kos nie, bou nie nes nie. Hulle loof hul Skepper deur met vreugde hul swaeltjie-wees te vier! En wat van ‘n skool visse wat uitgelate en lewensbly uit die see spring om net vir ‘n oomblik die son op hul blink lywe op te vang voordat hulle weer in die water terugplons?

Is dit nie suiwer lof aan die Skepper nie?

God stel geen eise aan ons vir ons lofprysing nie en ons mag geen eise aan God stel nie.

Ons mag nie sê: “Here as U my genees, sal ek U die res van my lewe loof en prys of, Here, as U my huwelik red, sal ons altwee U elke dag loof en prys nie.”

Wil God nie hê ons moet Hom loof en prys vir wat ons oor het nadat ons verloor het nie?

Dink maar aan Grieta Kemp in die siekeboeg van Huis Formosa.

Sy sit in ‘n rystoel, maar vol blydskap babble sy vrolik voort.

Sy sê die Here het haar voete aangeraak, maar nie haar hande nie, en daarmee sal sy doen wat sy kan.

En wat kan sy nie! Sy vertroetel die bedlëendes met ‘n lekkernytjie wat sy hul self voer – ‘n stukkie sjokolade hier, ‘n beskuitjie daar. (alles is binne hul dieetvoorskrifte natuurlik).

Sy waak met deernis soos ‘n Florence Nightingale oor hulle en verrig met liefde klein takies waarvoor die besige personeel geen tyd kan spaar nie, soos bv. hul benodigdheidjies by die CMR winkeltrollie te koop en af te lewer. Sy hou ook noukeurig boek van hul geldjies in hul beursies.

Ek het al by geleentheid vir haar gesê: “Grieta, die Here sal jou seën.”

Toe antwoord sy: “Hy seën my al klaar so baie. As Hy my nog moet seen, sal dit te veel wees.”

Hoe loof sy nie die Heer deur net elke dag Grieta met blydskap te wees nie!

Voel ons vanaand dalk ver van lofprysing af?

Wil ons saam met Dawid in Ps. 13 uitroep:

Hoe lank sal U my bly vergeet, Here?

Vir altyd?

Hoe lank moet ek elke dag deurbring met droefheid in my hart?

Tog loof ons God deur ons na Hom te wend in ons nood en te bely: U is my enigste hulp en troos, die grootste Geneser, die sterke Verlosser.

Jesaja 42:10 nooi ons egter:

“Sing vir die Here ‘n nuwe lied.”

Kom ons skuif ons klaagliedere ‘n bietjie opsy en sing vir die Here ‘n lied van lofprysing en aanbidding om ons liefde aan Hom te betoon. As lofprysing opgaan, kom seën af.

In Ps 91: 14 gee die Here ‘n wonderlike woordbelofte aan ons:

“Omdat hy my liefhet sal ek haar red, sê die Here.”

Mag elke vrou se huis deurtrek word met die geurige olie van haar lofprysing wat soos ‘n wierookoffer elke dag opstyg en mag die Here se onbeskyrflike vrede en seen soos ‘n lieflike, sagte, milde reën op haar huis neerdaal.

“Alles wat asem het, loof, loof die Heer!”

Trackback from your site.

Leave a comment