Die inhoud van die Leesrooster

Written by webmeester on . Posted in Argief

Die Leesrooster kombineer/integreer drie belangrike lyne:

  1. Die kerklike jaar met die gepaardgaande simboliek;
  2. Die sewe geloofsgewoontes;
  3. Die verskillende stasies of fases van die luistersiklus.
3.1 Die Kerklike Jaar

Die RCL (Revised Common Lectionary) met sy fokus op die seisoene van die kerklike jaar vorm die basis en struktuur vir die Leesrooster. Ons lees die tekste saam met die RCL en volg die seisoene vanaf Advent tot Koninkrykstyd. Die Leesrooster-tekste (in aansluiting by die RCL) sluit tematies by die seisoene van die kerklike jaar aan en fasiliteer sodoende die vertelling van God se heilsplan. Aan die hand van die kerklike seisoene word die meester-verhaal van God se betrokkenheid by die mens en wêreld jaarliks vertel.

Die seisoene van die kerklike jaar sluit sinvol aan by die luistersiklus en word in die leeshulpe veral gebruik om die fokus op – en rus by God – te fasiliteer. Die tweede stasie van die luistersiklus is die ingaan in God se tyd. Die fokus is op God se eiesoortige tyd, soos verteenwoordig deur die seisoene van die kerklike jaar. God se tyd konfronteer ons met sy werklikheid binne ons geskiedenis. Soos reeds hierbo aangedui, is daar by elke dag ’n oefening vir stilword by God.

3.2 Luistersiklus

Die siklus bestaan uit drie bewegings met agt stasies. Die drie bewegings beklemtoon verskillende fases van die lees en luister proses.

Die eerste fase is dié van rus. Dit bestaan uit twee stasies: ingenooi deur God & ingaan in God se tyd, met die klem op voorbereiding om God te ontmoet.

Die tweede fase is dié van hoor, met die fokus op luister na die Woord, na mekaar en na die omgewing. Die tweede fase bestaan uit vier stasies: luister na God se Woord; luister na mekaar; luister na ander en die tye & luister weer na God se Woord.

Die derde fase is dié van leef, waarin dit gaan om die uitvoering van die Woord in antwoord op wat God vir jou bekend gemaak het. Die derde fase bestaan uit twee stasies: fokus op wat God nou doen & antwoord met ons lewe.

Die agt stasies van die luistersiklus is:

  • Stasie een – ingenooi deur God, beklemtoon dat God ons uitnooi om in sy teenwoordigheid te verkeer. Hier dink ons oor waarmee ons na God toe kom en wat ons van hom verlang.
  • Stasie twee – ingaan in God se tyd. Dit raak die seisoene van die kerklike jaar. Ons raak bewus van God se ruimte en wat dit nou vir ons beteken. Hier kan twee geloofsgewoontes ter sprake kom. “Ons gebruik simbole” wat help om ons geloof in stand te hou en “Ons vier fees” oor die geloof in God drie-enig en wat Hy in elke seisoen van homself aan ons openbaar.
  • Stasie drie – luister na God se Woord laat ons op die teks fokus en daarmee worstel. Dié stasie van die luistersiklus stem ooreen met die sewende geloofsgewoonte “Ons ontmoet God”, wat die Bybel saam met ander wil lees om dit nuut te verstaan.
  • Stasie vier – luister na mekaar. Ons wil hoor wat God vir ander deur die teks gegee het en dit as woord ontvang. Hierdie stasie bevat elemente van die geloofsgewoonte “Ons vertel stories” wat na ons verhaal kyk om mekaar te help om die uniekheid daarvan te ontdek.
  • Stasie vyf – luister na ander en die tye. Hiermee betrek ons diegene wat nie teenwoordig is nie en probeer dink hoe hulle die teks sou hoor. Die geloofsgewoonte “Ons vertel stories” is weer toepaslik. Nog ’n geloofsgewoonte, die van “Ons droom saam” is hier toepaslik. Ons wil mekaar help dink oor watter tipe mense ons wil wees.
  • Stasie ses – luister weer na God se Woord. Nou luister ons nuut na die teks en kyk weer na alle perspektiewe. Raak bewus van hoe die teks jou ruk of troos. Die geloofsgewoonte “Ons ontmoet God” is relevant.
  • Stasie sewe – wat God nou doen. Dink na oor moontlikhede wat God vir jou ontsluit het in die tyd met die luistersiklus. Dink na oor waar jy tans vir God sien werk en waartoe Hy jou roep om betrokke te raak en nuwe geleenthede te ontgin.
  • Stasie agt – antwoord met ons lewe. Ons dink nou aan konkrete moontlikhede oor hoe ons die genade wat God vir ons gegee het kan uitleef of aan ander gee. Hoe kan ons mekaar ondersteun? Op dié punt is drie geloofsgewoontes toepaslik. “Ons droom saam” om duidelikheid te kry oor watter tipe mens ons wil wees. “Ons reik uit” en besluit om by mense in nood betrokke te raak. “Ons maak tyd vir mekaar” en besluit om ons dagboeke, begrotings en horlosies in te stel met wat ons sê ons glo.
3.3 Waardes van die luisterseisoen

Die luistersiklus is gebaseer op die oortuiging dat ’n luisterende kerk volgens vier waardes leef: Leerbaarheid; Vertroue; Deernis; Openheid.

  • Leerbaarheid beklemtoon dat ons nooit alles wat God vir ons wil gee en leer, klaar ontvang en verstaan nie. Dié waarde wil ons aanmoedig tot ’n bereidheid om altyd weer na God te luister en sy Woord ernstig op te neem.
  • Vertroue beklemtoon die noodsaaklikheid van ’n ruimte waarbinne mense mekaar met integriteit kan ontmoet en teenoor mekaar oopmaak. Dit beklemtoon ook ons fundamentele houding teenoor God. Dié waarde wil ons aanmoedig om ’n geloofsgemeenskap van karakter te wees waarbinne mense die lewe met vertroue met mekaar kan deel.
  • Deernis beklemtoon God se onuitspreeklike barmhartigheid en selfprysgawe ter wille van ons. Dié waarde wil ’n lewensbenadering van ontfermende liefde, sorg en barmhartigheid teenoor ander aanmoedig.
  • Openheid beklemtoon die aanvaarding van en oopstelling teenoor ander mense. Dié waarde wil ons aanmoedig om onsself oop te stel vir ander mense en hul uniekheid, asook vir die nood van die breër wêreldgemeenskap. Die waarde van openheid sê dat daar rykdom is in verskeidenheid. Dit moedig ook ontvanklikheid van diversiteit aan.

Hierdie waardes vorm deel van ’n Bybelse wêreldbeeld. Dit vorm ook die basis van ’n Christelike lewenshouding wat help om karakter te ontwikkel. Wanneer die luistersiklus se metode van luisterende lees toegepas word, is dit belangrik om by die verskillende stasies na te dink oor hoe hierdie waardes ter sprake kan kom en waar jou eie karakter nog ontwikkel kan word. Waardes pas by die geloofsgewoonte “Ons droom saam”, waar ons mekaar help om duidelikheid te kry oor watter tipe mense ons wil wees. Die waarde van deernis pas byvoorbeeld by die geloofsgewoonte “Ons reik uit” met sy fokus op betrokkenheid by mense in nood.

Die belangrikheid van waardes in die ontwikkeling van gemeenskapsidentiteit word al hoe meer besef. Die Heartlines Massa Media Projek, wat ’n nasionale debat oor ’n menswaardige samelewing in Suid-Afrika wil stimuleer, gebruik hierdie waardes as uitgangspunt. Hierdie projek fokus op die agt waardes: aanvaarding, verantwoordelikheid, vergifnis, volharding, deernis, eerlikheid, selfbeheer en genade. Tans word die belangrikheid van waardes ook deur die International Transformation Network beklemtoon. Intussen ontwikkel Character Counts SA uitstekende materiaal en verskaf ook opleiding. In die luistersiklus se derde beweging, wat op leef fokus, moet ons ook hierdie breër debat in ons land onthou.

Trackback from your site.

Leave a comment